sr1002valentynstorie_24_
Ons praat met

Ons glansmense wys hulle troufoto’s

Jané du Preez entrepreneur, en Fourie, Springbokrugbyspeler

“Op 10 November 2007 het ek opgewonde wakker geword. Die Saterdag was meer perfek as wat ek my ooit kon indink. Ek het dit so geniet om ons troue te reël en dit was vir my belangrik om rustig te wees en te glo alles gaan uitwerk soos wat ons beplan het. My pa, ds. André van Niekerk, het ons laatmiddag in die klein, karaktervolle St. Wilfrid’s-kerk in Pretoria getrou. Dit het die dag soveel meer spesiaal gemaak. Die onthaal was by die Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria (Affies), want ons wou op ‘n rugbyveld trou en hulle s’n was beskikbaar. Dis in ‘n sprokieswêreld omskep. Rugbyveld – ironies, ek weet, maar met die Wêreldbeker en die manne se besige skedules was dit moeilik om ‘n beskikbare dag en plek te kry. Ek het vir ‘n oomblik eenkant gaan staan om alles in te neem. Ek het so geweldig geseënd gevoel dat ons droomdag saam met ons vriende en familie so wonderlik was. Ek het gewens tyd kan ‘n bietjie stilstaan. Maar die aand was in ‘n oogwink verby.”

 

Ivan Botha en Ciske Kruger Botha

Ivan Botha akteur, en Ciske Kruger Botha, aktrise

“Die oggend van 19 Oktober 2007 het ek wakker geword en besef: Vandag is die dag, ek trou. Vir die eerste keer het ek gewonder wat ek doen. Is ons nie dalk te jonk nie? Toe Ciske die kerk by Avianto op Muldersdrift, buite Johannesburg, instap op Snow Patrol se liedjie ‘Chasing Cars’ en ek sien hoe stunning sy lyk, was ek baie emosioneel. Ek het toe besef ek doen die regte ding. Ons was net albei geïrriteerd met die fotonemery. Dit was lank en uitgerek weens die reën. Al wat ons wou gehad het, was om by ons families te wees en die troue te geniet.”

Kerry McGregor en Neil Mckenzie

Kerry McGregor, model, en Neil McKenzie, Protea-krieketspeler

“Ons het op Sondag 23 September 2007 by die Webersburglandgoed by Stellenbosch getrou. Ons was die eerste paartjie wat in die nuwe, pasgeboude lokaal getrou het. Al die clichés in die boek som op hoe ek gevoel het! Die dag voor die troue was ek angstig, maar ek het goed geslaap en kalm en ontspanne opgestaan. Geen senuweeagtigheid nie. Ek het ‘n baie lekker oggend gehad terwyl ons aangetrek en hare, grimering en naels gedoen het. Ek onthou ek het vooraf gebid dit moenie reën op die dag nie. Die oggend het dit wel gereën, maar teen tweeuur die middag het die son uitgekom. Om almal vir wie jy lief is om jou te hê en saam fees te vier was oorweldigend.Teen die einde van die aand het ek en Neil vyf minute vir onsself gevat. Ons het uitgestap, teruggekyk na almal binne die saal en geglimlag. Dit was awesome.”

Amy Kleinhans-Curd en haar man Leighton

Amy Kleinhans-Curd, Mej. SA 1992, sakevrou en motiveringspreker, en Leighton, sakeman

“Ons het als so stil moontlik probeer hou, uit die publieke oog, toe ons op 7 Mei 1994 in Seepunt getroud is. Daar was ‘n paar mense wat wel gehoor het ons gaan trou en hulle het ‘Congratulations’ van Cliff Richard gesing toe ek en Leighton kerk toe gestap het. Dit het my asem weggeslaan. Daar was sand in my skoen terwyl ons foto’s op die strand geneem het.’n Bekende fotograaf was toevallig op die strand en wou weet met watter shoot ek besig is. Hy het my eers nie geglo toe ek sê dis my troudag nie, totdat die grimeerkunstenaar dit bevestig het! Ek wéét ek is Leighton se groot romanse en hy is myne.”

Matthew Booth Bafana Bafana-speler, en Sonia, model

“Ons is op 9 Desember 2006 by die Silvermist Estate in Constantia, Kaapstad, getroud. Daar was tagtig van ons beste vriende. Die helfte van my vrou se familie het die vorige dag van Johannesburg afgevlieg. Almal het dit geniet, al het die wind buite geloei. Ná die kerkseremonie is die foto’s by ‘n afgesonderde strandjie naby Boulders Beach, Simonstad, geneem en vandaar is ons na Silvermist om nog foto’s te neem. Ons het toe individuele foto’s saam met elke gas geneem en dit ná die onthaal laat raam as bedankingsgeskenke. Die plek, kos en vermaak was ongelooflik. Dit was die beste dag van ons lewe. Die hoogtepunt was dat ek die toespraak sonder enige haakplek gelewer het. En die eerste dans met my vrou was asemrowend. Vir Sonia was die hoogtepunt om na haar oom se toespraak te luister. Hy het dit namens haar oorlede pa gemaak. Dit was sý eerste ‘blanke troue’.

Henriëtta Gryffenberg aktrise, en Robert Plattner, sakeman

“Ek het vier maande lank gereël aan die troue op 9 September 1995 by Hartleys Estate in Magaliesburg. Toe ek aan my pa, Emil, se arm die kerk (‘n ou koeistal) binnestap en al my vriende draai om en daar staan hulle, met Robert heel voor, dink ek: ‘Haai, hulle het sowaar gekom.’ En daar bars ek in trane uit, net omdat ek so ongelooflik dankbaar was om almal te sien. Veertien jaar later weet ek dit was die gelukkigste dag van my lewe en die beste paar treë ooit in die regte rigting.”

Marius Weyers

Marius Weyers akteur, en Evette, beeldhouer

“In 1974 was ek en Evette op ‘n oorsese reis van drie maande. Ons was baie gelukkig, maar ons het nie beplan om te trou nie. Ná ‘n motorongeluk in Spanje het ek besluit ek kan nie sonder haar wees nie. Ek het haar die volgende dag gevra om te trou en in ‘n oomblik van skok het sy si! geantwoord. Ons het toe in Spanje en in Parys probeer trou, maar die burokrasie het ons gesink. Op 18 Februarie 1975 het ons in die Registrar’s Office in Londen getrou. (Sien hieronder)

Yvette Weyers Marius (vervolg)… Ons enigste vriend daar, Barney Simon, sou ook ons enigste gas wees. (Hy is intussen oorlede en was ‘n regisseur en stigterslid van die Markteater in Johannesburg.) Maar daar was ‘n misverstand en hy het op Euston-stasie pleks van Earl’s Court rondgedwaal. Ons het getrou, uitgestap en wonder bo wonder was daar ‘n ‘fotograaf ‘, waaroor ons in die wolke was. Ek het hom 20 pond betaal en ‘n paar dae later gebel vir die foto, maar geen antwoord gekry nie. Hy het seker nie eens film in die kamera gehad nie. Selfs dít het ons nie sinies gemaak nie. Ons is reeds 34 jaar saam, sonder troufoto. (Maar darem met ‘n mooi foto van ons reis in Londen!)”
Denise Newman en haar man Clive  

Denise Newman aktrise, en Clive, konferensiebestuurder

“Natuurlik was ek laat, hoe dan anders? Twaalfuur, op die twaalfde dag van die twaalfde maand 1980. Ons was veronderstel om elfuur die oggend in die Athlone Magistraatshof te trou. Vinnig in en uit, met net naby familie en vriende, want ek moes teater toe gaan vir my vertoning die aand, Peepshow, in die Baxter met regie deur Dawie Malan. My medespelers was onder andere Peter Krummeck en Trix Pienaar. Almal het staan en wag vir die bruid wat nie ‘n idee gehad het van wat sy moes aantrek nie en langer as gewoonlik gevat het met hare en grimering. Uiteindelik het ek opgedaag – nadat ek nog moes soek vir parkeerplek! Dertig jaar gelede voel soos gister. Clive het Aramis-naskeermiddel gedra en ‘n swart fluweelpak en platformskoene. Hy is my beste vriend, pa van my twee dogters en my geliefde. Hy kan my só lekker laat lag!”

Carike Keuzenkamp en Olaus van Zyl

Carike Keuzenkamp sangeres, en Olaus van Zyl, projekkoördineerder van die Gautrein

“Ek was in ekstase, want ek het met die wonderlikste man op aarde getrou, op 13 Julie 1968 in die NG Kerk Alberton-Wes op my tuisdorp. Ds. Dopper Erasmus, ‘n studentevriend en skrywer van my trefferliedjie ‘Timothy’, het ons in die huwelik bevestig. Die trouteks was uit Joh 2:2. (‘Jesus en sy dissipels is ook na die bruilof toe genooi’). Ons was albei nog op universiteit en dit was ‘n baie groot troue met sowat 500 studente-vriende. Olaus was daardie jaar studenteraad-voorsitter. Alles het so helder gelyk. Die kerk was baie mooi en die onthaal vrolik en informeel.”

Franci Swanepoel en Max Baer

Franci Swanepoel aktrise in Binnelanders op kykNET en M-Net, en Max Baer, prokureur

“Ek en Max is op 15 Desember 2005 getroud, ‘n Donderdag. Volgens een of ander filosofie beteken dit groot rykdom. Ons wag maar nog . . . Ons is getroud op Clara Anna Fontein buite Durbanville,’n klein wynplaas. Ná die troue het ons en ‘n paar ander gaste oorgeslaap in die luukse tente-kamp in ‘n sprokies-populierwoud. Almal wat spesiaal is in my lewe was daar, en almal wat moeite gedoen het om Kaap toe te gaan om dit met ons te deel. Ek onthou ds. Johann Symington se mooi preek. Dit was woorde van hoop en liefde wat my altyd sal bybly. Ek het gevoel die lewe is mooi en daar is vreugde in alles rondom ons. Ek was gelukkig dat Max mý gekies het met al my tekortkominge en ek het geseënd gevoel oor alles wat ek in oorvloed het.”

Lewis en Antoinette Pugh

Lewis Pugh, yswater-swemmer, en Antoinette, grimeerkunstenaar

Hy swem in yswater, maar sy hart klop warm vir die skoolliefde wat hy al 23 jaar lank ken. Op 10 Oktober verlede jaar is Lewis Pugh en Antoinette in die Anglikaanse kerk op Houtbaai by Kaapstad getroud. Dit was ‘n intieme middagtroue met slegs 40 gaste.

“Als was presies soos ons dit wou hê,” vertel Lewis. “‘n Droom-troue. En ons kon uitkyk op die Atlantiese Oseaan, waarin ek soveel tyd spandeer. Dit was die regte tyd en plek in ons lewe.”

Koos Kombuis en sy vrou, Kannetjie

Koos Kombuis sanger-skrywer, en Kannetjie, tuisteskepper

“Ek en Esne Verster (Kannetjie), ‘n meisie van Namibië, het op 19 Desember 1998 by Muisbosskerm naby Lambertsbaai getrou. Dit was ‘n opelug-troue en die gaste het in die branders en op die strand baljaar terwyl ek en my toekomstige vrou gebewe en gesweet het in ons trou-outfits vir die fotograwe. Omdat die kroegman vroegmiddag al te besope was om sy pligte uit te voer, moes die dominee sy werk oorneem. Ons het toe so lekker begin partytjie hou dat ons byna vergeet het hoekom ons daar was. Weens sy bykomende pligte het die dominee my vrou se naam verkeerd gespel op die huweliksertifikaat. Ondanks als was dit die wonderlikste dag van my lewe. Al ons vriende en my ouers was daar. Die aand was soos ‘n skildery van Chagal, met vlieënde koeie en visse en gekleurde glasvensters van die hart. ‘n Wonderlike, kreatiewe chaos.”

Abigail Betz, ontwerper, en Louis Meyer, haar sakevennoot

“My ruiker was aaklig! Die bloemis het gedink ek trou eers ‘n week later.Toe vat ek sommer die bos blomme wat in die kamer was waar ek aangetrek het. Ek het twee dae voor my troue, op 18 September 1999, op Sedgefield in die Suid-Kaap aangekom van Italië af – en toe eers my rok gemaak! Dit was in die tipiese styl van trourokke in die laat 90’s, eintlik baie mooi. My skoonpa, Piet, het spesiaal die kerk waarin ons getrou het vir ons op ‘n plaas gebou. Dit word vandag nog uitgehuur vir troues.”

  • Marietjie van de Wall

    Ek het nog nooi ‘n lelike bruid gesien nie!

  • Yolanda Cilliers

    Alle bruide is mooi want hulle doen moeite daardie dag met hulself om mooi te lyk! So maw alle vrouens kan elke dag mooi lyk as hulle net na hulself kyk en versorg soos n bruid!

  • Mandi

    Ai, Yolanda, as mens maar net die tyd daarvoor gehad tussen huishou, kinders, manlief en, les bes, die voldag werk!!! Om nie eens van ek-tyd en vriende-tyd te praat nie.