Ons praat met

Ontmoet Mej. SA, Melinda Bam

Melinda spog ook met die titels Mej. Waterkloof (2007) en Mej. Tropika Oos-Kaap (2007). Sy glo as Mej. SA moet sy alle Suid-Afrikaners herinner aan die warmte van ons inwoners en sy wil nie skroom om mense te help nie . . .
 
1) Watter emosies het deur jou gegaandie oomblik toe die kroon op jou kop gesit word?

Totale skok. Ek kan nie vir iemand verduidelik teen watter spoed jou gedagtes deur jou kop druis nie. My kindertyd-droom het waar geword. Ek het heeltyd op die verhoog waardering vir die Here se plan gehad.
 
2) Hoekom het jy deelgeneem? En dink jy daar is nog ‘n plek in vandag se moderne samelewing vir skoonheidswedstryde? Feministe trek hul neus daarvoor op!

As klein meisietjie droom jy van die rokke, die verhoog en die kroon, maar as jy ouer word en jou passie vir mense ontwaak, sien jy dit as groter platform om daardie passie uit te leef. Die grootste geskenk wat ons as vroue het, is ons sagtheid, vroulikheid en sexyness. Maar ons is ook sterk. Mej. Suid-Afrika verteenwoordig dít als vir my.
 
3) Vanjaar was daar ‘n nuwe formaat van dié wedstryd, The Road to Miss SA, ‘n werklikheidsprogram op Mzansi Magic nege weke voor die kroning. Julle moes allerlei take daarop verrig sodat die publiek julle beter kon leer ken. Het jy dit geniet?

Die beoordelaars, onder wie Sonia Raciti-Oshry en Joan Ramagoshi, albei vorige Mej. SA’s, en ‘n vorige tweede prinses, Sonia Booth, asook Kieno Kammies (joernalis en gasheer van ‘n kletsprogram), die ontwerper Gert-Johan Coetzee en die mode-konsultant Paledi Segapo het ons geleer jy moet net jouself wees in als wat jy aanpak.

Ons het allerlei werksessies bygewoon. Daar was klerekasbeplanning, en ons het geleer oor mediaverhougings, sosiale netwerke en fiksheids- en gesondheidsroetines. Dit was veral die laaste week `n emosionele mallemeule. Baie mense het op e-pos en Twitter vir my boodskappe gestuur om my sterkte toe te wens. Dis swaar om meisies mettertyd te groet met wie jy ‘n lang pad gestap het. Jy groei baie en leer soveel van jouself.
 
4) Wie was die belangrikste mentors in jou lewe?

My ma, Wanda Bam, en my oupa, Marius van Heerden. My ma het ons geleer om te kies om gelukkig te wees en altyd te onthou wat ons potensiaal is. My oupa weer het vir my en my sussie, Melissa, gesê: ‘Jy is nie die produk van jou omstandighede nie, jy is die produk van jou keuse.’
 
5) Wat dink jy is jou rol vanjaar?

Ek moet alles vir almal wees. Ek wil Suid-Afrikaners herinner aan die unieke en kosbare dinge in ons land. Ek wil hê Mej. SA moet herkenbaar wees in elke huisgesin. As mense verby my stap, moet hulle voel hulle ken my.

Ek wil ook fokus op ‘n kleuterskool en kinderhuis vir verwaarloosde en mishandelde kinders in Alexandra, Johannesburg. Dit is my voorreg om hulle te kan help, ‘n pad met die kinders te stap en hulle ‘n sin van normaliteit te gee sodat hulle ook hul potensiaal kan besef.

Ek wil ook saam met die minister van sport, Fikile Mbalula, werk om ‘n aktiewe en gesonde leefstyl te bevorder. Ek weet hoe belangrik dit vir my is om gesond en fiks te wees.
 
6) Wat wil jy ná jou jaar as Mej. SA doen?

Ek wil my honneursgraad in B.Com. bemarkingsbestuur voltooi en ‘n agentskap vir interne kommunikasie en bemarking begin, wat gefokus is op korporatiewe kultuur en produktiwiteit. Ek wil ook steeds betrokke wees by volhoubare liefdadigheidsprojekte.
 
7) Wat dink jy van die toekoms van Suid-Afrika?

Ek het ses maande as model in China gewerk. Dit was ‘n ongelooflike leerskool en het vir my die geleentheid gegee om onafhanklik te wees en ‘n bietjie na binne te kyk. Met my terugkeer, het ek besef ons land, sy mense en ons natuur is inderdaad besonders. Ek kan my nie indink dat daar regtig groener weivelde is nie. Ek dink die toekoms is blink. Die foute van die verlede bepaal nie ons toekoms nie. Môre is net so goed soos wat ek dit vir myself en ander gaan maak.
 
8) Almal dink altyd dis so glam om Mej. SA te wees, maar wat gaan agter die skerms aan?

Mense besef nie altyd hoe besig jou skedule is en hoe min ‘n Mej. SA slaap nie. Dit sal tyd neem om aan gewoond te raak. Maar dit sal my beslis nie laat heroorweeg of ek wou deelneem nie. En ek kyk nie terug nie. Die harde oefening en stres was uitmergelend, maar daar is kleiner oomblikke in elke dag waar mense waardering wys, wat weer alles die moeite werd maak. Dis beslis nie maanskyn en rose nie.
 
9) Jy en jou ma en sussie het ook al saam twee boeke geskryf, vertel ‘n bietjie meer daarvan.

Ons is Christelike skrywers en het Hoor wat ek sê en Praat met my (wat as bundel verkoop word) geskryf. Dit gaan oor die dinamika tussen ma’s en dogters. Ek is seker dat ek dié jaar weer die pen sal optel.
 
10) Is jy gereed vir Mej. Heelal en Mej. Wêreld?

Daar is nog geen definitiewe datums vir die Mej. Heelal-wedstryd nie. Mej. Wêreld vind op 18 Augustus in Mongolië plaas. Ek het groot verwagtinge vir albei wedstryde. Ek wil regtig ‘n wye verskeidenheid van Suid-Afrikaanse ontwerpers se werk ten toon stel, lig op dié talent laat val op ‘n internasionale verhoog.

  • Tjaart Herbst

    Baie geluk, mag jy gaan van krag tot krag en net voorspoed op jou pad vorentoe ervaar
    Groete uit Thailand

  • Melanie Hartzenberg

    "Stunning met ‘n fokus vir die toekoms"

  • Marietjie Huisamen

    Sy is pragtig met haar voete stewig op die aarde. Sy is ‘n inspirasie vir alle jong mense en ek dink sy sal ‘n goeie ambassadeur vir ons land wees

  • Benita Lombard

    Ek dink sy’s pragtig en nie ‘n leë koppie nie. Ons het meer sulke ambassadeurs nodig in vandag se tyd!

  • ALTA

    Wat ‘n verfrissing! ‘n Jong meisie wat nie skroom om haar geloof uit te leef nie. Ons eer Jesus
    Christus daarvoor! Haar ma en oupa het hulle baie goed gekwyt van die enorme taak. WELGEDAAN!

  • Janine Botha

    Ek wil graag uitvind waar ek haar kan kontak vir gasspreker vir `n dames oggend.