Ons praat met

Obie Oberholzer en sy kiekies

Sy offbeat en kleurryke werk vertel stories oor die ietwat vreemde, alledaagse en soms snaakse tonele waarin hy hom vasloop op sy reise. Sy lens neem jou saam op sy kyk-reis. SARIE-fotograaf Phyllis Green het met hom oor kiekies en kameras gesels.

Waarom noem jy die uitstalling Strong Man?
Tydens die laaste jaar van die vorige eeu het ek op ‘n foto-projek vir die Tanzaniese Brouerye gewerk. Die Afrika-gode het vir ons geglimlag gedurende daardie drie weke. Die advertensieveldtog moes wys dat Safari Laager na elke bierliefhebber in Tanzanië gebring kon word – maak nie saak hoe afgeleë/geïsoleerd hulle was nie. Die trok het saamgereis. Ná elke fotosessie het die span ‘n paar koue Safari’s geniet en heelhartig beaam: “Tanzanian Breweries delivered your beer – come what may.” Die ou wat die trok bestuur het en ons bier gebring het, is Strongman genoem, want niemand kon sy regte naam uitspreek nie.

Film teenoor digitaal: Jy is bekend vir die unieke manier waarop jy met kleur werk. Hoe het die skuif na digitale fotografie jou tegniek beïnvloed?
In 2007 het dit toenemend moeiliker geraak om kleurfilm, -papier en chemikalieë te kry. Eendag het ek uit my kleurlaboratorium gestap, die deur toegesluit en die sleutel weggegooi. Die volgende dag het ek geheel en al oorgeskakel na digitaal. Op 60 het dit my loopbaan regtig verjong. Alles is vinniger en die toerusting ligter en met Photoshop daarby . . . selfs makliker. My styl van foto’s maak, het dieselfde gebly.

Werk jy nog enigsins met film?
Film? Jammer, wat is dit nou weer? O, film!!! Uit die prehistoriese, dinosourus-tye.

Reis jy nog baie?
Ek reis steeds uitgebreid deur Suider-Afrika en is altyd hoopvol die Safari Laager-trok sal in my truspieël opduik. Ek moes die Afrika-gode vies gemaak het, want ek sien net stof agter my. Ek is stadigaan besig om ‘n versameling foto’s op te bou vir ‘n nuwe koffietafelboek genaamd Diesel & Dust. As ek ooit weer daai biertrok vind, sal dit seker tydens ‘n donderstorm wees. As dit gebeur, verander die titel na The Mud, the Blood & the Beer. Dalk ‘n goeie titel vir ‘n land wat verskroei word deur droogte en geweld.

Gunsteling-bestemming?
Beslis Fokkolfontein. Om dié plek in die noordwestelike Gramadoela Provinsie af te neem, is (en was) ‘n ware uitdaging. Ry jy met die hoofstraat af, kan jy nie die paar mense en winkels deur die stof sien nie. Die stof gaan eers ná twee dae lê. Net wanneer jy ‘n lekker foto van oom Jurie en sy maters voor die Fokkolfontein Hotel Bar opgestel het, jaag ou Barry Barend in sy warmgemaakte 1963-Ford Thunderbird verby. As jy weer ná twee dae terugkom, hoor jy oom Jurie en sy maters is by die begrafplaas net buite die dorp, tussen die laaste huis en die lokasie. Hulle lê ou Barry Barend ter ruste, wat ongelukkig ‘n haak-en-steek net buite die dorp getref het. Hulle kon hom nie uit sy Ford Thunderbird kry nie en begrawe nou maar die verfrommelde wrak met hom steeds binne-in. Almal het gereken dit gee ‘n nice touch.

Jou gunsteling-foto wat jy geneem het?
Die heel eerste foto wat ek ooit geneem het. In 1958 het my ma my Europa toe gevat, want ek was besig om beenaf te raak op Saartjie, wat op die buurplaas gewoon het. In die Italiaanse stad Pisa het ek ‘n foto geneem met ‘n ou Kodak Twin-lens Reflex-kamera, sodat die leunende toring van Pisa regop staan, wat gemaak het dat al die ander geboue lyk of hulle omval.

Voel jy daar is een foto wat jou steeds ontwyk en waarna jy nog soek?
Beslis! Om “Strongman” met sy trok te pose voor die Fokkolfontein Hotel Bar tydens ‘n donderstorm . . .

As jy na die wêreld rondom jou kyk, is dit asof jy altyd deur ‘n kameralens kyk?
Ek tower altyd (soms selfs sonder my kamera) visuele beelde op, los fotografiese en komposisie-probleme op, soek na interessante angles en oogpunte. Die kamera is net die gereedskap wat die foto moontlik maak. Dis soos ‘n tandeborsel – dit doen die werk.

Hoe wil jy onthou word?
As die ou wat die biertrok om ‘n draai net buite Fokkolfontein laat gly het en toe in ‘n oorspoelde donga op ou Barry Barend se plaas beland het. Sy lande lê onbewerk sedert die dag toe hy in daai Acacia Tortilis vasgejaag het. Dan stap ek, bebloed en vol modder, met twee yskoue Safari’s die dorp in onder luide toejuiging van die dorpsmense.