FOTO: Andrea Streso as Danelle

FOTO: Andrea Streso as Danelle

Ons praat met

Ontmoet ‘7de Laan’ se Danelle

Die 22-jarige Andrea Streso, beter bekend as Danelle van die Laan, se wortels lê in Port Elizabeth, maar die lewe het haar al op ’n kronkelpad gestuur. Nou, as jong werkende aktrise woon dié gekwalifiseerde gehoor- en spraakterapeut in Johannesburg. SARIE.com leer meer oor dié slimkop.

Waar het jy al oral gewoon?

Ek sê maar altyd ek skrik beslis nie vir trek nie, want my hart lê baie wyd. Port Elizabeth is my grootword-plek. ’n Groot deel van my Andrea-wees is daar gebêre – my wortels, kindertyd-herinneringe en tiener-tantrums. Ek het spraak-, taal- en gehoorterapie by die universiteit van Stellenbosch studeer en was in ’n beeldskone koshuis – die tipe wat jy  net in die strate van Stellenbosch kan vind. Daarna is ek Kaap toe en die Kaapse skoonheid het ongetwyfeld my hart gesteel. Ek noem myself ’n Kaapse kind omdat ek so groot deel van myself êrens om die Kaapse draai gevind het. My ouers het so twee jaar gelede die Karoo-rustigheid beter leer ken toe hulle Beaufort-Wes toe verhuis het. Ek kuier so af en toe daar as ek te veel na my honde verlang. Maar oral het ek mense wat ongelooflik kosbaar is vir my.

Nou woon jy in Johannesburg – was dit maklik om aan te pas?

Dit was ’n geweldige aanpassing – nie net die wilde, vinnige stad nie, maar ek het vir die eerste keer besef hoe beskermd jy is terwyl jy nog ’n student is. Jy is omring met mense wat jy ken, mense wat dieselfde belangstellings as jy deel en jou vriende is almal naby aan jou. Dit het my ’n ruk gevat om my nuwe omgewing my eie te maak. Mens moet maar leer om jou pad en jouself te vind.

Wat is die grootste uitdaging?

Die verkeer!

Hoe was jy as kind?

Ek was ’n baie gelukkige kaalvoetkind met ’n groot verbeelding en ’n liefde vir buite-speel. Ek was ’n moeilike tiener met tantrums en baie teësin, maar net by die huis. My ouers se hande was vol, maar my onderwysers het geglo ek is baie oulik. Ek was baie veelsydig op skool en vreeslik voorbeeldig. Maar tussendeur was ek altyd maar sosiaal, geesdriftig en glad nie skaam nie.

Wou jy nog altyd toneelspeel?

Vandat ek kan onthou wou ek toneelspeel, snaaks genoeg het ek as kind altyd speel-speel in Oppiekoffie (die koffiehuis in 7de Laan) gewerk. My ambisie het natuurlik gevorder van laerskool-revue na kunstefeeste, veral kabaret, en die liefde het gebly. Dit was moeilik op universiteit  om met só ’n liefde saam te leef terwyl jy eintlik werk aan ’n ander toekoms, maar ek het vining besef ek sal my passie vir toneelspel nie sommer kan ignoreer nie.

Wat is jou toneel-ervaring?

Ek het in verskeie tienerproduksies gespeel by feeste soos die KKNK, Aardklop, Volksbladfees en die Suidoosterfees. My laaste en grootste professionele verhoogstuk was “Vaselinetjie” waarin ek vir 3 jaar die rol van “Vaselinetjie” vertolk het, o.l.v. Henry Mylne. Ek het ook Maandag-middae ná skool my eie radioprogram vir ’n plaaslike radiostasie geskryf en aangebied.

Hoe het jy toe by 7de Laan beland?

Ek het klas ge-bunk en skelm gegaan vir ’n oudisie. Ek het by ’n vriend in die bedryf gehoor van die ope oudisies in Kaapstad en nie twee keer gedink nie. Ek het voorberei en saam met die res van die meisies deur die hele proses gegaan. Min het ek geweet dit sou op die ou end ontaard in die grootste lewensbesluit wat ek nog moes gemaak het! En toe na ’n paar oproepe, heelwat mooi verduidelikings en hartseer koebaai’s is ek alleen sak en pak Johannesburg toe. Maar hier is ek nou en nie vir een oomblik spyt nie.

Wie speel jy in 7de Laan?

Ek speel Danelle Viljoen, ’n saggeaarde, goedhartige Sannie-vannie-plaas, wat die groot stad en sy mense nog baie intimiderend vind. Sy is Diederik se niggie, werk in Oppiekoffie en bly by Charmaine. Sy is sterk en altyd vasbeslote om die regte ding te doen. Sy het geen verskuilde agenda’s nie en kan beslis nie ’n rat voor iemand se oë draai nie.  Sy is die onskuldigheid self en soms baie naïef.

FOTO: Andrea Streso as Danelle

FOTO: Andrea Streso as Danelle

Is jy soos jou karakter?

Ek dink as akteur vind jy dele van jouself in elke karakter wat jy speel, meer dikwels as wat ons sou wou erken.

Wat is die grootste uitdaging van jou karakter?

Danelle is baie teruggetrokke en in sekere situasies vreeslik naïef. ’n Genre soos ’n sepie soos 7de Laan vereis ’n baie hoë energie-vlak en dis beslis ’n uitdaging om die energie te behou terwyl jy teruggetrokke moet speel.

Vinnige 5:

Gunsteling drankie: Rooiwyn

Wat inspireer jou? Mense wat hul potensiaal uitleef. Op ’n manier vind ek altyd iemand êrens wat my inspireer.

Troeteldiere? ’n Kat met die naam Merlot.

Grootste droom: Ah! Om ’n plaashuis in Italië te besit: met lekker wyn, lekker kos, goeie geselskap en sonneblomme.

Gunsteling-gesegde: “You have to go there to come back.”