Ons praat met

Ons gesels met die nuwe Carte Blanche-aanbieder

Annika Francesca Larsen, oorspronklik van Denemarke, is die nuwe veldaanbieder van die ondersoekende nuusprogram Carte Blanche op M-Net. Sy het al gewerk vir Capetalk/702, Fairlady, was ‘n senior verslaggewer by eTV en het die Clive Menell Media Fellowship by die Duke University in Noth Carolina gekry en deelgeneem aan die International Leadership Programme in Washington DC in 2007. Marguerite van Wyk het met haar gesels oor joernaliste wat sy bewonder, moeilike besluite in die joernalistiek en ouerskap.

Wat beteken dié skuif na Carte Blanche vir jou loopbaan?
Toe hulle my genader het om by hulle aan te sluit, kón ek dit nie weier nie. Dit gee my die geleentheid om fassinerende Suid-Afrikaanse stories in diepte na te vors op ‘n eg Suid-Afrikaanse program. Dis ‘n nuwe uitdaging en ek geniet dit geweldig.

Watter tipe stories dek jy graag?
Ek het tot nou toe hoofsaaklik hof-stories gedoen. Die afgelope paar jaar was ek baie in die Pietermaritzburgse Hooggeregshof waar pres. Jacob Zuma betrokke was in voorverhoor litigasie met die Nasionale Vervolgingsgesag. Maar ek hou van enigiets met ‘n menslike aspek. ‘n Mens tref dit om elke hoek en draai aan. Vir my is die uitdaging om die intrige in oënskynlike vaal stories uit te krap. Elke mens het ‘n interessante storie om te vertel. Moet my net nie vra om ‘n rugbywedstryd te dek nie. Ek het nie ‘n idee wat daar aangaan nie!

Waar het jy jou opleiding as joernalis ontvang?
Ek het ‘n graad in Engels en drama aan die Universiteit van Kaapstad verwerf. Die beste opleiding vir joernalistiek kry ‘n mens terwyl jy die werk doen. Dit sluit in die oproepe wat ‘n mens ontvang as jy laataand shows op die radio behartig tot lewendige uitsendings as jy aktuele sake behartig op nuusprogramme. Internskappe is ook baie goeie opleiding – selfs al beteken dit jy moet vir ekstra geld as kelnerin werk om jou woonplek te betaal. Ek leer nog elke dag. Die oomblik wat ek nie meer leer nie, weet ek dit is tyd om op te hou werk en te herdink of dit nog die moeite werd is om te doen wat ek doen.

Hoekom het jy op die joernalistiek as loopbaan besluit?
As kind was ek altyd vreesbevange dat ek sal uitmis op iets. Toe ek die OJ Simpson-hofverrigtinge op TV gesien het, het ek besluit dat ek deel moet wees van sulke soort verrigtinge en boonop in die voorste ry moet sit! Joernaliste is baie bevoorreg omdat hulle die wêreld sien en boonop vir almal daarvan kan vertel.

Watter joernaliste bewonder jy?
‘n Mens kry swakkes en briljantes. Suid-Afrika het ‘n hele paar uitstekendes, te veel om op te noem. Almal baie braaf en slim op hul eie manier. Dit neem baie waagmoed om iets te sê as niemand anders wil nie. Ek dink baie jong joernaliste wil in die voetspore van Christiane Amanpour van CNN volg. Sy is sterk en vreesloos, sonder om roekeloos te wees. Louis Theroux is uitstaande as dit kom by dokumentêre beriggewing. Hy het ‘n program op BBC Knowledge – topklas.

Wat was van die interessantste stories wat jy tot nou toe gedoen het?
Só baie. Van die krieket-debakel waarin die ontslape Hansie Cronjé krieketwedstryde probeer ‘kook’ het. Die baie hartseer hofsake ná die moord op die eertydse staatspresidentsvrou mev. Marike de Klerk, die Dina Rodrigues-saak en die moord op Taliep Petersen, Mark Thatcher se rol in die coup om die regering in Ekwatoriaal Guinee tot ‘n val te bring. Dan was daar die vreesaanjaende gevalle van stedelike geweld in die Wes-Kaap en meer onlangs die transformasie van pres. Jacob Zuma van beskuldigde tot staatspresident.

As ma van die 8 maande oue Joseph, hoe kry jy dit reg om so hard te werk en nog ma te wees?
Dis baie, baie moeilik. Ek het ‘n baie liefdevolle en georganiseerde ondersteuningstelsel – my man, Anton Katz, en albei ons ma’s hou als in plek. En dan is daar my huishulp Cynthia Qinga se liefdevolle hulp. Carte Blanche is ook ongelooflik – die bestuurspan het baie respek vir en is ondersteunend teenoor nuwe ma’s.

Ondersteun jou man, ‘n advokaat in internasionale reg, jou loopbaan?
Hy was nog altyd die grootste ondersteuner van my loopbaan en druk my soms in rigtings waar ek self nie eens die selfvertroue het om te gaan nie. Hy is ‘n baie betrokke pa – hy het Joseph se eerste doek aangesit. Vóór ek dit gedoen het.

Wat doen jy in jou vrye tyd?
Watter vrye tyd! Ek lees – ek lees baie! Selfs as ek laat bed toe gaan. Ek oefen ook baie en ek luister na podcasts van This American Life as ek stap op die Seepuntse promenade. Ek swem baie in die somer en dis vir my ‘n groot bederf om gereeld saam met my vriende te kuier.

Jy het al in die gedrukte media, sowel as in radio en televisie gewerk. Wat verkies jy?
Radio en televisie is opwindend, want jy kan sulke grafiese prentjies van mense skilder. Radio is pret en dit werk meer natuurlik vir my as die gedrukte media.

Wat is jou grootste droom as joernalis?
Om Suid-Afrikaners te vertel van die wêreld waarin hulle woon. Partykeer het mense nie ‘n idee van wat om hulle aangaan nie. En ek wil stories gebalanseerd en regverdig vertel. Ek glo nie daar is so iets soos die waarheid nie. Almal het ‘n ander variasie van die waarheid. ‘n Joernalis se werk is om seker te maak almal kry die feite.

Was jy al ooit in gevaar as joernalis?
‘n Paar keer – ek het al op my eie rondgery op geweldstonele. Ek is al gedreig, beroof, mense het al op my gespioeneer – een keer is ek vir ‘n kort rukkie vasgevang in ‘n gewelddadige opmars. Maar gewoonlik is mens so besig om jou werk te doen, dat jy nie bewus is van die gevaar tot jy eers daaruit is nie. En beskermengele pop op allerlei plekke op. Die meeste joernaliste hou ook van ‘n bietjie gevaar!

Wat was jou grootste kompliment as joernalis?
As ‘n luisteraar of kyker inbel om te dankie te sê ná ‘n storie of program of ‘n e-pos stuur en sê ek het ‘n verskil gemaak met ‘n storie, beteken dit baie. Of as ‘n politikus met mens die spot dryf op ‘n perskonferensie en dit dan uitdraai dat hulle verkeerd was en jy al die tyd reg. Of as jou tydgenote sê ”goed so!’ Dít beteken baie.

Wat was jou moeilikste besluit as joernalis?
Daar was veral een moeilik storie. Toe ek by eTV was, was ons eerste by die toneel waar ‘n bus in Kloofnek, Kaapstad, omgeslaan het. Daar was baie kinders op die bus en dit was ‘n vreeslike toneel. Kinders was oortrek met bloed en baie was absoluut stil, in die middel van die straat. Daar was nie ‘n geskree of gehuil nie. Net stilte. Daar was hope beserings. As joernalis behoort ‘n mens terug te staan en waar te neem. Maar ek het gedink dit sal onmenslik wees en het besluit ek sal help sover ek kan. Daardie dag was ek eerstens ‘n gewone burger en tweedens ‘n joernalis. Ek wou huil ná die tyd. Veral by die begrafnisse. Ek en die kameraman het nie ‘n woord ná die tyd vir mekaar gesê op pad kantoor toe nie. Ons was só ontsteld.

Hoekom geniet jy dit om ‘n joernalis te wees?
Elke dag is anders. Ek sien dinge gebeur en ek is altyd daar, in die middelpunt van die aksie. En ek leer so baie.

  • Belinda

    Hoe kan ek in kontak kom met jou. Ek het ‘n storie wat ek wil vertel en dit gaan oor dokters wat met moord weg kom. Daar is ‘n geval wat nalatigheid betrokke is en die dokter(s) kom weg daarmee.

  • Hi Belinda,
    Jy kan jou storie hier op Carte Blanche se webtuiste vertel en in kontak kom met hulle. Sit hierdie adres bo in die adresblokkie in of gaan loer op http://www.mnet.co.za onder Carte Blanche:
    http://beta.mnet.co.za/carteblanche/StorySubmission.aspx

    Groete,

  • Magda de beer

    Ek wil graag vir CARTE BLANCHE vra om oor skool klere in Bloemfontein te ondersoek dit is peper duur en hier is net een verskaffer en dit is Kloppers, hulle vra vir n graad 1 skool rok 210.00 n sweetpak top vir graad2 325.00 en vir die broek 205.00.Die sports klere is ook buitensporig duur. Hulle beweer die sports klere verkoop net n sekere tyd van die jaar maar hoeveel skole is hier en hoeveel neem deel aan atletiek of enige ander sport, hulle maak oor die 200% wins as jy my vra