FOTO: Clinton Lubbe

Ons praat met

Orkaan Christina

Sy het ’n hard core beeld. Die top-model wat met haar eie bloed skilder, met feetjies gesels en haar naels swart verf. Maar onder die dop van Christina Storm skuil ’n Boeremeisie. Ietwat eksentriek, maar jy moet net krap onder die lagie van die rock chick wat haar lirieke uitgil en van smokey eyes, stywe leerbroeke en piepklein toppies hou. Daar sal jy ook die driejarige Ruby se ma vind. En deesdae ook Bienkie van Egoli.

Christina wriemel heeltyd en praat soos ’n masjiengeweer. Kort-kort druk sy ’n sigaret in die wasbak van haar kleedkamer by Egoli dood. Sy het ’n sagte sy, erken sy, maar sy kan ongelukkig ook “’n vreeslike feeks” wees as sy nie haar sin kry nie.

Haar pa, Chris,’n afgetrede diplomaat, sê dié wilde meisiekind van hom is veelsydig en hiperaktief. “Sy kan baie, baie hard werk. Sy het al swaargekry en teleurstellings verwerk.” Toe hy ’n diplomaat was, het sy lank by hom in Europa gebly. Hy weet hoeveel keer sy teleurgesteld teruggekeer het van oudisies en fotosessies voor sy sukses behaal het. Vir hom is sy nie die mooi model nie. Sy is sy kind. Willemien, Johan en Ernst se sussie. “Sy trek soos ’n orkaan deur ’n mens se lewe. As sy kom kuier het, sukkel jy weke lank om die ‘spore’ wat sy nagelaat het uit te wis.”

ORKAAN CHRISTINA . . .

Is die rol van Bienkie ’n droom wat waar geword het?
Ek wou al lankal ’n aktrise geword het, maar het nie aan sepies gedink nie. Eerder aan rolprente. Hulle sê ek het nogal ’n natural talent. Vanselfsprekend het ek baie goed om aan te werk. Ek dink ek het in vier weke op stel meer geleer as ander mense in vier jaar op technikon.

Hoe het hulle by jou uitgekom?
Ek het ’n agent gekry. Egoli het my gebel vir die rol van Zanele se ma, maar ek het dit nie gekry nie. Hulle het gesê ek sing so half as ek praat. En ek het gedink ek het talent! Maar hulle het beloof om my te bel vir ’n ander rol. En toe bel hulle twee maande later.

Dink jy Bienkie gaan jou meer in die kollig plaas?
Dit gaan heeltemal ’n ander kant van my uitbring.

Hou jy van haar?
Sy is baie soos ek. Ons is impulsief, vol ambisie en loud. Uitdagend, weet wat ons wil hê en kan ’n bietjie aggressief raak. Maar ons weet ook waar ons wortels lê en soek aanvaarding. Bienkie smag daarna dat haar familie van haar hou soos sy is.

Hoop jy dit word ’n permanente rol?
Beslis!

Hoe kom jy en die mense van Egoli oor die weg?
Hulle het soos my familie geword. Hulle het my met ope arms verwelkom en almal gee raad.

Het ’n mens dissipline nodig om in ’n sepie te speel?
Jy het toewyding nodig. Ek het geen idee gehad watter harde werk dit is nie. Daar is nie tyd vir speel nie.

Kry jy tyd vir woorde leer?
Ek het gelukkig ’n fotografiese geheue en leer dit in die motor op pad huis toe.

[box:200:grey:right]

Christina se gunstelinge

AKTRISE: Michelle Pheiffer

AKTEUR: Al Pacino, daai stem . . . Ek’s mal oor Johnny Depp.

KOS: Pizza, enigiets met rissies.

DRANKIE: ’n Ou Vodka-tjie en cranberry-sap.

PLEK: Dis onmoontlik om te kies. Elkeen het sy eie reuk en ervaring. Ek het al soveel verskillende kulture beleef.

GOUE OOMBLIK: Twee uur voor Ruby se geboorte het ek die boom en boomhuis voor ons huis in Clifton afgeneem en besef ek gaan netnou my kind vashou.

[/box]

Is daar ná Bienkie nog moontlikhede as aktrise?
Ek gaan nóg oudisies doen. Ek het nou meer selfvertroue en is gemaklik voor die kameras.

Met watter ander projekte is jy besig?
Ek is aangestel as moderedakteur van die nuwe modetydskrif Funk. Dis gemik op die musiekbedryf. Dit word privaat uitgegee en sal landwyd verskyn. Ons werk al drie maande daaraan. Ons het nog nie ’n verskyningsdatum nie.

Jy is ook ma. Watter soort ma wil jy wees?
’n Cool een. Ruby is nou so oulik, maar ek is bang vir die dag wanneer sy ’n tiener is. Ek was ’n moeilike tiener.

Is sy ’n gelukkige dogtertjie?
Gelukkig en sosiaal. Sy neem graag haar hele skool oor. Soms ’n tomboy en soms ’n prinses. Sy het ongelooflike selfvertroue.

Is James Small ’n goeie pa?
Hy sien haar baie. Hy het Johannesburg toe getrek om naby haar te wees. Pappa is haar held. Hy is so goed met haar. Partykeer dink ek beter as ek.

Hoe hanteer jy die rol van werkende ma?
Ek was die eerste week op die stel uitge-freak om weg te wees van Ruby. Ek kon nie gou genoeg hier uitkom wanneer ek klaar is nie. Ek maak op big time! Bring verf en neem geskenkies.

Was jy al lang tye weg vir werk?
Die langste wat ek van haar weg was, was vier dae. Ruby het haar eie kamer by James se huis. Sy is so gemaklik as wat jy kan wees as jou ouers nie saambly nie.

Wat het geword van Hail Mary, jou klerereeks?
Hail Mary is nou my produksiemaatskappy. Ons doen hare en stilering vir musiekvideo’s en reël modevertonings.

En jou sangloopbaan?
Ek neem oor twee maande twee snitte op Termanatrix se nuwe CD op. Ek sing mos nie, ek skree. Ek was die groep se hoofsanger, maar is sedert my swangerskap nie meer voltyds betrokke nie. Die lawaai sou die baba ontstel het. Ek het Mozart geluister terwyl ek swanger was, maar soms ook na Nina Hagen. G’n wonder Ruby hou van bands soos Snotkop nie. Sy sing te oulik: “Daar’s ’n cherry in my bed wat smile vir my . . .”

Sien jy jou ouers anders noudat jy self ’n ouer is?
Ek vergewe hulle vir baie. Hulle was streng en ek was ’n rebel. Maar met kleredrag, nie met drank en boyfriends nie. Ek was ’n vreemde verskynsel in Louis Trichardt se hoërskool waar ek in st. 9 en 10
(gr. 11 en 12) was. Dit was my negende skool. Daar was in my vorige skool in Umtata kinders van verskillende nasionaliteite, maar op Louis Trichardt was die mense konserwatief en rassisties.  Ek het swart naels gehad, soms my hare en wenkbroue afgeskeer en naalde deur my mond gedruk. Hulle het gedink ek is ’n heks, want ek gaan nie kerk toe nie en dra swart klere. Intussen jol en vry en slaap hulle elke naweek saam. Ek het pouses my broodjie alleen geëet.

Is jy spyt dat jy anders was?
Nooit nie. Ek maak Ruby ook baie liberaal groot. Ek is kreatief soos my pa. Ons is rebels en bevraagteken dinge. My ma, pa en stiefpa, die digter Jan de Bruyn, het almal ’n liberale invloed op my gehad. My ouers is geskei toe ek ses jaar oud was.

Jy het eenkeer twee weke lank verdwyn en die pers het gegons.
Ek wou wegkom van James. Niemand het geweet waar ek is nie. Ek het na my ma op Louis Trichardt gegaan. Net gone, gone, gone. I needed that.

Jy en James is al so lank aan en af saam.
Ons is regtig soms soos ou getroudes. James se vriende noem ons Laurel & Hardy, want ons kibbel nes hulle. Ek en James het lank saamgewroeg, maar nou het ons hierdie beautiful engeltjie saam. Ons kom goed oor die weg. Ons gaan Spur toe of Durban toe vir ’n week. Hy bly in sy hotelkamer en ons in ons s’n.

Waarvan hou jy in hom?
James het ’n baie klein hartjie. Hy is soms amazing. Ons sal ’n fliek kyk en dan sal hy huil. (James sê by navraag hy sê eerder niks: “Ek het al geleer om my uit sulke situasies te hou. Dis veiliger.”)

Wanneer moet jy die gevaarligte sien as jou verhouding toksies is?
Ek het dit binne die eerste week gevoel, maar ek was naïef. Jy sien die eerste teken en weet jy moet hardloop so ver as jy kan, maar jy doen dit nie.

Gaan jy die lesse wat jy in jou lewe geleer het aan Ruby oordra?
Dis erg om te dink my arme kind moet nog eendag deur ’n break-up gaan en seerkry. Dis hoekom ek nie nog ’n kind wil hê nie. Ek sal nie al die kommer kan hanteer nie. Ek raak baie aggressief as iemand my kind te na kom.  As sy sê: “Mamma, hulle wil nie met my speel nie,” sal ek sê: “Moenie worry nie, hulle is losers.”

Nuwe liefdes?
Die sanger Munro (du Toit). Dis my eerste vaste verhouding in drie jaar. Hy is ongelooflik, bietjie jonger as ek. Ek is 33 en hy 26.

Soek jy Mr Right?
Ek is nie troumateriaal nie.

Glo jy nog aan feetjies?
Ek was ’n ruk lank so gestres dat ek kontak verloor het. En gister, toe ek en Ruby in die dieretuin stap, kon ek weer iets “voel”. Ek glo feetjies praat in die wind met my. Ek het ’n blaar gepluk en geweet alles is cool en fine. Ek sou Ruby dalk op George en Louis Trichardt anders kon grootmaak. Maar jy kan feetjies in Johannesburg ook sien. Soos vanoggend op pad werk toe in die bome . . .

Was jy op skool baie kreatief?
Ek het goeie opstelle geskryf. Ek het een aanhaling van ek dink C.S. Lewis in elke liewe opstel gebruik en die storie daarby aangepas. Dit het onderwysers beïndruk. Ek het mense so ge-bullshit. Ek het ge-crib en gegorrel. Ek het die hele Romeo & Juliet op ’n liniaal ge-crib. Skool het my verveel.

Jy kan jouself uit situasies wurm?
Ek kan in enige situasie instap en mense van enigiets oortuig. Nie op ’n slegte manier nie. Ek hou daarvan om deur die lewe te cruise. Die lewe is vir my te lekker om te stres oor rekenings wat betaal moet word en karlisensies. My karlisensie het ek vier jaar laas hernu. I will deal with it when I come to that bridge. Ek het geen reëls nie. My pa freak uit omdat ek ’n hele kamer vol pienk papiertjies vir parkeer- en spoedoortredings het. Ek leef vir nou.

Raak jy depressief?
Nee, ek het so ’n rukkie gelede deur ’n stadium gegaan. Ek was die slagoffer van ’n smash and grab én ’n kapingspoging én ’n vriend van my het gesterf in ’n motorongeluk. Toe dink ek, nee, move on. My pa sê ek het ’n ongelooflike vermoë om ’n situasie te hanteer.

Wens jy die lewe was nog so eenvoudig soos toe jy ’n kind was?
Ek sal steeds die kleinste nartjieskyfie heel insluk en ’n wens wens. Ek glo in positiewe denke en energie.

Wie is jou vriendinne?
Ek het baie. Selfs Loui Fish, van wie ek James destyds afgevry het. Ons het ná jare weer vriende geword en kan deurnag kuier. Ek het ’n hele paar amazing, beeldskone vriendinne. Ons laat die koppe draai in restaurants.

Gaan jy nog modelwerk doen?
Meestal internasionaal en katalogusse.

Jy het nogal ’n sterk standpunt oor gewig?
My raad is as jy moet honger ly om ’n model te wees is dit nie die moeite werd nie. Ek het twee jaar gelede by Fashion Week uitgestap. Ek kon nie daarmee deal nie. Toe daai brandmaer meisie op die loopplank afstap, het ek naar geword. (Die voorval waarna Christina verwys, is ’n model wat deur Dion Chang, programbestuurder van die 2006 Suid-Afrikaanse Modeweek, gevra is om nie verder deel te neem nie omdat sy te maer is. Koerante het berig die model is “pynlik om na te kyk”.)

Jy het die dwelm-ding gedoen en kon dit los?
Ek het nie gehou van wie ek was nie. Want wanneer jy op drugs is, het jy nie beheer nie.

Kry jy nog kans om te party?
Dis vir my moeilik om uit te gaan sonder Ruby, maar as ek ’n show doen, sal ek ná die tyd bly vir ’n drankie of ses as ek weet my kind is veilig.

Waar kry jy jou klere?
Baie goed uit my vorige Hail Mary-reeks was vintage wat ek van Parys ge-source en verwerk het. Maar nou doen ek dit net vir myself. Ek koop my klere by enige plek. Jy kry die mooiste goed op die vreemdste plekke. Ruby het net designer-klere. Dis lekker om haar te bederf.

Is jy eintlik net ’n Boeremeisie?
Ek is. Maar nie ’n ja-oom-ja-tannie-Afrikaner nie.

Is jy ’n voorbeeld van die nuwe soort Afrikanermeisie?
Oh yes, I like that!