sr1302_oscar_binne_12_rz
Ons praat met

Ons superster Oscar: “Roem nie altyd great’

Hy leef teen die pas wat 
sy glimmende lemme 
in die pylvak afstorm –
 blitsvinnig! Kyk jy na Oscar Pistorius se Twitter-inskrywings, lyk dit asof hy nie ’n oomblik stilsit nie. 
Sedert September was hy in die Seychelle, New York, 
Las Vegas, Londen, Parys . . .

Hy was nog altyd een van ons grootste celebrities, maar ná sy deelname verlede jaar aan die Olimpiese en die Paralimpiese Spele het sy bekendheid eenvoudig ontplof. Met rede, want hy is die eerste naelloper met geamputeerde bene wat aan die Olimpiese Spele deelgeneem het.

Ná altesame elf wedlope by die Olimpiese en Paralimpiese Spele en drie medaljes (twee goud en een silwer by die Paralimpiese Spele) wil die hele wêreld ’n stukkie van ons “Blade Runner” hê. Hy is die ster op van Amerika se gewildste geselsprogramme: The Tonight Show with Jay Leno, Larry King Now, Piers Morgan Tonight . . .

“Dit was fantasties om Oscar Pistorius te sien – ’n ware inspirasie en ’n wonderlike man,” het Piers Morgan ná sy onderhoud met Oscar getwiet. En die Amerikaanse akteur Tyler Perry, wat saam met Oscar op The Tonight Show with Jay Leno verskyn het, se reaksie was: “Ek het een van my helde ontmoet, Oscar Pistorius.”

In 26 jaar het Oscar byna ’n leeftyd se prestasies ingepas. Verlede jaar is hy by die SA Sporttoekenningsaand as Gestremde Sportman van die Jaar aangewys; hy was weer op die tydskrif Time se lys van die 100 invloedrykste mense in die wêreld; die tydskrif People (Amerika) het hom as een van die sexyste mense aangewys; hy was 47ste op die internasionale Men’s Health se lys van fiksste mans van alle tye en een van E! Online se tien mees inspirerende mense.

Hy is ook benoem vir Sports Illustrated (internasionaal) se mees inspirerende presteerder van 2012. En in Februarie laas jaar het hy ’n gesogte Laureus-sporttoekenning gewen vir Wêreldsportpersoon met ’n Gestremdheid.

Hy het ook op tydskrifvoorblaaie soos dié van The New York Times Magazine verskyn en plaaslik op GQ.  
Suid-Afrika se manlike weergawe van Charlize Theron?

Hy glimlag skaam. “Jy gaan my nou laat bloos.”

Op sy verjaardag op 22 November het die aktrise Denise Richards getwiet: “Happy Birthday!!!!!!!!!” Ja, dié Denise Richards, eks-Bond-meisie. En toe word sy verjaardag boonop een van die mees bespreekte onderwerpe op 
Twitter in Suid-Afrika.

Oscar gee ’n oorblufte laggie, asof hy dit self nie kan glo nie. “Ja, dis nice. Dis maar vreemd. Ek het nog altyd gesê ek is geseënd. Ek dink nie roem is iets waarmee ek al ooit gemaklik was nie. Ek hou daarvan om ’n stil lewe te leef en ek probeer soveel as moontlik uit die kollig bly.”

Vandag is daar niks van Oscar die sportster en celebrity nie. Niks van die gouemedalje-wenner op die atletiekbaan of die smeulende sekssimbool op ’n glansvoorblad nie. Dis ’n moeë Oscar wat by die houttafel in die tuin by die ateljee in Melville sit. Gedáán. “Jammer,” vra hy verskoning toe hy nie ’n gaap kan keer nie.

Sedert 1 Mei het hy binne agt maande 79 keer internasionaal gevlieg, vertel hy. “Ek dink my vlugmyle staan op iets soos 350 000.”

Hy het maar twee dae gelede teruggekom van ’n besoek aan Europa, waar hy onder meer ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Strathclyde in Skotland gekry het. Hy het saam met kundiges van dié universiteit gewerk om prosteses vir landmynslagoffers in Afrika te maak. Vir ons voorblad vandag saam met sy suster, Aimée, het hy net twee uur beskikbaar. Een vir die fotosessie en een vir die onderhoud.

Sy het nooit gedink Oscar sou so ’n groot ster word nie, vertel die 23-jarige Aimée, wat in Investec se kliëntediens-afdeling werk, vroeër in ons onderhoud. “Ek het gedink hy sal seker ’n argitek word. Hy stel baie belang in argitektuur.”

Aimée is een van sy beste vriendinne, sê Oscar. “Sy gee goeie raad. Sy is baie volwasse vir haar ouderdom. Sy is eintlik soos my ouer suster,” lag hy. (Hulle het ook ’n ouer broer, Carl.)

Tydens die fotosessie is dit duidelik dié twee het ’n sterk band. Hulle lag en maak grappies, trek mekaar se been. “Aimée is so mooi, sy is besig om my heeltemal te oorskadu,” terg Oscar.

Weg is Oscar die super-atleet. Vandag is hier net ’n broer en suster wat kleintyd in Johannesburg saam fiets gery het.

OSCAR PISTORIUS

Jy is nou ’n groter ster as ooit . . .

As jy ’n rolprentster of ’n sanger is, is roem goed, want dit help jou inkomste. Maar as jy ’n sportman is, kan dit maklik jou aandag van jou loopbaan aflei. Roem is wonderlik vir
borge en dinge, maar uiteindelik wil jy ’n suksesvolle loop-baan in sport hê. En om dít te kan doen moet jy kan fokus.

Jy het ’n besige skedule. Hoe gereeld is jy by die huis?

Ek is so vier maande van die jaar in Suid-Afrika. Die afgelope twee jaar het ek ’n huis in Gemona, Italië, waar ek vier maande van die jaar bly omdat ek daar oefen. My huis daar is tussen die berge en dis so rustig en stil.

Hoekom juis daar?

Ek het in 2010 ’n praatjie daar gelewer en die burgemeester ontmoet. Hy wou by my weet of ek dit sal oorweeg om daar te oefen en my gevra wat ek nodig het. Ses maande later kon ek na geriewe gaan kyk wat hy spesiaal vir my laat bou het. Ek het my eie atletiekbaan en ’n gimnasium. Dis net makliker om van daar af te vlieg en aan wedlope te gaan deelneem. Ek hoef nie oor kontinente te vlieg nie en die vlugte is baie korter.

Hoe kry jy deesdae tyd om te oefen?

Ek máák tyd. Ek het lidmaatskap by ’n gimnasium in Pretoria wat 24 uur van die dag oop is. Ek was al in die middel van die nag daar. Ek het ’n goeie span wat my lewe so maklik moontlik maak. Hulle maak ook seker ek eet reg en slaap genoeg.

Jy en jou suster, Aimée, is na aan mekaar.

Sy was nog altyd ’n baie goeie vriendin. Ons kyk mooi na mekaar. Sy gaan uit haar pad om klein dingetjies vir my te doen en help my met die dinge waarvoor ek nie tyd het nie. As my PA besig is, hardloop Aimée rond en maak vir my haarafsprake. Soms sny sy sommer self my hare! Ek dink sy gee te veel van haarself. Sy’s een van daai mense wat jy maklik as vanselfsprekend aanvaar omdat sy so sag is. Maar sy is stout, hoor . . .

Hoe so?

Ek en my broer het in ’n stadium vir haar sakgeld gegee. Toe ek hom een keer bel, het hy gesê hy is in die bank, besig om geld vir Aimée oor te plaas. Hy vertel toe hy gee haar elke maand ’n bietjie ekstra geld omdat sy nie uitkom nie. Ek sê toe vir hom sy doen dit met my ook! Sy is besig om ons al twee ’n rat voor die oë te draai. Sy het ’n taamlike goeie salaris verdien vir iemand van 18. [Lag.] Toe maak ons maar asof ons haar nie uitgevang het nie en gee elke maand ekstra geld totdat sy begin werk het.

In jou loopbaan was daar al baie toekennings en eerbewyse. Sommige daarvan was vir sport en ander was vir jou sexy voorkoms.

[Lag.] Ja.

Jy is byvoorbeeld een van People se sexyste mense in die wêreld.

Dis cool. Dis pret, jy weet. Maar die toekenning waarop ek die trotsste is, is Time wat my gekies het as een van sy 100 invloedrykste mense. Dit was so ’n groot eer. As ’n sportman is jy ’n handelsmerk. En as ’n individuele sportman maak jy baie staat op daardie handelsmerk. Jy gee alles om die beste atleet op die veld te wees, maar jy probeer ook om jou handelsmerk van die veld af te bevorder.

Jy het al soveel internasionale bekendes ontmoet. Wie nog vir jou?

Michael Jordan [’n voormalige basketbalspeler]. Dit sal cool wees. Ek sal ook graag vir [pres. Barack] Obama wil ontmoet. En Valentino Rossi. Hy is ’n MotoGP-kampioen. Ek is mal oor karre en ’n groot aanhanger van hom.

Wat is jou droommotor?

Ek is mal oor McLaren, nog altyd. Die McLaren F1 was baie lank die vinnigste kar in die wêreld. Ek het nou vir my ’n McLaren Spider bestel. ’n Ratkas het my nog altyd gefassineer. Toe ek 21 was, het ek vir my ’n ou Ford Mustang gekoop wat ek self opgebou het.

Wat was die laagste punt in jou loopbaan?

My bootongeluk. Ek het by die Vaalrivier met my motorboot in ’n pier vasgery wat onder die water was. [Dit was in Februarie 2009.] Ek was ’n paar dae in ’n koma. Toe ek daar wakker word, was bene in my gesig gebreek, ek was byna dood. Van my ribbes en my arm was gebreek. Ek het meer as 100 steke in my gesig gehad . . . Daar was baie koerantberigte – regte tabloid-agtige gemors . . . Ek het een koerantstorie gelees met ’n opskrif soos ‘Was hy gedrink?’, maar dis nêrens in die storie self genoem nie. Dit het niks te doen gehad met drank nie. Die Suid-Afrikaanse media is soms baie sensasioneel.

Daar is min agting vir die waarheid. Ek doen nie regtig meer onderhoude in Suid-Afrika nie. As iemand iets oor my skryf wat nie waar is nie, maak ek net my boekie oop en maak ’n nota . . .

Watter soort nota?

Net ’n nota. Ek het ’n klein swart boekie. Ek weet hoeveel tyd ek bestee aan humanitêre werk, hoeveel tyd ek gee aan die mense wat na aan my is. Ek weet watter soort mens ek is. Ek hoef myself nie elke vyf minute te verdedig nie. As jy betrokke gaan raak in argumente oor wie wat gesê het, gaan jy sensasie skep. Ek gaan nie betrokke raak by dinge wat my tyd mors en negatief is nie. Dis nie die moeite werd nie.

Hanteer jy negatiewe publisiteit makliker
soos jy ouer word?

Baie makliker. Toe ek jonger was, wou ek die joernalis bel en ’n klomp goed kwytraak. Aan die einde van die dag . . . [Hy sug.] As ek kommentaar op ’n storie gaan lewer, word dit net groter. [Hy bly ’n oomblik stil en dink.] Roem is nie so great nie. Soos enigiets in die lewe het dit maar sy voor- en nadele, sy hoogte- en laagtepunte. Die beste ding wat jy kan doen, is om dit nie na jou kop te laat gaan wanneer jy hoogtes bereik nie. Want dis net ’n kwessie van tyd voordat jy afgekap word. Leef net die lewe en wees nice met mense.

Die koerante was vol van jou verhouding
wat verbrokkel het. [Luidens berigte het sy meisie hom glo verneuk en Oscar het gedreig om die ander man se bene te breek.] Hoe hanteer jy dit?

Dis moeilik. Veral omdat jy nie altyd jou kant van die storie kan gee nie. Of wil gee nie – omdat jy nie wil hê jou private lewe moet in die openbaar bespreek word nie. Baie van die goed wat die laaste tyd in die koerante was, was hartverskeurend, meer as enigiets anders. Jy vertrou iemand en dan gaan doen hulle iets heeltemal onverwags. Jy leer maar daaruit.

Is jy wantrouig in die begin van ’n verhouding?

Jy is net nooit té seker in ’n verhouding nie. Jy waag ’n kans elke keer dat jy iemand leer ken. Maar jy kan nie te sinies oor enigiets in die lewe wees nie. Jy kan maar net hoop die persoon saam met wie jy is, het integriteit. Dis moeilik om die regte persoon te kry, een wat betroubaar is en jou private goed privaat sal hou. Dit verg ’n baie spesiale mens om in ’n verhouding met ’n sportman te wees. Ek weet dit. Dis nie ’n maklike lewe nie. Ek reis so baie. Jy het iemand nodig wat óf saam met jou kan reis óf super-tegemoetkomend is. Dit is dus ’n uitdaging, ja. Ek het nog nie die regte persoon gekry nie, maar dis oukei.

Wat beskou jy as jou beste prestasie?

My prestasies verlede jaar in Londen. Ek dink vir iemand wat nie ’n atleet is nie, is dit moeilik om te verstaan, maar Londen was moeilik. Ek het aan meer wedlope as enige ander atleet deelgeneem, omdat ek aan die Olimpiese en die Paralimpiese Spele deelgeneem het. Om vir so lank gefokus te bly was erg.

By die Olimpiese Spele het ek my naasvinnigste tyd in die 400 m gehardloop. By die Paralimpiese Spele het ek drie medaljes gewen vir die vier items waaraan ek deelgeneem het, en ek het twee wêreldrekords en ’n Paralimpiese rekord opgestel. Ek kan nie regtig vir veel meer as dit hoop nie.

Wat bly dan oor?

Om hard te werk. Ek was nog nooit tevrede met waar ek is nie. Ek dink dít is die eienskap van enige sportman wat die beste wil wees. As jy ’n doelwit bereik het, kan jy nie dink: “Wat nou?” nie. Jy moet aanbeweeg. Vanjaar wil ek vinniger as verlede jaar hardloop. Al verbeter ek my tyd met net ’n tiende van ’n sekonde. Rio [de Janeiro, waar die volgende Olimpiese Spele in 2016 gehou gaan word] sal my laaste groot piek wees. Dan sal ek seker aftree. Miskien hardloop ek nog by die Wêreldkampioenskap in Londen in 2017. Dan is ek 30. Dis ’n goeie tyd om af te tree, want naellopers se beste hardloopjare is tussen 27 en 29.

Sal jy dit ooit oorweeg om permanent
oorsee te gaan woon?

Ek is te lief vir Suid-Afrika. Ek sal altyd ’n huis hier hê. Ek is mal oor die mense hier. Ja, baie lande se inwoners is vriendelik en gasvry, maar ons het iets wat baie uniek is. En ons beleef nie eintlik natuurrampe nie, ons het wonderlike landbou. Ek is elke jaar vir byna agt maande van die jaar oorsee.

Vier maande daarvan is aaneenlopend. As ek dan terugkom, wil ek net YFM luister en ek eet byna vir ’n week pap. [Lag.] Daar sal altyd ’n deel van my wees wat smag om in Suid-Afrika te wees.