Ons praat met

Riaan Venter: ‘Ons manne moet leer dáns’

Wat het ’n lid van die SA-toutrekspan,’ n Bolandstoeier en ’n houtwerk-onderwyser gemeen met ’n suksesvolle sakeman, ’n nasionale dansheld en bekende TV-persoonlikheid? Alles. Want dis een en dieselfde mens. Riaan Venter. Die onnutsige nutsman. Hy het onlangs die gewilde Strictly Come Dancing op SABC2 gewen. Hy en sy mede-danser, Hayley Hammond, is week ná week deur kykers as die gewildste paartjie aangewys. “Hulle noem my nie verniet twinkle toes nie!” sê Riaan.

Dis ’n skrale man met ’n mooi vel wat my nader. Ek herken hom nie dadelik nie – sedert ek hom sowat vier jaar gelede ontmoet het, het hy meer as 15 kg verloor. En sedertdien het hy Clarins-gesigroom begin gebruik.  En à la die ideale metroman pedikuur hy sy voete en manikuur hy sy hande. Ook die linkerhand se middelvinger minus een lit – in ’n draaibank verloor toe hy jare gelede, in 1997, nog ’n houtwerk-onnie was . . .

Izelle Venter, tans redakteur van Insig, ken hom van toentertye af. “O, daai was desperate tye! Ons het dringend gesoek na ’n TV-nutsman vir Oulap se Rooi, ’n kykNET-program wat saam met Visi aangepak is, waar ek toe gewerk het. Paul Venter en Jeanine Rademan stel toe voor ons praat met Riaan. Hulle het hom ontmoet tydens ’n KKNK, die houtwerk-meneer op die dorp wat bietjie maller kon gaan met die tydskrif De Kat se projekte op die fees.

Hy het die persoonlikheid waarmee Afrikaanse mense kan identifiseer – en hy is erg sjarmant. Daar is nogal ’n stoutigheid aan hom wat vir hom as aanbieder werk. En hy werk hárd. Wat ek altyd van hom op daardie TV-program waardeer het, was dat dit vir hom nie net ’n show was nie. Die werk moes góéd wees, mense moet daarmee kan leef. En hy is verskriklik plesierig op stel. ’n Positiewe energie,” sê Izelle. “En ek is glad nie verbaas oor sy dansery nie – Riaan kan enigiets doen, want sy ingesteldheid is reg. Hy het hope energie. En hy het baie, baie selfvertroue!”

GUNSTELINGE

KOS: My gunsteling vis is brekfis. Nee, alle vis. Vars lynvis veral, kabeljou. Let wel, ek jag nié!
DRANK: Jack Daniels, Jaeger Bombs, Appletiser en H2O.
MUSIEK: Die Kaalkop Waarheid en Vlam! Twee uitstekende Afrikaanse groepe.
GESEGDE: Jaag jou droom na.
SKRYWER: Ek hou van Afrikaanse boeke. Mal oor Koos Kombuis.
AKTEUR: Jean Reno en Sharon Stone. Ikonies, albei van hulle.
FLIEK: Deesdae kyk ek baie dansflieks! Moulin Rouge, ens. Maar heel bo-aan die lysie sal altyd bly: Deliverance, Big Blue en The Deer Hunter
PLEK: In my musiekkamer op my bank terwyl ek live musiek-DVD’s kyk.

 
Kabous Meiring, wat destyds saam met hom aan Oulap se Rooi as aanbieder gewerk het, onthou: “Ons het saam gewerk in die filmbedryf, hy was die rekwisiete-meester en is in daardie bedryf ingesleep deur die produksie-ontwerper Theo Kleynhans. Ek was maar die assistent en het gedink Riaan is baie oulik. Een ding wat ek baie goed onthou, is hoe lank dit ons gevat het om huiswaarts te keer ná daardie produksie – ons het onder leiding van Theo so agter op die bakkie gekuier en Riaan was die voorbok. Hy was toe al iemand wat alles maklik laat lyk het.
Hy’t ’n unieke manier van aanbied, ’n sin vir humor en daardie ding waarvan klein seuntjies gemaak is: Hy is baie stout en ek dink almal is mal daaroor. O ja, hy’t natuurlik talent as nutsman ook. Dis jammer hy is nou so bekend, want nou kan ’n mens hom nie meer bel vir jou huishoudelike goed nie. Die enigste ding wat Riaan nié kan doen nie, is stilsit. Ek het al met hom gedans. So trap-trap, maar hy  was die grasieuse een.” 
So stu en stoom Riaan, die dansende nutsman, voort, jakkalsdraf hy tussen drie televisie-projekte, ’n boek en ’n moeilike oefenroetine deur na nog akkolades.

 


Hoe het dit gebeur dat jy so maer geword het?

Sjoe, suster. Dans, dans, dans . . . Op die tone, af die tone. Hakke op, hakke af. Daai tannie is kwaai! Ek het ook begin gym toe gaan net om die longe mooi in posisie te kry. En dis wonderlik: Sodra ’n mens die een deel van jou liggaamsbalans ontdek, wil al die ander dele van jou lyf sommer so saam in posisie val. Ek koop letterlik nou elke ander week vir my ’n nuwe broek. Kyk, dié ene is nou ook al te groot om die middellyf. Maar dans is fantasties – vir jou gees én vir jou liggaam. Dans is happy oefeninge!

Watter mense wat jy ken, het dringend ’n paar dansklasse nodig?
Al die mans in ons land! Dié wat wel “dans”, sokkie in die straights en stormdeur die draaie. Dans gee jou fierheid en postuur en dis ongelooflik lekker. Dit maak jou fiks en dit maak jou glimlag. Man, ek dink álmal in die land moet ’n bietjie leer dans! Jy sal sien, almal sal soveel meer liefde in hulself kweek. Dans neem jou frustrasie weg. En jou woede.

Hoekom ís ons Suid-Afrikaners so kwaad?
Ja, nè? Almal kerm en kla die heeltyd. Ek dink ons – en dis ons álmal, swart, wit, bruin, de lot – moet nou net aangaan met ons lewens. Dis nou al meer as ’n dekade ná apartheid. Ons moet almal leer om die pluspunte raak te sien en saamaan die land bou. 

Wat maak die lewe vir jou sinvol?
Om vir ander mense iets te beteken. Dit vóél goed om goed te wees vir ander mense. As ek vir iemand ’n skouer kan gee om op te huil. Ek dink vriendskap is die nodigste ding om jou lewe te verryk. Maar ek weet ook ek is nie ’n tipiese man nie, beslis nie ’n braaivleis-braai soort nie. My halfuur soggens in die stort is my heilige tyd – dan was en skeer ek my hele kop en dink my dag uit. 
Jy het baie stories, maar kom ons begin by die begin?
Ja, ek was lank ’n onderwyser. Houtwerk en wiskunde, nogal. Op Oudtshoorn. Maar die gogga het altyd iewers geknaag. Ek wou ander, breër dinge ook probeer. In 1998 begin ek en ’n vennoot toe die Rock Art musiekvenue by die KKNK. Man, dit was pret. De Kat het ons geborg en ons het die een muur totaal van de kunswerke beverf – ek sien hulle doen dit steeds elke jaar. Delta Blue was nog die heel eerste band wat ons opgesit het – lank voordat hulle “groot” naam gemaak het in SA. Ons het Rock Art vir twee jaar bestuur en toe het iemand anders dit oorgevat.  Ek weet dis vandag nog een van die jonges se gunsteling-kuierplekke by die fees, en ek is baie trots op my aandeel daaraan.

En toe?

Wel, toe gaan maak ek kop skoon in Engeland vir sowat vier maande. Geboue afbreek, sulke lekker harde handewerk. Rondgeloop en mooi gaan dink oor wat ek nou eintlik met die res van my lewe wil doen. Want terug skool toe kon ek nie. Terug in Suid-Afrika het ek in die ander kant van die swembad kom induik. Stelle gebou vir die Al Capone – die destydse BBP-plek by die KKNK. Ook stelle gebou vir internasionale advertensies, ’n stel gebou vir Dowwe Dolla, en, nou ja, sulke goed.
Ek het ook ’n restaurant in Somerset-Wes begin: Cheyney’s. En in ’n houtfabriek kaste en beddens gebou, so tussendeur. Eendag gesels Jeanine Rademan met Izelle Venter van Visi en seg hulle soek ’n goeie handy man vir ’n TV-program. Nee, sê Jeanine, sy ken hierdie ou met die ongelooflikste hande. Ek het die TV-toets sommer so daar in my garage gedoen! Toe volg 13 episodes van Oulap se Rooi – met die heerlike Kabous Meiring as aanbieder. Waar is sy deesdae?

So, ís jy ongelooflik met jou hande?

Ja. Natuurlik (knipoog).
 

En ek lei af jy is lief vir plaaslike musiek?

Baie! Baie . . . Daar is egter ook ’n groot klomp twak daar buite. Ek dink ’n mens moet bietjie soek as jy jou soort musiek wil vind. Ek is mal oor die musiek van Koos Kombuis, Piet Botha, Gert Vlok Nel, Delta Blue, Southern Gypsey Queens, en die nuwe ouens, wat liries en musikaal wonderlike werk verrig. Bacchus Nel. Jan Blohm. Bed on Bricks. Mensig, ons het talent!


En ná Oulap se Rooi?

Toe kom Annemarie Meintjes en sê ek moet aansoek doen vir Huis-huis. En daarin kry ek toe twee minute as Die Nutsman. En vandaar groei Die Nutsman toe tot 96 volwaardige episodes op sy eie.


Vertel van jou familie?

Ek is verskriklik baie hier bo in Gauteng, was ook so met die dansery, en ek sien hulle dus heeltemal te min. Soos ons nou hier sit, het ek hulle agt weke laas gesien! Ek het twee pragtige dogters – SanMari is al 14 en Margot is nou 11. Hulle woon tans nog in die Kaap, in Somerset-Wes. Maar ek het onlangs vir ons almal ’n huis in Vanderbijlpark op die rivier gekoop. Ek is nou besig om hom mooi reg te maak en dan trek die hele gesin boontoe. Ek het ook ’n woonstel in Johannesburg gekry. My vrou, Petra, het vantevore ook onderwys gegee, maar sy is deesdae voltyds betrokke by die Nutsman-franchise-onderneming. Sy bestuur dit, om die waarheid te sê.


Wat is jou mooiste kindertyd-herinnering?

Ek het in die Kaap naby Wynberg grootgeword, het in Worcester in die HTS Drostdy skoolgegaan. Ek is ’n regte Bolandse kind. My hele kleintyd is ’n mooi herinnering. Ek onthou toe ek ’n klein seuntjie was, het ons ’n solderkamer gehad bo-op ’n klein buitekamer en ek het altyd daar gaan dagdroom en speel. Tussen my ouers se ou tasse en stof dinge reggepak en gespeel.

Vertel meer van die Nutsman-franchise?
Die plan het uit die TV-program gegroei. Ons noem dit die Handyman Group. Soms het jy net iemand nodig wat iets so kleins doen soos om ’n paar portrette te kom ophang. Of om gou ’n muurtjie by jou swembad te bou. Of om een uit te slaan en die pleisterwerk netjies te herstel. Vandag se bouers wil oor die algemeen net groot boutake aanvat. Die beginsel agter die franchises is om vinnig, goedkoop en netjies gehelp te word. Ons lei die werkers self op. Ek is slegs die franchise-gewer en mense koop dan ’n franchise, wat hulle self bestuur. Ons het tans takke in Johannesburg, Randburg en Kaapstad, maar die belangstelling neem sterk toe. (Dit werk, het ek gaan uitvind. ’n Vriend in die Strand het onlangs iemand nodig gehad om gou ’n lekkende dak reg te maak en sy probleem is binne ’n uur deur ’n Nutsman om die hoek opgelos.)
Jy het ook onlangs ’n boek geskryf?
Ek het! Ek is nou op ’n roll, hoor. Die boek se naam is Die Nutsman: Selfdoen sonder sukkel en word deur Lapa uitgegee. Jy kan op die ou end baie rande spaar met klein werkies wat jy self kan doen. 


En daar is nog ’n hele paar ander TV-programme waarby jy betrokke is?

Die een, Iketsetse, is ’n kinderreeks op die Tubekanaal op SABC2. Daarin leer ons kinders om handvaardig te wees – hulle sit deesdae so baie voor hul rekenaars dat hulle die kleinste handwerkie nie meer kan doen nie. (Iketsetse beteken “doen dit vir jouself ” in Sotho.) Dit het sover wonderlik gewerk. Ons het reeds 52 programme vervaardig en het in Oktober begin met die volgende 26 episodes. Dan het ons ’n ander program, bietjie gegrond op die Australiese The Block, waarin ons ’n huis in Florida, Johannesburg, gekoop het en dit restoureer. Een gelukkige mens kan dit wen – die kompetisie hou aan tot in Januarie 2007. Die wenner stap dan in hierdie R2,5 miljoen-huis in, gemeubileer, en ons los boonop al die gereedskap daar. En hy of sy kry ook ’n splinternuwe motor in die motorhuis.

Wat dryf of inspireer jou?
Mooi goed. Mooi vroue. Vinnige karre. Om met my hande te werk. Adrenalien. Die gewone . . .  Maar die ding wat my die meeste inspireer, is my eie drome. As jy vir jouself ’n doelwit in jou lewe stel, kán jy dit bereik. As jy weer sien, is jy daar. As jy nie meer in jou eie drome glo nie, kan jy net so wel ophou leef. Ek leef my eie drome.
Hoe ontspan jy?
(Hy giggel.) Ek het ’n BMW L50-motorfiets waarmee ek Sondagoggende op Franschhoek gaan rondry as ek kan. Dis ongelooflike ontlading. Of sodra ek kans kry, gaan haal ek kreef uit met my boot. As daar tyd is, waterski ek saam met my kinders.


Wat wil jy nog eendag doen?

Ek sal graag nog baie en lekker TV-programme wil maak – dalk ágter die kamera later. Maar tans is ek besig om te doen wat ek die graagste wil, en dit te geniet.

Hou jy van manspeelgoed?
Ja, baie. Soos my motorfiets en my boot en eendag, eendag daai Porsche. O, ek wil definitief nog eendag ’n Porsche ry!
 
***
En o, ja, hy het ook nog vir SWD rugby gespeel.