oscar_lucas
Ons praat met

Oscar Pistorius: “My seun, my broer” – briewe deur sy pa en broer Carl

Hy’s op én af van die atletiekbaan in die nuus, SA se Blade Runner. Nou kry ons ’n ander blik op Oscar Pistorius deur dié roerende briewe wat sy pa, Henke, en broer, Carl, aan hom geskryf het. Dis opgeneem in ’n nuwe biografie*

Liewe Oscar

My seun, in hierdie dae volg ek jou doen en late op televisie.  Dis baie mooi oomblikke vir ’n pa en my hoop is dat ook jy eendag sulke vreugde kan smaak.

***
Toe Sheila hospitaal toe is, het die dokter gevra: “En wat verkies jy, ’n seun of ’n dogter? ”My antwoord was: “Dit kan my nie skeel nie, solank die baba net al sy vingers en tone het.”

Die noodlot kan soms ironies wees . . . Nie die dokter of die vroedvrou het dadelik agtergekom dat daar iets met jou voete skeel nie. Ek was die eerste wat dit opgemerk het, onmiddellik ná jou geboorte. Ek het jou by die vroedvrou geneem en in my arms gehou terwyl die koord gesny is. Ek het vir die dokter gesê: “Daar is iets anders aan sy voetjies.” Ek het nie gesê “daar is iets verkeerd” nie, net dat dit vir my anders lyk. En toe ons die kombersie toemaak en weer na jou voetjies gekyk het, het ek vasgestel dat een van die twee baie dunner as die ander was.

Wat ek daardie oomblik gedink het, is presies wat ek steeds vandag dink. Wanneer iets anders as wat jy verwag met jou gebeur – onthou ek gebruik nie die woorde “normaal” of “abnormaal”nie – moet jy altyd onthou dat daar ook ’n positiewe kant is, ’n ander kant van die medalje. Jy moet dit soek en daarop konsentreer.

***
(’n Plaaslike spesialis, Gerry Versveld, het Oscar se geval voorgelê aan die organiseerders van ’n konferensie in Amerika, en so het meer as 300 medici, die beste in die wêreld, daaraan aandag gegee.) Almal het saamgestem dat albei bene geamputeer moes word. Ons kon nie meer kop uittrek nie. Ons het geweet dat ons alles in ons vermoë gedoen het. Maar die moeilikste deel het steeds op ons gewag.

Gerry het voorgestel dat die amputasie so gou moontlik moet plaasvind, voordat jy begin loop, sodat jy nooit sou weet hoe dit voel om op jou voete te trap nie, en so sou jy die trauma gespaar bly om nie die verlies daarvan te ervaar nie. Hy het aan ons verduidelik wat die operasie sou behels: Dat dit onder die knieë gedoen sou word, dat die dik hakskeenvel oorgeplant sou word op die stompies, sodat dit meer weerstand kan bied en die gewig van die lyf en die wrywing van die kunsbene beter sou dra. Ons
het al die besonderhede uit hom getrek. Ek verseker jou, my seun, dit was ’n skrikwekkende saak. Jy het hierdie klein, delikate voetjies gehad en soos alle klein kindertjies kon jy dit nie verduur om onder jou voetjies gekielie te word nie. Wanneer jy op die bed gelê het en ons met jou gespeel het, het jy gelag en gelag. Die gedagte dat jou voetjies en beentjies afgesny – en weggegooi – moes word, was ’n nagmerrie wat ek geen ouer toewens nie. Dank die Hemel, die operasie het goed verloop en jy het vinnig gevorder. Jou eerste kunsbeentjies het nie voete gehad nie: Dit het net soos die houtbene van die seerowers in flieks gelyk! Jy het altyd gehardloop, jy kon nooit stilsit nie en deur die hele huis het die tik-tak-tik-tak van jou kunsbene op die vloer weergalm.

***
Ek was strenger met jou as met Carl, om die eenvoudige rede dat jy meer probleme op jou toekomspad sou hê: Jy sou wrede mense en kinders in die skool en op ander plekke aantref. Ek sou nie altyd daar wees om jou te help nie; jy moes leer om alleen die mas op te kom. Toe jy klein was, het ek net toegekyk wanneer iets met jou gebeur, maar jy het geweet dat ek saans met jou daaroor sou gesels.

Soms sou jy vertel dat So-en-so op ’n verkeerde manier teenoor jou opgetree het. Dan sou ek verduidelik dat daardie outjie nie jou situasie verstaan nie en dat jy dit aan hom moet verduidelik. Ek hoop dat dit een van die redes is waarom jy later met almal oor die weg gekom het. Jou ma was nie lank ná die operasie nie weer swanger.

Jy en Carl het soos twee bye om haar gedraai, haar maag gevryf en gevoel hoe die baba skop. En toe Aimée gebore is, was jy so verbaas: “Kyk, sy het voete!” Wanneer sy in haar wiegie gelê het, het jy die kombersie opgetel en haar gegroet met ’n naam wat jyself uitgedink het: “Hallo,Gugu,” en dan het jy die voetjies gesoen en gesoen. En elke keer het Aimée wakker geword en begin huil. Dit het Ma baie kwaad gemaak, want nadat sy gesukkel het om die baba te laat slaap, het jy haar wakker gemaak! Jy was maar altyd so, maar dit het uit jou hart gekom en ons het dit nooit as stout vertolk nie. Ons het verstaan dat jy nuuskierig was en ons het jou laat begaan. Ons het dit baie bespreek en jou “die Oscar Pistorius-model” genoem en dit is soos dit is. Oscar is so, hy is so gebore en ons moet hom so aanvaar en laat begaan sonder om te probeer om hom te verander.

***
Jy het, te danke aan die Here, altyd en oral op jou gemak gevoel, jy was altyd trots op wie jy is. Alles was vir jou logies en natuurlik, ook toe jy jou eerste kunsbene gekry het. Dit was splinternuut, maar ná ’n dag het dit gelyk asof jy dit reeds twee maande gebruik het, want jy het orals gehardloop, geval, gestamp – toe na ons gekom met daardie stout glimlag van jou en gespog: “Kyk, ek het blou kolle op my bene.” Jou glimlag, my seun, het steeds dieselfde gebly, soos ook jou sielekrag en jou vrolikheid. My hoop en hartewens is dat daardie glimlag net so sal bly, en dat jou blink en helder oë orals nuwe uitdagings, oor alle grense heen, sal waarneem. Dat jy dit sal aanpak en oorwin.
 

Pappa


 

Liewe Oscar

 

In my verste herinneringe sien ek Ma wat jou in haar arms hou.
Jy moes toe ongeveer nege maande oud gewees het en ek drie jaar.
Weet jy, ek dink dit is absoluut die eerste ding in my lewe wat ek onthou.

Ek onthou hoe Ma, op die eerste verdieping van ons huis in
Johannesburg, jou voete met my bespreek het. Ek was baie klein, en
daardie oomblik het ek vir die eerste keer besef dat iets aan jou anders
is. Ma het my toegelaat om aan jou voetjies te vat, met die waarskuwing dat ek dit baie versigtig moet doen.

Daardie tyd het jy steeds jou voete gehad en ook ’n paar tone. Eers toe het ek vir die eerste keer agtergekom dat jy anders was as ek, dat jy ’n besondere kind was: Dat jy voorbestem was om baie spesiaal te word vir my, en dat ook jou voete spesiaal was.

Ma het my langs haar op die bed laat sit, sy het die kombers van jou afgehaal en my toegelaat om jou voetjies in my hand te neem. Sy het my nie al die besonderhede van jou probleem verduidelik nie, ook nie dat jy ’n operasie sou ondergaan nie.

Nogtans is daardie oomblik helder in my gees: Ek onthou steeds die kamer en die bed. Ek het nog nooit so daaraan gedink nie, maar besef nou dat jy my heel eerste herinnering is.

Daardie oomblik het jy tot my lewe toegetree.

Onthou jy toe ons teen ’n helse hoë spoed op die kaskar sonder remme, wat ons oom vir my gebou het, gery het en ons jou bene gebruik het om dit tot stilstand te bring, en so baie skoene verniel het? Elke keer wanneer ons aan die einde van so ’n vaart was, was jy in trane en baie bang, maar het jy moedig gesê: “Kom ons doen dit weer!” Dit is die uithouvermoë wat Pa ons geleer het.

***
Daarna was rollerblades in die mode en hiermee was jy baie beter as ek. Dit was al wat jy die hele dag gedoen het. Ek dink natuurlik dat dit jou spiere versterk het, daardie spiere wat jy vandag inspan om te hardloop. Met rollerblades word die enkel versterk, en dit het jy natuurlik nie nodig gehad nie, maar omdat jy nie jou kunsvoete kon buig nie was dit moeilik om die rollerblades aan en uit te trek.

Onthou jy hoe jy dit sittend, met Ma se hulp, aangetrek het? Jy het ongelooflike bewegings daarvoor ontwikkel, wat jy omtrent alles met jou knieë uitgevoer het, want jou knieë was bedek met die glasvesel van die kunsbene. Jy het nooit moed opgegee nie en het die bewegings oor en oor herhaal totdat jy dit bemeester het.

Terwyl jy gegroei het, moes jou bene uit die aard van die saak baie kere vervang word. Maar afgesien daarvan moes dit ook omtrent elke drie maande herstel word, omdat jy so gereeld geval het. Ma het selfs beenskutte aan jou broeke laat vaswerk. Dit was van ’n supersterk materiaal gemaak. Ek onthou toe julle my by die skool kom haal het, hoedat ek in die motor gewag het terwyl julle na die naaldwerkster is om die lappe te knip en vas te werk. Wanneer jy ’n deftige broek benodig het, moes dit lank voor die tyd bestel word. ’n Broek sonder versterkings het nie eers ’n dag gehou nie. Een keer is ons na ’n troue; jou splinternuwe broek was teen die einde van die dag aan flarde.

***
(Oscar se ouers is later geskei en Carl het baie beskermend teenoor hom en hul suster, Aimée, geraak. In 2002 is hul ma, Sheila, skielik oorlede ná ’n allergiese reaksie teen medikasie.)

Ma het in November getrou en dit was die eerste Kersfees dat ons weg van ons ouers (of een van ons ouers) sou deurbring, saam met ons grootouers en skoolvriende. Dit was ’n wonderlike somer, al het ek geelsug opgedoen en was ek by tye baie siek. By my terugkeer van die vakansie het Ma my meegedeel dat sy nie gesond voel nie: Dat sy dieselfde simptome het as wat ek gehad het. Daarna het die dokter ook haar siekte voor die deur van geelsug gelê. In die volgende twee weke het sy drie mediese ondersoeke ondergaan.

Sy het ook voortgegaan om die medikasie te gebruik waarvoor sy onwetend allergies was, en haar simptome nou vererger het. Elke keer wanneer sy met my gepraat het, het ek haar verseker dat ook ek dieselfde simptone gehad het en net so sleg gevoel het, maar tog herstel het. Maar sy het nie verbeter nie. Toe dokters uiteindelik die fout agtergekom het, was dit reeds te laat.

Vir ’n lang tyd het ek baie skuldig gevoel. Ek het terwyl sy siek was by haar op die bed gesit en gesels en vir haar tee gemaak. Sy het aanhoudend gekla dat sy sleg voel terwyl ek herhaal het dat dit later sou beter gaan, want ook ek het net so gelyk en tog herstel. Eendag het sy gevra: “Is jy baie seker?” Sy wou weer en weer verseker word dat die siekte net tydelik was.

Tot vandag toe glo ek die feit dat ek die siekte gehad het, het die dokters geflous en daarom het hulle nie die situasie beter ontleed en beheer nie.

***
In daardie periode het ek en jy op verskillende maniere gereageer. Ek, wat van kleinsaf goed georganiseerd was, deelgeneem het aan sport, was buite beheer. Ek het ’n rebel geword, begin drink en baie keer in vuisgevegte beland. Niks het my meer geïnteresseer nie. Dit was my manier om die pyn te oorkom en dit het sy resultate gelewer.

Ek het grootgeword. Jou reaksie was die teenoorgestelde: Jy het al hoe meer op oefeninge en afrigting gekonsentreer en in sport vrede gevind. Ná Ma se dood wou ek nie teruggaan skool toe nie en ek wou niemand sien nie. Jou eerste instink was om tussen jou vriende gemoedsrus te vind. Jy wou dieselfde aand van die begrafnis na die kosskool terugkeer. Ek kon dit nie verstaan nie en was woedend vir jou, ek wou jou vermorsel. Dit het ek nooit aan jou gesê nie, nè? Ek dink dit is te danke aan Ouma dat ons nie van mekaar weggedryf het nie. Sy is ’n buitengewone mens wat ek met my hele hart liefhet, amper soveel as wat ek Ma liefgehad het.

***
Deesdae het dinge gelukkig verander. Ons is nou weer nader aan mekaar. Ons praat steeds nie baie van Ma nie, behalwe wanneer ons albei depressief voel. Dit bly steeds ’n moeilike onderwerp, en ons respekteer mekaar se gevoelens. Of dalk is “respekteer” nie die regte woord nie, dalk moet ek sê ons het “agting” vir mekaar.

***
Wanneer ek tuis, op televisie, jou buitelandse oorwinnings sien, dan vergaap ek my en soms huil ek van vreugde. Dan basuin ek dit uit: “Genugtig, dis my broer!” Dis ’n enorme vreugde: Ek is trots op jou.

Ander kere, wanneer ek jou sien terugkeer ná ’n reis, doodmoeg, met reeds baie afsprake vir die volgende paar dae, wanneer jy gefrustreerd in die motor klim, soms huilend van moegheid, dan bekommer ek my. Want vir my sal jy steeds en altyd net my broer wees. Ander mense sien die ster, Oscar Pistorius, die man wat buitengewone dinge regkry. Ek sien ’n groot atleet, maar bowenal my broer . . .

Carl

OSCAR SPEEL MODEL

SA se Blade Runner is een van ‘n groep inspirerende “gewone” mense wat Woolworths in hul Winter 2009-advertensieveldtog gebruik. Met die 2010 Wêreldbeker as agtergrond herinner Woolworths almal om aan hulself te bly glo en só hul drome te verwesenlik. Die foto’s is by die Athlone-stadion in Kaapstad deur fotograaf Gerda Genis geneem. Kyk uit vir ander bekendes soos die sokkerlegende Lucas Radebe, aktrises Peggy Sue Khumalo, Jenna Dover, Connie Ferguson en Janez Vermeiren, mede-eienaar van Full Circle Model en TV-aanbieder.