hendrik_cronje
Ons praat met

Op ‘n eiland saam met Lukas van 7de Laan

Die 24-jarige Hendrik Cronjé, beter bekend as Lukas van die SABC2-sepie 7de Laan, gaan in die plek van Olimpiese swemmer Roland Schoeman na Tropika Island of Treasure 2, die nuwe e.TV-realiteitsreeks, wat van 18 Oktober tot 6 Desember uitgesaai word. In dié reeks kry hy en 9 ander glanspersoonlikhede, Loyiso Bala, Kelly Khumalo, Trevor Noah, Bianca le Grange, Lira, Tasha Baxter, Shashi Naidoo, Sizwe Dhlomo en Speedy die geleentheid om saam met tien lede van die publiek in pare op te deel en saam R1 miljoen te wen. Dis ‘n soort ”survivor” vir glansmense en die publiek en beloof om groot pret te wees. Marguerite van Wyk het met Hendrik gesels oor dié avontuur.

Lyk my jy is nogal avontuurlik?
Ja, sedert kleintyd al. Ek is lief vir die natuur en die see is my gunsteling-plek. Daar is jy bínne-in die natuur. My ouers kon my nooit laat stilsit as klein seuntjie nie. Ek probeer elke naweek uit Johannesburg weggaan. My pa het ‘n plaas net buitekant Winburg en dis so lekker om daar net buite in die natuur te wees. Jy hoef nie eers iets te doen nie. Om buite te wees is genoeg. Ek stap graag op die plaas of ons jag hase.

Jy is glo baie fiks?
Ek het sedert geboorte omtrent atletiek gedoen en my ma en pa is ook baie atleties. Ons hele gesin – my jonger en ouer boetie – is sportgedrewe. Ek het onlangs weer begin hardoop en speel touchies en sokker. Af en toe sal ek gimnasium toe gaan en ek speel ook soms rugby.

Waarna sien jy die meeste uit in Zanzibar?
Om al die nuwe mense te ontmoet. En ek was nog nooit in Zanzibar nie. Ek is mál oor hitte. Sonskyn laat my goed voel. As ek depressief is en ek sit ‘n bietjie in die son, voel ek sommer beter.

Wie is jou grootste teenstander, reken jy?
Loyiso Bala lyk na ‘n veelsydige ou. Verder, nee wat . . .

Wat doen jy alles om voor te berei?
Ek draf maar so bietjie meer as gewoonlik, want ek wil fiks wees vir als wat wag. En ek probeer bietjie in die son kom, sodat die son my nie die eerste dag te seer maak nie.

Wat gebeur in 7de Laan as jy weg is?
Ek is darem net ‘n week weg.

Hou jy van reis?
Ek is mal daaroor om in Suid-Afrika te reis. Ek wil lekker geld maak sodat ek baie kan reis as ek ouer is.

Hoekom is dit vir jou belangrik om te wen?
Ek neem darem nie deel vir niks nie. Ek is baie kompeterend en hou nie van verloor nie. Met enigiets wat ek doen, wil ek wen. Ek was nog altyd so. Ek dink darem ek kan ook met grasie verloor. Ek is ‘n middelkind en ek en my broers het altyd teen mekaar gekompeteer. Dis nie lekker as jou jonger boetie jou wen nie, hoewel dit darem nie te gereeld gebeur het nie. As ek wen, is dit nie vir my so belangrik om die geld uit te gee nie. Ek sal dit waarskynlik spaar of dalk vir my ‘n woonstel koop. Die span wen R1 miljoen. So elkeen wen R500 000.

Het jy tyd vir ander dinge behalwe 7de Laan?
Ek studeer korporatiewe kommuniksie deur e-degree (internet) en kort nog twee vakke voor ek my graad kry deur die Universiteit van die Vrystaat.

En het jy ‘n meisie?
Ongelukkig nie. Of miskien moet ek sê gelukkig. In dié stadium van my lewe wil ek net standvastigheid bereik en ek sal eers ‘n ernstige verhouding begin as ek die dag wil trou. So teen dertig. Ek wil eendag kinders hê. Dit sal vir my lekker wees om interessante dinge met hulle te doen. Ek is mal oor ‘n bal en fiets ry en ek sal avontuurlustige dinge met hulle in die natuur wil doen.

Wil jy saamgaan …

en jou helfte van R1 miljoen in die sak steek? Wel, jy kan! En dis maklik om in te skryf.

Klik hier

  • Elzanie Raaths

    jaaaaaaaaaaa se net waar en wanneer ek het baie woema