Jannie (regs) en sy broer, Bismarck 
FOTO: Twitter (@SethHulley)

Jannie (regs) en sy broer, Bismarck FOTO: Twitter (@SethHulley)

Ons praat met

Ons bly in SA! Springbokke vertel waarom

Ek bly omdat ek by my familie wil wees, sê Jannie du Plessis, Springbok-stut.

Toe die Springbok-broers Jannie en Bismarck du Plessis einde verlede jaar ’n aanbod van die Franse rugbyklub

Toulon kry, het hulle dit van die hand gewys en besluit om Sharks te bly.

“As rugbyspeler kry jy soms geleenthede oorsee. Baie spelers gaan om verskeie redes – soms is dit finansieel voordelig, en soms voel hulle gedwing as hul kontrak nie hernu word nie. Vir enige ou, rugbyspeler of nie, wat oorsee wil werk, is sommige oorwegings belangriker as ander,” sê Jannie.

“Vir my en Bismarck was dit ons familie. Ons pa, Francois (69), is in 1998 met Parkinson se siekte gediagnoseer en jy besef jou tyd saam met hom, en die res van die familie, is nie genoeg nie. Ons kom uit ’n boeregemeenskap [Bethlehem in die Vrystaat] en ons familie is baie geheg aan mekaar. Daar is geen plek in die wêreld beter as jou huis nie.

“Ja, daar was ’n finansiële geelwortel saam met die aanbod, maar familie is belangriker – ons sal onsself altyd verwyt as ons oorsee is en iets sou dalk met ons pa gebeur.”

Hul pa, sê Jannie, is vir hom en Bismarck ’n ouer én ’n vriend – ’n onvervangbare familielid wat nog altyd baie moeite vir sy seuns gedoen het.

“Hy is eintlik dié pa wat enige ou voor kan vra. Hy’s ons mentor, ondersteuner en beste vriend. Wat ons as  kinders ook al nodig gehad het, hy sou ’n plan maak. Of dit nou beteken het hy moes tyd maak om ons parkie toe te neem, moes baklei om sy kinders saam met hom te vat na plekke waar kinders nie toegelaat word nie, en of hy ’n slag sy verpeste netjiese klere moes aantrek om ons uit te vat – hy sou dit doen.

“Familie is die enigste mense wat daardie ekstra myl vir jou sal loop. Ek sê altyd bloed is nie net dikker as water nie, dit kruip waar water nie eens kan loop nie.”

Daarmee saam, sê hy, geniet hulle dit om deel van die Springbok- en Sharks-span te wees. “Dit was van kleins af ons droom, en dis nog lank nie uitgeleef nie. Dis ’n voorreg om vir ons land te kan speel, en die spanne is nou op ’n baie goeie plek.”

Suid-Afrika sal altyd sy huis en hart wees, sê hy. “Ons land is ongelooflik. As ek die Lotto wen, sal ek elke Suid-Afrikaner vir ’n dag oorsee wil stuur sodat hulle met nuwe oë kan terugkom. Hierdie plek lééf – daar is soveel emosies, opinies, kleure en geure in die kookpot. Daar’s leeus, goeie weer en goeie wyn – ’n plek vir enige soort mens om homself uit te leef. Ons is rou en nuut, maar nêrens anders is mense so vriendelik nie.”