Ons praat met

Orkney se Wimpie nou in Mamma Mia!

Die rolverdeling van die Suid-Afrikaanse produksie van Mamma Mia! is opwindend: Ilse Klink (Rosie), Christopher Jaftha (Eddie), Gina Shmukler (Donna), Anrich Herbst (Sam), Karabo Maithufi (Pepper) Kate Normington (Tanya), Gemma Donnelly (Lisa), Carmen Pretorius (Sophie) en Stephen Jubber (Sky).

Marguerite van Wyk het met die akteur Anrich Herbst gaan praat oor sý rol in dié musikale produksie.

Dis baie goeie nuus dat jy ook so goed kan sing . . .
Ek het soos almal maar altyd koor in die laer- en hoërskool gesing. Nou en dan ‘n solo. In 1996 het ek ‘n geestelike verdieping ondergaan en ‘n CD Doodmaak, nuutmaak, skaap vrygestel en ook as sangleier in ons gemeente begin gewerk. Vroeër vanjaar het ek die geleentheid gekry om in die geestelike musiekblyspel Houtkruis op te tree en dít het eintlik vir my die selfvertroue gegee om vir die oudisie vir Mamma Mia! te gaan.

Sien jy uit daarna?
Geweldig! Dis ongelooflik om in daardie ligte op die verhoog te staan en terugvoer te kry van die gehoor. Ek hou meer van lewendige shows as wat ek van TV-werk hou. En dis ‘n uitdaging om met mense van wêreldkaliber te werk. Ek moet sê, dit was ook ‘n voorreg om met uitsonderlike mense in Houtkruis te werk. Ek voel ek is eintlik meer aangelê vir sang en musiekteater as blote akteurswerk.

Geniet jy Abba se musiek wat in Mamma Mia! gesing word?
Ja, dit bring heerlike herinnerings terug van toe ek ‘n klein laaitie was en ek en my sussie vakansie gaan hou het saam met my ouers. Hulle het altyd onder meer Groep 2 en Abba se musiek gespeel in die motor as ons gery het na die vakansiebestemming.

Wat het jy van die fliek Mamma Mia! gedink?
Ek was mal daaroor. Ek het aanvanklik so ‘n bietjie gesteier toe die meisie begin sing op die strand, maar toe sê ek vir myself dit ís ‘n musical. En daai mooi toneel waar Meryl Streep en Pierce Brosnan se karakters vir mekaar op die berg gesing het voor hulle getrou het op die kerkie bo-op die berg – dít was net ongelooflik. Pierce is dalk nie die beste sanger nie, maar hy is gutsy.

Is jy bly jy vertolk die karakter Sam in die produksie?
Dis my eerste keuse. Ek hou van die idee van die held wat instap en die probleme uitsorteer en smile.

Kan ons vorentoe dalk nog ‘n CD van jou verwag?
Moenie verbaas wees nie. En dit sal beslis nie nét gospel wees nie, maar ‘n wyer storietjie!

**Mamma Mia is vanaf 15 Augustus 2010 in Kaapstad by Kunstekaap te sien, vanwaar dit na dit na The Teatro by Montecasino in Johannesburg vertrek. Dit sal vanaf 2 Oktober in die Goudstad te sien wees.
Kaartjies beskikbaar by Computicket

Vir ‘n voorsmakie van dié lekker storie, hier is die voorprent van die Mamma Mia!-fliek wat verlede jaar vrygestel is.