Ons praat met

Onse Mimi – ‘Koningin van opera’ – is vandag 80 jaar oud!

Tienuur op ’n Maandagoggend is dit stil in Mimi Coertse se Waterkloof-huis in Pretoria. Al wat jy hoor, is die tortelduiwe se koer-koooeeer hier buite en die hondjie Roberto wat aan die deur krap-krap om in te kom.

Die enigste teken dat ’n regte, egte prima donna hier woon, is die roomkleurige vleuelklavier in die hoek, twee geraamde sertifikate van die Weense Staatsopera teen die muur en ’n groot skildery van ’n jong Mimi in ’n vlootblou aandrok. Dis ’n mooi, groot huis vol herinneringe en stories wat na hout, klaviervelt en boeke ruik.

Die volgende oomblik kom sy by haar sitkamer ingestap. “Ek gaan jou nou wegjaag uit my stoel,” sê sy droogweg. “Ek moet in hom sit vir my rug.”

Mimi word vanjaar 80 jaar oud. Sy trek haar mond op ’n streep van afkeer en gelatenheid. “Man, hoe sal ek nou vir jou sê . . . Dis nog nie vir my ’n werklikheid nie. Partykeer moet ek in my kop vir myself sê: ‘Coertse, gedra jou nou, jy’s nie nou dertig of veertig nie.’ En ja, oukei, hier is dit nou.” Sy kyk op met ’n glimlaggie. “Maar ek kan nie vir jou sê hoe ek dit waardeer dat almal so ’n fuss maak daaroor nie.”

Die fuss is byvoorbeeld kykNET se huldeblyk-konsert Onse Mimi, wat vroeër vanjaar by Kunstekaap opgeneem is en op 10 Junie op dié kanaal uitgesaai word. “Ooo man, ek sal dit in my lewe nooit vergeet nie, dit was die wonderlikste aand wat daar was. Die koor, orkes en die mense in daardie saal wat almal op een slag opstaan en hande klap en alles . . .”

Sy het almal verras en self ook ’n nommer gelewer of, soos sy verkies om dit te stel: “Man, ek het net ’n frase gesing.” Dit was uit die opera Die Vrolike Weduwee. “Toe eindig ek saam met hulle almal. Die mense het verskriklik geklap.” Sy vleg haar vingers inmekaar, skielik verleë. “Hulle het heeltemal oorboord gegaan.”

Op 80 is sy sterk en fors. “Daar’s niks met my verkeerd nie, dank die Here daarvoor.” Wanneer sy terugkyk oor haar lewe, voel sy net geseënd, sê sy. “Want alles het in plek geval – het gebeur toe dit moes gebeur het. Ek’s op die ouderdom van 21 jaar oorsee, op 23 is ek permanent in die Weense Staatsopera aangestel. Geluk is om op die regte tyd op die regte plek te wees.” 

’n Oomblik se stilte, ’n kwaai wysvinger: “Maar voorbereid.” Sewentien jaar lank – van 1956 tot 1973 – het sy as operasanger dié permanente aanstelling beklee en in al wat ’n land is gesing. “Ek mis dit,” mymer sy en kyk na buite deur die glasdeur, ver terug tot in Wene, tot in 1956. “Ek mis dit baie, ek moet eerlik sê.”

Al was sy ’n Boeremeisie van Durban, al was haar medesangers wêreldberoemd, al het sy besef sy’s op 23 die jongste mens nog wat permanent in die Weense Staatsopera aangestel is, is senuwees nie iets wat sy ooit geken het nie. “Hulle het altyd gesê ek’s soos ’n sirkusperd, ek wil net op die verhoog kom om te wys hoe hoog ek my pote kan optel.”

Van die talle rolle wat sy in haar loopbaan gesing het, is sy die heel bekendste vir haar manjifieke vertolking van Koningin van die Nag in Mozart se Die Towerfluit – 520 keer 
in verskillende tale en lande. “In Duits, Italiaans, Engels en in Frans. Maar Frans het nie vir my lekker gesing nie, ek kon dit nie vat nie.”

Die gewilde wraak-aria met daardie glaskraak-hoë note, daardie hoendervel-hoë F, wat baie soprane net kan uitpiep, was nooit vir haar moeilik nie. “Hy was daar van die begin af. Ek het hom nie geleer nie, hy was net daar.” Trouens, sy kon in ’n stadium ook nog die C bo daardie hoë F raak sing. Dis maklik twee oktawe hoër as wat die gemiddelde mens kan sing.

Mimi is een van net ’n hand vol ware prima donnas wat Suid-Afrika al opgelewer het. In Suid-Afrika en in Oostenryk het sy ’n eremedalje van die Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang en in 1966 het sy ook die gesogte titel Kammersängerin in Oostenryk verkry. “Hierdie ding wou ek hê, jong. Ek’s op almal trots, maar dis die een wat ek graag wou hê.”

Terwyl ons haar prestasies deurdraf, maak sy seker ons spel haar van reg. “Coertse met ’n s, nie ’n z nie. Dié met ’n z kan nie sing nie.”

Sy was op haar dag een van die wêreld se beste koloratuur-sangers (soprane wat die hoogste note sing), sê Johann Botha, opera-kenner en voormalige aanbieder van die radioprogram Dis Opera op RSG.

“Vir ons Suid-Afrikaners is sy Mimi, een van die bekendste mense in die land, maar ons besef nie watter internasionale statuur sy het nie.” Johann was al twee maal saam met haar Wene toe en elke keer word sy op die hande gedra, sê hy. “Presidensiële suites, blomme, mense wat haar inwag met boeke en foto’s wat hulle wil hê sy moet teken. Dis byna 40 jaar sedert sy uit Wene weg is en sy het steeds so ’n aanhang daar. Al die toekennings wat ’n kunstenaar kán kry, het Mimi in Oostenryk gekry. Ek dink nie Suid-Afrikaners besef dit nie.”

Een van die beroemde operasangers saam met wie sy opgetree het, was die tenoor Luciano Pavarotti. “Hy was tall, dark and handsome.” Sy lag. “Ons wou hom almal huis toe vat, jislaaik.”

Mimi het ook lank onder die beroemde dirigent wyle Herbert von Karajan gewerk. “Min mense het met hom gekliek, maar ek het.” In ’n stadium het sy en van haar vriende as stokperdjie begin hangsweef.

“Karajan roep my toe in en sê hy hoor ek doen hang gliding. Hy sê: ‘Die fynskrif in jou kontrak sê jy mag niks gevaarliks doen nie.’ Man, nou’s ek cheeky en ek sê: ‘Maestro, maar jy ski dan.’ En hy sit so agteroor in sy stoel en hy sê: ‘Ja, maar ék kan.’ Ek het net daar omgedraai en uitgeloop.”

Sy het ook aan motorwedrenne deelgeneem – sommer so in die straat. “Hulle’t dit rallies genoem,” vertel sy. “Ek het natuurlik gereeld gewen.” Maar dít het sy altyd onder skuilname gedoen, “want ek was bang dit kom weer by Karajan uit”. Sy sit terug, lag genoeglik. “Maar daai hang gliding was terrific, jissie.”

Al is sy die bekendste vir haar rol as Koningin van die Nag, was haar gunsteling dié van Lucia in die opera Lucia di Lammermoor. “In die waansin-aria moet jy toneel speel en dinge met jou stem doen wat jy self nie kan glo nie. Ag, ek was mal oor die Lucia. Sy was in ’n huwelik gedwing wat sy nie wou hê nie. Toe begint sy mal word en vermoor die ou.”

Mimi weet hoe dit voel om in ’n ongelukkige huwelik vasgevang te wees. Sy was drie keer getroud en is drie keer geskei. Hoeveel keer was sy regtig verlief? “Nee, ek kan nie onthou nie,” sê sy effe vererg. Dan gee sy met ’n stout glimlag toe: “Oukei, ek het taamlik baie episodes gehad, kom ons sê so.” Stilte.

“Nee, my hartjie, that’s it,” en sy haal selfbewus ’n wolletjie van haar broekspyp af.

Haar eerste huwelik was met ’n Suid-Afrikaner en die tweede met ’n Italianer. Sy was vier jaar lank met elkeen van hulle getroud. “Wee’ jy, ek was so miserabel in daai eerste twee huwelike dat ek my toetentaal net op my loopbaan toegespits het. Ek het net gedink, orraait, ek gaan al hierdie dinge vergeet en vanaand net sing.”

Die derde huwelik was met Werner Ackermann. Hulle was 24 jaar getroud voor hulle geskei is. “Ek sal nooit vergeet nie: Toe ek en Werner vyf jaar getroud is, toe gee ek een middag ’n lekker groot partytjie. En die klomp vroue sit daar en sê: ‘Haai, Mimi, julle’s nou vyf jaar getroud, is daar iets spesiaals aan vyf jaar daar in Oostenryk?’  Toe sê ek: ‘Nee man, dis die eerste keer dat ek vyf jaar getroud is.’ Niemand het gelag nie.”

Haar siel het eers van Oostenryk na Suid-Afrika teruggekeer nadat sy kinders gekry het, sê sy. Sy en Werner het twee kinders: Mia (nou 37) en Werner (nou 35). Albei van hulle woon in die Pretoria-omgewing. “Dankie vader vir dit, dat hulle hier by my is. Ek het net besluit ek wil kinders hê, ek kan nie sonder kinders nie. Hul kinderjare was vir my van die wonderlikste tye van my lewe.”

Van die Afrikaanse liedere wat sy gesing het, is haar gunsteling “As ek moet sterwe”. Sy staan moeisaam op. “Wag ’n bietjie, dat ek net kyk.” Sy maak ’n pragtige houtkas in die sitkamer oop. Binne is dit met rooi fluweel uitgevoer en van hoek tot kant met CD’s volgepak. Sy 
soek deur die CD’s. “Man, waar is die blessit ding? Ek 
het dit nou die dag in my hand gehad.” Dan kry sy hom. “Hoor hier, hy’s verskriklik kort, ek wil hom net speel dat jy net hoor.”

Toe dit begin speel, staan sy fronsend, arms gevou en luister. “Al wat ek vra, is blomme,” sing die jong Mimi en die ouer een vorm die woorde met haar mond in stilte saam, “’n krans van rose skoon”. Sy knik haar kop op die maat van die musiek, frons op die hoë note. Toe dit klaar is, sê sy: “Kind, hierdie is baie lank gelede opgeneem.”

Voordat sy weer kom sit, staan sy ’n rukkie so en vryf oor haar oë. “Seker maar noudat ek ouer word, is dit meer wat ek sou wou hê. Moenie oor my huil as ek doodgaan nie, sit net blomme op my graf and that’s the end.”

Later in die onderhoud, op ’n vroliker noot, maak sy die skatkis weer oop – dié keer om haar beroemde wraak-aria as Koningin van die Nag te speel.

Soos stroop loop dit deur die hele huis, gee elke 
lewende wese, ook Roberto en die tortelduiwe, sewe lae hoendervel. Mimi staan voor die kas teenaan die rooi fluweel. Sy byt ingedagte haar pinkie terwyl sy luister. 
Toe daardie goddelike hoë note kom, lig haar swart wenkbroue saam met die musiek. Dis weer 1956 en die jare tussen Mimi en die jong prima donna in die skildery verdwyn. Sy’s weer die Koningin van die Nag wat hahaha deur die hoë note lag.

Toe dit klaar is, kom sit sy weer, moeg van al die terugdink en terugkyk. Nog ’n rukkie se gesels en dan 
moet ek ry, die konsert is verby. Toe ons in stilte uitstap, hoor jy weer net die tortelduiwe se gekoer en dan die 
prima donna wat groet – half kwaaierig, half verleërig 
met ’n “Nou ja, toe. ”

[box:full:red:both]

* kykNET saai op 12 Junie, op Mimi se verjaardag, 
’n dokumentêr oor haar lewe uit. Dis deur Johann 
Botha vervaardig.

[/box]

  • Christelle Wessels

    Wonderlike artikel oor ‘n ongelooflike – en absolute fabulous! – vrou. Selfs as klein dogtertjie het ek haar bewonder – sekerlik tot my ma se ergenis, want as vyfjarige het ek geweier om kinderliedjies te luister, ek wou net die heeltyd haar Mimi-plaat speel. Daar was maar net één Koningin van die Nag – en dit was Mimi.

  • Marietjie Marx.

    Ai, wat ‘n wonderlike vrou is onse Mimi nie?! Ja, dis vir my ‘n voorreg om haar te ken. Van kleins af het ek na haar musiek geluister, hetsy plate of op die radio. Gelukkig was dit nie net ek wat van haar musiek geluister het nie, my ma was net so dol oor haar musiek. Baie geluk met tannie se verjaarsdag!