Zetske van Pletzen en Altus Theart. FOTO: Phyllis Green; STILERING: Fanie Cronjé

Ons praat met

Ons werk & speel saam: bekende pare praat DEEL 1

Om saam met jou geliefde te werk is nie net maneskyn en rose nie – daar is ook baie uitdagings. Maar as jy dit reg hanteer, is dit ’n groot bonus, sê bekende pare.

‘Ons kom mekaar halfpad tegemoet’

Altus Theart en Zetske van Pletzen

Dié akteurspaar het in 2008 op die stel van die kykNET-dramareeks Kruispad ontmoet. Zetske, wat voorheen in 7de Laan te sien was, en Altus, bekend vir sy rol in Getroud met rugby, is in Januarie 2012 getroud. Sedertdien was hulle in twee kortfilms, twee musiekvideo’s en saam op die verhoog in The Queen Experience. Hulle skryf ook saam aan ’n fliek en werklikheidsreeks.

Party paartjies kan 24/7 in mekaar se geselskap wees en ander nie,” sê Zetske. “Ek en Altus kan dit maklik dag en nag doen. Saam werk is vir ons baie lekker.”

“Watter beter kollega kan jy hê as jou beste vriend?” vra Altus. “Maar ons het ook al lekker koppe gestamp!”

“Ja, ongelukkig stem kollegas nie altyd ooreen nie,” kamma-sug Zetske. “Jy moet leer om kritiek te aanvaar. Jy leer ook ’n ander kant, ’n professionele kant, van  jouself en jou maat ken. Maar omdat ons in dieselfde bedryf werk, kan ons mekaar help met konstruktiewe kritiek.”

Genoeg ruimte en kommunikasie is vir hulle die sleutel.

“Julle moet mekaar nie versmoor nie, maar ondersteun en opbouend wees,” sê Zetske.

Altus meen dis gee en neem – hulle moet mekaar soms halfpad tegemoetkom. Vir Zetske is die grootste voordeel die ekstra tyd saam met haar man. “Ons staan saam vroeg op, kom saam laat tuis, toer saam en ontdek saam nuwe plekke. Dis nooit lekker om alleen vir werk te reis nie.”

“Vir my is die grootste bonus dat ons ons eie baas is,” sê Altus. “Ons voel in beheer van ons toekoms.”

Hul grootste uitdaging? Om die romanse lewendig te hou. “Ons moes leer om nie enige werk-kwessies met ons verhouding te laat inmeng nie. Al sien ons mekaar

heeldag, is dit steeds belangrik om tyd saam deur te bring en dinge te doen wat niks met werk te make het nie. Ons gaan op dates en besluit vooraf om nie oor werksake te praat nie,” sê Zetske.

*Dit klink idillies. Julle is verlief en is ’n hegte span. En nou is julle nog boonop so gelukkig om saam te werk…

Daar is baie voordele verbonde aan saam werk, beaam Hein Brand, bedryfsielkundige aan die Universiteit van Pretoria.

Elke dag leer julle mekaar op werk- én persoonlike vlak beter ken. Elke week is ’n nuwe geleentheid om jul verhouding te versterk.

“Deur saam te werk leer jy jou maat se behoeftes, ideale, verhouding met base en

kollegas, hantering van konflik en druk, etiese werksgedrag en persoonlike integriteit beter ken,” sê hy.

Maar daar is ook slaggate as jy dag én nag in mekaar se geselskap is.

“Gewone werksomstandighede het reeds sy uitdagings. Dit kan soveel meer persoonlik raak as julle boonop in ’n verhouding is. Dis dalk vir julle moeilik om saam te werk in ’n span of onder knap spertye. Boonop het julle elkeen jul eie  loopbaanaspirasies, en as dit lei tot mededinging, pleks dat jou geliefde jou drome ondersteun, kan dit spanning en konflik in jul verhouding veroorsaak.

“Wees bewus van sulke moontlike struikelblokke en wees bereid om dit te hanteer. Leer in die proses mekaar se goeie én slegte eienskappe goed ken en aanvaar dit. Volwassenheid in ’n verhouding is belangrik en gee paartjies ’n beter kans op sukses.”