Ons praat met

Ons Katryn ontmoet prins Harry!

Katryn Kruger was een van die min gelukkiges wat Woensdagaand vir prins Harry in Johannesburg ontmoet het by ’n private onthaal vóór die glansgeleentheid van die liefdadigheidsorganisasie Sentebale.

Prins Harry was vandeesweek in Lesotho en Suid-Afrika vir dié organisasie wat hy in 2006 saam met prins Seeiso van Lesotho gestig het. Die doel hiervan is om weerlose kinders in Lesotho te help.

Katryn sê dié prins se bynaam, The People’s Prince, pas goed by hom. “Hy is baie oulik en lyk vir my soos ’n skoolseun. Hy’s gemaklik en ons het so lekker gesels! Hy is mal oor Suid-Afrika en het vertel van al die kere wat hy al hier was. Hy het gesê hy’t veral ’n sagte plekkie vir Kaapstad en wil graag Tafelberg opgaan.”

“Ag, Prins Harry is so vriendelik en regtig ’n mense-mens. Hy was glad nie Woensdagaand in sy streng koninklike boksie nie!” sê dié 17-jarige model.

Katryn Kruger en kêrel Cilliers Kies

FOTO: Katryn, in ‘n KLûK CGDT-skepping, was vergesel deur haar kêrel, Cilliers Kies, ‘n mediese student in sy finale jaar aan die Universiteit Stellenbosch.

2013: My leerjaar

Katryn het besluit 2013 is haar “leerjaar”. Daarom bly sy meer by die huis agter die boeke en is minder op internasionale vlugte na haar volgende glansryke fotosessie, alhoewel sy steeds besig bly met plaaslike modelwerk. Katryn het twee jaar gelede besluit op ’n sabbatsjaar om voltyds aan haar modelloopbaan tyd te bestee. “Ek het gereken as ek my matriek nie so gou moontlik agter die rug kry nie, gaan ek dit dalk bly uitstel en beslis spyt wees.”

“Ek is nie spyt oor my besluit nie, maar ek mis die opwinding. Ek verlang ook na my model-vriendinne oorsee.”

Dié jaar gebruik sy om, soos haar ma, Aletta, dit noem, te leer om ‘n vrou wees. “Ek leer om ordentlik te kook en bak, wil leer naaldwerk doen en brei, en motor bestuur … Natuurlik oefen ek ook in die gimnasium. En ek wil baie graag leer om tjello te speel, maar daarby het ek nog nie uitgekom nie!”

Katryn volg die Cambridge-korrespondensiekursus om haar internasionale matriek aan die einde van die jaar te voltooi. “Ek besef nou eers hoe baie ek skool en student-wees gemis het. Natuurlik is dit ‘n uitdaging om nou weer te ‘ABC’ (Apply Bum to Chair) ná ‘n jaar van reis vol avontuur.”

Beste oomblikke in my loopbaan tot dusver:  

My grootste shoots tot dusver was seker steeds die Prada-, Oscar de la Renta- en die Dior Eyewear-veldtogte.

Ek het ook vir Anna Wintour (die uitvoerende redakteur van Vogue en die koningin van die modewêreld) ontmoet by haar kantoor in New York.

Katryn Kruger in Prada

Katryn (links) in die Prada-veldtog. 

Ek en Candice Swanepoel het saam as trotse Suid-Afrikaners vir Oscar de la Renta gewerk. Giselle Bündchen het die grootste indruk op my gemaak. Ek was saam met haar in die Givenchy-modevertoning – my eerste. Sy was so plat op die aarde, vriendelik en mooi van binne. Net daar het ek toe besluit dat ek ook so wil wees – net Katryn bly en nie myself vir enigiemand of enigiets prysgee nie.

Oor liefdadigheid

Liefdadigheid het my nog altyd na aan die hart gelê. Omdat ek as model baie ontvang, voel ek as ek teruggee is dit ’n vorm van dankbaarheid. Dit is baie bevredigend om deur my modelwerk ook iets vir ander mense te beteken.

Vandat ek in die Hoërskool Tygerberg was, het ek die skool se kosprojek ondersteun. Die skool het ’n groentetuin en ’n projek wat kos en ander gebruiksartikels vir minderbevoorregte leerders en hul gesinne insamel. Al is ek nie meer in die skool nie, ondersteun ek steeds die projek finansieel.

Ek ondersteun ook die 46664-handelsmerk wat die Nelson Mandela-klerereeks is. Ek ondersteun dít waarvoor die handelsmerk staan: Trots Suid-Afrikaans.

**Katryn is binnekort te sien in die nuwe 46664-veldtog wat voor die Victor Verster-tronk net buite die Paarl geskiet is.