ockert6989
Ons praat met

Okkert Brits, die Goliat van Survivor SA, is uitgestem. Hy praat met sarie.com

Dit het met die laaste twee episodes gelyk of jy moedeloos was. Was dit omdat jy geweet het jy gaan moontlik uitgestem word?
Die speletjie het vir my belaglik geraak ná die merge, toe ons mekaar moes beoordeel van sterkste na swakste. Ons stam het so hard gewerk om die een uitdaging na die ander te wen, maar toe ek gekies is as die sterkste deelnemer, het ek gevoel al die harde werk was verniet omdat daar nou ’n teiken op my rug was. Ek was ook moedeloos toe Hanna uitgestem is. Dit was net geluk dat Louw haar gewen het. Ek kon daardie aand nie slaap nie omdat ek so kwaad was. My rug was skoon in ’n spasma die volgende dag.

Was jy voorheen ’n Survivor-aanhanger?
Ek het die eerste Survivor-reeks gekyk. Al wat ek geweet het, is om nie my kop te veel uit te steek nie. Maar ek moes hard speel nadat Christina Storm en Jub Jub besluit het om die eiland te verlaat, want toe het ons stam minder lede as Timbila gehad. Ek moes iets doen om die ‘mighty Timbila’ grond toe te bring.

Dit het gelyk of jy Survivor soos ’n wêreldkampioenskap aangepak het.
Ons stam sou net die uitdagings wen as ons in mekaar geglo het. In sport moet jy die geloof hê dat jy gaan wen vóór jy kan wen. Ná ons die eerste uitdaging teen Timbila gewen het, kon ek die vuur in ons stam se oë sien. Hulle het gegló.

Het jy baie gewig verloor?
Ek het 12 kg verloor. Ek’t die meeste gewig van al die deelnemers verloor. Jis, ons het hard gewerk! Ek was gaar teen die tyd wat ek uitgestem is. Al wanneer ek stilgesit het, was die tye voor ’n uitdaging of voor tribal council. Die res van die tyd het ek gewerk. Ek kon nie my hande in die oggende oopmaak nie omdat dit seer was van al die stokkies wat ek vir die vuur gebreek het.

Het jy vermoed jy gaan uitgestem word?
Alles was so deurmekaar. GiGi, Gys en Izak se name is genoem om moontlik uitgestem te word. Ek wou nie gaan nie. Selfs toe ek voor Nico gestaan het, het ek geglo ek gaan teruggaan eiland toe. Ek het gedink M-Net gaan ’n curve ball gooi en my terugsit in die speletjie. Ek mag my baard vir drie dae daarna nie geskeer het nie. Dít het my laat dink ek gaan teruggaan, maar toe was dit net omdat ek nog foto’s moes laat neem.

Ongelukkig tel jou krag uiteindelik teen jou in ’n speletjie soos Survivor.
Ek wou nie ná die merge sterk voorkom nie. Met die uitdaging waar ons met ’n bal op ’n ring moes hardloop, het ek probeer verloor, maar toe die ander twee spanne verby gehardloop kom, het iets in my kop gekliek. Ek’t vir my span geskree: ‘Hardloop!’ en toe wen ons. As jy weer na daardie episode kyk, kan jy op my gesig sien ek is spyt ons het gewen. En die beloning was nog kos ook! Die ander mense was glad nie gelukkig nie. Toe ons ná die ete teruggaan na die kamp toe het van die mense vir my gevra: ‘So, was jou steak medium of medium rare’?  Ek’t gedink ag, dis nou verby.

Toe jy die deelnemers vir die eerste keer op die eiland gesien het, wie het jy gedink gaan jou opdraande gee?
Ek was bekommerd oor Louw. Ek kon sien hy weet hoe Survivor werk. Gys is ook ’n man wat kan werk. Ek het besef ek moet versigtig wees vir hom. Ek was ook bekommerd oor Izak. Hy is superfiks en tien jaar jonger as ek.

Watter vrou het jou verras?
GiGi. Toe ek hoor ’n stripper kom saam, het ek gedink sy gaan eerste waai.Ek’t gedink sy gaan soos ’n poppie rondtrippel, nie sonder haar grimering en skoentjies kan klaarkom nie en gaan dink al die boys sal van haar hou. Maar what a girl! Sy’t haar ding gedoen. Sy’t hard gewerk en haar sê gesê.

Wat was ’n groot uitdaging?
Om nie my humeur te verloor nie. Ek wou myself nie voor die kameras in die verleentheid stel nie. Sodra ek gevoel het ek raak kwaad, het ek iets gedoen om my aandag af te lei. Dis hoekom ek so hard gewerk het.

Wat dink jy van Izak?
Ek is mal oor Izak. Hy’s ’n goeie ou. Ek is net so mal oor Louw. Hy’t aan die heel begin, toe ons oor die duine moes loop, na my toe gekom en gesê: ‘Ek en jy. Kom ons vorm ’n alliansie.’ Kyk hoe het dinge verander. Ek wonder nou nog wat sou gebeur het as ons ná die merge saamgewerk het.

Het jy enige insigte op die eiland gekry?
Die wêreld waarin ons leef, maak ons swak. Kyk net hoe moeilik is dit om ‘n dieet te volg omdat kos so vrylik beskikbaar is. Jy kan net yskas toe loop en iets uithaal om te eet. Dissipline is ’n tawwe ding. Dis die nommer-een-ding wat vandag kortkom.

  • Lynette

    Ockert, ek is een van baie mense wat regtig spyt is dat jy uitgestem is! Jy was een van die oulikste Survivors nog! Nooit jou humeur verloor nie en die speletjie uitstekend gespeel. Die show gaan beslis vervelig wees sonder jou en nou is daar geen meer ware MANS oor in Survivor nie!!!! You Go!

  • vanessa

    Ek moet sê ek het nie baie van Okkert gehou voor ek Survivor gekyk het nie, maar nou vra ek met alle respek onverskoning vir Okkert – jy is na dese ñ ware heer in my oë. Ek stem met Lynette saam – Survivor gaan nou nie meer dieselfde wees sonder jou nie, want al ware MAN wat nou oor is, is Gys. Dankie vir die mooi voorbeeld wat jy gestel het, ons het meer mans soos jy in ons samelewing nodig!

  • elize

    Dit is so jammer dat jy uit is – jy was die een waarop ek my geld en hoop geplaas het. Dankie dat jy bo alles steeds ons "idol" is en dat jy almal gewys het wat ‘n ware man is en waartoe hy instaat kan wees. Jou gesig was effe verdwaas gewees, ek dink nie jy kon self glo dat jy uitgestem is nie – maar onthou vengance is mos sweet!

  • Jane

    ek is ook een van die mense wat NIKS van Okkert gehou het voor Survivor nie, maar ek sal ook amptelik om verskoning vra .. Ek het altyd gedink hy is ‘n softy . maar nadat ek hom in lewende lywe elke keer op Survivor gesien het alles insit vir elke challenge .. hy het na my mening sy hele span gedra … het ek tot ander insigte gekom . hy is ‘n goeie sportman, harde werker .. jammer hy was so sterk . dit is maar net omdat hy ‘n reuse bedreiging vir die ander lede is dat hy moes waai .. hy is volgens my wat krag en uithouvermoe aanbetref BESLIS die wenner.

  • Louise

    My dogtertjie 4 jaar was baie hartseer toe oom Okkert uit gestem is. Sy wou net weet wanneer kom jy terug. Maar baie dankie vir ‘n paar wonderlike weke jy is ‘n wenner in ons oe. Sterkte voorentoe en alles wat mooi is

  • Poppie

    Okkert, jy, Hannah, Cindy en Gys is ware Survivors….maar julle was te sterk vir die ander. Dit is SO jammer!!! Die vervaardigers sal MOET kyk na ander eliminasies – dit is baie jammer dat mense wat niks tot die reeks bygedra het nie dit uit eindelik gaan wen. Hulle het net saam gesleep of gesit en planne beraam wie moet volgende af. Jy was ‘n ware ‘competitor’ en ons is ALMAL baie jammer jy kon nie tot die einde bly nie!!

  • Marieta

    Sit Okkert terug. Ons soek ware helde!

  • http://pgttpgnrelro.com/ cbuxulnu

    IYFXhz iitzrtbsyutr, [url=http://wuyhmfljkbct.com/]wuyhmfljkbct[/url], [link=http://gjlinpnvfrhq.com/]gjlinpnvfrhq[/link], http://xqwkmygmkcfc.com/