Ons praat met

“Ons het ‘n Kongolese babatjie aangeneem”

Drie jaar ná hul troue het Kateline, ‘n Kongolese meisietjie, hul lewe kom verander. Ons harte het gesmelt toe ons vir Kateline kon huis toe vat op die dag wat sy gebore is. Ek en Aleit wou graag ‘n kind van ‘n Afrika-land aanneem. Ons het nie omgegee of dit ‘n seuntjie of ‘n meisietjie is nie.

Ek het byna in trane uitgebars toe ons die biologiese ma ontmoet. Sy’t in die Kongo swanger geraak en toe Suid-Afrika toe gekom om hier te werk. Ek was ook by met Kateline se geboorte. Dit was ongelooflik om alles te ervaar. Kateline is nou byna agt maande oud. Sy’s gelukkig, lag kliphard en is glad nie skaam nie. Sy’s net so mooi soos haar biologiese ma, met dieselfde groot oë.

Ons wou eers vir haar ‘n naam gee met ‘n Afrika-oorsprong, maar ons het gesukkel om ‘n naam te kry wat sag op die oor is. Omdat haar biologiese ma Frans praat, het ons uiteindelik op die Franse naam Kateline besluit. Dit beteken ‘rein’.

As jy daaraan dink om ‘n kind aan te neem is jy bekommerd oor hoe die proses gaan verloop. Maar dit was net die emosionele deel wat moeilik was. – Madri

Sy het ons lewe verander. Ons gee nie om om enigiets vir haar op te offer nie. As ons saans uitgaan, mis ek haar verskriklik. Aleit se bors is breed van trots. Hy’s lief vir Kateline se sterk persoonlikheid.

As jy daaraan dink om ‘n kind aan te neem is jy bekommerd oor hoe die proses gaan verloop. Maar dit was net die emosionele deel wat moeilik was. Kateline se biologiese ma was hartseer toe sy haar dogter vir ons moes gee.

Ek en Aleit sal graag kinders van ons eie wil hê, maar eers later. Ons sal ook nog ‘n kind wil aanneem. Kateline voel soos ons eie. Sy het soveel vreugde gebring, ook vir almal naby ons. Ons het ons harte oopgemaak vir ‘n kind wat ‘n liefdevolle en stabiele huis nodig gehad het.”

*Besoek ook www.aleit.co.za.