bastien_1_300_dpi
Ons praat met

Ons gesels met Mnr. Pedikuur

Dis ‘n jammerte Moedersdag is verby, maar die helfte van ons het nog ‘n verjaardag oor vanjaar, en so nie, dan vir Kersfees . . . maar maak ‘n plan, want dié bederf is uit ‘n ander wêreld! Die wêreldberoemde Franse pedikuur-kunstenaar Bastien Gonzalez se troetelmetodes word nou by die splinternuwe One&Only Cape Town Hotel se spa gebruik. Dis nie juis ‘n resessie-vriendelike behandeling nie, maar ou suster, énige voet, elke jammerlik-sat toon, sal behoorlik sug van lekkerkry.

Hester Carstens het die Fransman self aan haar voete laat vryf – en tussendeur voetstukke gesels.

Nou waarom juis voete? Hoekom verdien hulle soveel aandag?
Dis soos met ‘n huis: as die fondasie nie sterk is nie, is daar geen manier dat die mure sterk kan staan nie! Jy weet, dis bloot ons Westerse kultuur wat voete nie na waarde skat nie; as jy in ‘n Oosterse huis inkom, sal jy dikwels jou skoene uittrek en die gasheer mag jou selfs ‘n voet-massering gee as teken van respek.

Nadat ek ‘n ski-ongeluk gehad het, moes ek ‘n podiater besoek. Dís waar die gogga nou eintlik gebyt het. Anders was ek dalk ‘n professionele skiër!

Wat is dan die verkeerdste ding wat vroue aan hul voete doen? Seker hoë hakke of plakkies?
Nee, dis daardie skrop ná die stort! Om jou voete met ‘n puimsteen te takel veroorsaak net probleme: jy dink jy krap growwe vel af, maar eintlik irriteer jy die vel net en maak dat nog droë, skurwe vel vorm. Boonop tas jy jou vel se elastisiteit aan.

Dis waarom ons tydens ‘n pedikuur eerder die dooie vellagie met ‘n skalpel afskraap. Dit steur nie die onderliggende vel nie en veroorsaak geen wrywing nie.

Hoë hakke is hier om te bly, jy kan vroue nie keer om dit te dra nie – dit lyk boonop so mooi! Met my masseer-tegniek, net ‘n minuut of wat elke aand, sal jou voete nie ly onder jou polvye nie. Dis soos tande borsel nadat jy geëet het: as jy jou voete masseer, kan jy die meeste skade van jou dag teenwerk. Deur die sagte dele van jou voet te masseer, plomp jy hulle weer op soos kussings.

Plakkies is ook eintlik slegter vir jou voete as hakskoene, al daardie gestamp-stamp aan jou hakke elke keer as jy jou voet oplig en weer neersit, en die geklou met die tone!

So jou pedikuur is nie net ‘n vryf-en-verf nie?
Nee, dis ‘n mediese pedikuur, wat ons al jare lank in Frankryk ken. Dit gaan daaroor om die voete se werking te verbeter, nie bloot om voete mooi te laat lyk nie. Ons kan probleme soos eelte en ingroei-toonnaels doeltreffend behandel.

En naellak?
Sal jy jou grimering vir ‘n week aanlos? Nooit, maar vroue loop maklik weke lank met naelverf op hul toonnaels! Dit moet nooit ooit langer as 3 dae aanbly nie, anders begin die naellae van mekaar loskom omdat die naels uitdroog, en verder kan die pigment die naels verkleur. Mense dink al aan my as “die man wat gekant is teen naellak”, asof daar ‘n plakker op my voorkop is daaroor! Maar dis nie so nie, net nie langer as 3 dae nie.

Jy het ook immers jou eie rooi naellak, One&Only Red, nuut in samewerking met die One&Only-groep?
Ja, en ons het so min as moontlik potensieel skadelike stowwe daarin – daar’s bv. geen formaldehied of tolueen in nie. Ons kon egter nie net natuurlike kleurmiddels gebruik nie, die kleur sou nie so intens gewees het nie.

En die rooi? Sal daar nog kleure volg?
Ja, dalk. Maar waarom pienk of beige, as naels in elk geval daardie kleure kan wees? En jy weet, Valentino het sy rooi aandrok, Christian Louboutin sy rooi sole, so Bastien kan sy rooi naellak hê!

(Bastien kom nou my hakke en toonnaels met ‘n diamantkop-dril by. G’n niks seer nie, al zoem dit glo teen 30 000 revolusies per minuut. Dan word pienk room aan elke toonnael gevryf, waarna ‘n chamois-lappie die blinkheid vervolmaak.)

Vertel ‘n bietjie oor dié room?
Dis my wonderwerk-room! Soos tandepasta vir jou toonnaels; dis die ene perlemoenpoeier om die boonste naellagies af te poleer en naels ‘n juweelkwaliteit te gee.

(En dis waar! Blink-blink, soos spieëls, en babapienk. Daar’s nog ‘n hele reeks voetsorg-produkte buiten dié Mother of Pearl Sparkle Buffing Cream, onder die naam Révérance de Bastien.)

Terloops, wat van refleksologie? Dink jy daar’s iets daarin?
Ag nee, sommer twak! Daar’s dan 13 verskillende “kaarte” wêreldwyd wat die kamstige dele op die voet aandui. Dis goed in die sin dat dit massering behels, en so word die voet se volume herstel. Die persoon ontspan ook, so daar’s beter bloedvloei en minder pyn in die algemeen. Maar eintlik maar nonsens!

En is jou soort pedikuur ook goed vir die manne?
Ja, beslis, 32% van my kliënte is mans. Hulle vind dit lekker omdat ons nie eintlik naels verf nie, en omdat ons heeltemal private kamers gebruik. Pedikure is belangrik vir mans: hulle is lui en dop hul toonnaels dikwels af eerder as om dit te knip; dan kry hulle ingroei-toonnaels. En as hulle skurwe voete kry, is dit skúrf! Hulle geniet die massering ook baie.

(G’n wonder. Dis ‘n intensiewe tot-by-die-knie-affêre . . .)

Is jy gelukking in jou samewerking met One&Only?
Sol Kerzner het van my ‘n regte handelsmerk gemaak, ek is hom baie dankbaar. Hy het my in sy hotelle ingenooi. En hy’s so ‘n inspirasie, as ek by ‘n One&Only opdaag, dan is hy daar of was pas daar! Hy reis op sy ouderdom die wêreld vol, nog veel meer as ek.

(En glo my, Bastien réis met mening, van sy ywerige kliënte in New York, terug na Londen en Parys, dan bietjie op ‘n private vliegtuig na ‘n superryke met voetpyn in die Midde-Ooste . . .)

So wat kan lesers wat nie by die One&Only kan uitkom nie, aan hul voete se heil doen?
Wel, eerstens sou ek sê, kom ‘n keer! Dis die moeite en geld werd, die ervaring van ‘n leeftyd.

Maar massering elke aand voor jy gaan slaap, is die sleutel: werk op die knobbels van jou tone, so 20 sekondes op elkeen. Buig die tone ‘n bietjie vooroor om die spiere te verleng. Masseer ook die sagte dele van jou voet, agter die tone en op die hak, om die weefsel se volume te herstel, die vel se elastisiteit te bevorder en die vel los van die been te hou. Gebruik ‘n room met ‘n waterbasis, en iets met gliserien of petroleumjellie as jy krake in die vel het wat gesond moet kom. En gebruik so twee, drie keer ‘n week ná jou bad ‘n tandeborsel om die dooie vel langs die kante van jou toonnaels sagkens uit te borsel en die vel te masseer.

Wat is volgende vir Bastien Gonzalez?
Ek wil graag pedikuur-skole stig in plekke soos Suid-Afrika, om die tradisie van die mediese pedikuur te vestig. En wees op die uitkyk by die SA Modeweek, ek beoog samewerking met ‘n bekende SA ontwerper . . .

Die spesiale Bastien Gonzalez-pedikuur en -manikuur is in SA slegs beskikbaar by One&Only Cape Town se eksotiese eiland-spa. Die Bastien Gonzalez-pedikuur, deur opgeleide skoonheidskundiges, kos gewoonlik R880 en die manikuur R495. As openingsaanbod is die volgende troetel-pakkette beskikbaar:

Die 6:3:2 sluit in 6 Duo PediManiCure-behandelings (oor 6 maande), 3 Paraffin Wraps vir hande en voete en 2 Sensitive Feet Balm-vogrome, vir R5 060 – spaar R4 640.

Die Duo Trio behels 3 Duo PediManiCure-behandelings (oor 3 maande) vir R2 530 – spaar R1 265.

Die Feet Retreat sluit in 2 Duo PediManiCure-behandelings (oor 2 maande), 3 Foot Refoundation-masserings en 1 Sensitive Feet Balm-vogroom, vir R3 300 – spaar R2 145.

Die One&Only Spa Cape Town en Bastien Gonzalez pedi:mani:cure studios is daagliks oop van 8 vm. – 10 nm. Besprekings is noodsaaklik. Skakel 021 431 5810. Besoek ook www.bastiengonzalez.com.