Ons praat met

Oubaas die diep seun

Pierre van Pletzen het uit sy kindertydse dop gekruip en een van ons gewildste sepiesterre geword. Want 7de Laan se Oubaas is ’n oubaas wat sy woorde in alle opsigte ken – al ‘verspreuk’ hy hom so dikwels.

deur Sonia Cabano
foto Phyllis Green

Hy’t sy hoekie op die koffiekroeg se stoep goed gekies. Neffens ’n potplant, teenaan ’n ronde tafel, vlak by die tuinsentrum se netjiese Oosterse styl tuintjie met ’n kabbelende fontein op die agtergrond, sit Pierre van Pletzen my en inwag. Ek weet nie veel van feng shui nie, maar in ’n kits besef ek dat die geselsery hier seepglad gaan verloop. Die stories vloei uit ’n onuitputbare en verkwiklike bron. Om die waarheid te sê, ná vyf minute lag ek so onbedaarlik hard vir ’n klassieke Van Pletzen-staaltjie dat ’n kelner uitstap om ’n besorgde ogie te kom gooi.

In 7de Laan se Oubaas het Pierre een van die land se bekendste en mees geliefde sepiekarakters geskep, maar die vitterige ou skepsel met die “gevleuelde woorde” en “verspreuke”, wat sy Hilda so knaend opdraand gee, het vandag in die studio agtergebly.
Die aantreklike man wat langs my sit, is skerpsinnig, jonk van gees, sielvol. Nederig en self-afwysend ook. Hy’s gou om te beweer: “Ek’s nie die skerpste byl in die gereedskapskas nie,” maar hy kom uiters welbelese en diep-nadenkend voor, met ’n breë streep van die lewens filosoof in hom. Die spierwit snor en hare is misleidend. Hy het genoeg hupse vonkel in sy oë om sy sprankelende 30-jarige vrou, Sandra, skynbaar behoorlik op haar tone te hou. Uit die staanspoor besef ek hy’s ’n ou hand met onderhoude, en het ’n bobaastegniek verfyn. Dit lyk so: eerstens ontwapen hy sy ondervraer deur die heuningkwas kwistig aan te wend. Wanneer sy weerloos gevlei is, oorrompel hy haar met vertelling op vertelling, wat haar na asem laat snak tussen lagbuie. En dan, omdat hy weet dat sy so effe die kluts kwyt geraak het en nié alles uitgevis het wat hy op die hart dra nie, voer hy ’n onderhoud met homself en stuur dit per e-pos aan. Met genoeg informasie vir nog sewe artikels.

Waar kom jy vandaan?
Ek is die jongste van drie seuns, gebore 1 Mei 1952. My ouers was in administrasie by die myn op Stilfontein. Ek was skugter as kind, by die huis en op skool, miskien omdat my boeties my genadeloos geboelie het. Ek het vroeg al geleer om myself skaars te hou, nie raakgesien te word nie, want dit was asof ek aan die wêreld uitgesaai het: “Knyp my!” My broers sou my byvoorbeeld vertel dat ek die beste wegkruiper op aarde is, en dan, sodra ek myself versteek het, hol hulle weg en gaan speel by maats vir die middag. Dan sit ek daar. Ure lank, wagtend dat hulle my moet kry. Later sou ek ’n armpie of ’n beentjie effens uitsteek, of piepgeluide maak, “koo-ieee!”, heel bekommerd dat ek hulle uitoorlê het. Of ék moes soek en hulle kruip weg, en natuurlik het hulle weer by maatjies gaan speel, terwyl ek die huis omkeer tot sonsondergang. Ek was ’n dromer op skool, ’n pluimbalspeler en naelloper. My rugby loopbaan is kortgeknip toe ek in standerd agt ’n ou van my eie span geduik het. Ons het daardie dae sommer in gewone klere gespeel, en hoe moes ek nou weet? Net gesien hier kom hy verby, toe loop ek hom plat. Ek was ’n vaal vent. In standerd nege het ek ’n Ludwig-tromstel aangeskaf en besluit nou’s ek ’n musikant. Daar was ’n groot oomblik toe die mooiste meisie in die skool my eendag vanuit die vertrekkende skoolbus so stip aangestaar het, vasgepen het met haar oë, en ek dag: “Sy sien my! Sy sien my raak!” Niks’t verder gebeur nie, en was ek afgehaal! Toe ek haar jare later raakloop en vra hoekom, sê sy: “Man, ek was verveeld, en jy’t net daar gestaan. Jy was iets om na te kyk, soos ’n boom.”

Is dit waar die begeerte posgevat het om aandag te trek as akteur?
Glad nie! Ek was die eerste uit ons familie wat universiteit toe kon gaan. Het rondgedrentel op die Potchefstroomkampus die eerste paar weke, gedag ’n klok sal lui sodat ons moes klas toe, soos op skool. Daar was glo ’n groot tekort aan manstudente in die dramafakulteit. Prof. Theuns Botha het opdrag gegee dat al die skapies wat buite los rondloop, ingebring moet word vir keuring as potensiële dramastudente. Toe hy vra wat ek daar maak, sê ek ek wil eintlik ’n speurder word. (Hy lyk onthuts as ek proes.) Wat lag jy? ‘n Mens kan swot vir dokter of prokureur op universiteit, hoekom nie speurder nie? In my tweede jaar as dramastudent het ek besef: ek’s ’n vis in water hier. En in my finale jaar was ek die enigste oorblywende man wat veertien keer die balkontoneel uit Romeo en Juliet moes doen om al die meisies kans te gee. Lekker daar tussen al die vroue! Hy’t ’n gesogte akteur, advertensie-, radio-, TV- en verhoogregisseur geword met ’n stamboek-CV wat oor dertig jaar strek. Hy was in meer as honderd teaterproduksies, waarin hy bykans 35 hoofrolle vertolk het. ’n Stapel pryse losgeslaan. ’n Briljante komediant en boonop sewentien jaar lank artistieke direkteur by onderskeidelik Sukovs en Truk. Rolprentgangers het hom leer ken in flieks soos Orkney snork nie, Panic Mechanic, The gods must be crazy II en Taxi na Soweto. Pierre is ’n vertaler, kopieskrywer en gesoute dramaturg wat benewens vele teaterstukke ook 26 episodes van Fishy Fêshuns vir TV verwerk het. Aan hierdie man se talent en energie is geen einde nie. Ons onderhoud word ’n maraton-klets …

Wat het jy gedoen met die heel eerste geld wat jy verdien het?

My eerste salaris was R140. Ek het my huur betaal, ’n steak gaan eet en Queen se Night at the opera gekoop. “Bohemian Rhapsody” is myns insiens een van die heel beste popliedjies nóg. Wat weet mense nie van jou nie?
Ek’s eintlik 31 jaar oud, lyk soos Colin Farrell, is ’n fynproewerkok, mal daaroor om ’n huishouding te bestuur, en ’n meester in die bed! Moet tog nie vergeet ek is vrot van eiewaan nie …

Jy is nou ’n derde keer getroud. Is jy ’n Don Juan?
(Hy lyk uit die veld geslaan.) O, nee, glad nie. Maar ek verkies vroue se geselskap. Dis hul intuïsie, hul vroulikheid en sagtheid wat my knieë week maak. As ek ’n vrou moes wees? Beslis Charlize Theron. Ek het vier, vyf jaar gelede al gesê sy gaan dit groot maak. Ons Suid-Afrikaners besef nie hoe goed sy rêrig is nie. Maar ek kan glad nie tjaaf nie. Wanneer ek tot ’n vrou aangetrokke voel, raak ek skaam en lomp en kan skaars praat. Kom ek weer op dreef, kan ek baie lekker gesels. Dalk is dit dít waarvan vroue hou? Elzette (Maarschalk, my kinders se ma), haar man, Joseph, ek, Sandra, Pierre-Henri (19) en Zetske (16), my seun en dogter, was onlangs almal saam met vakansie in Amerika. Doodgelukkig. Mense vind dit blykbaar uiters vreemd, maar hoekom moet ’n mens mekaar haat net omdat julle geskei is? Dis beter so vir die kinders ook. Ek glo die verhouding tussen man en vrou het eenvoudig sy raklewe, en as dit verloop is, moet jy dit besef en aangaan. Moenie by iemand anders betrokke raak terwyl jy nog getroud is nie, en vergeet daarvan om hoegenaamd weer reg te wees vir ’n verhouding in die eerste twee jaar ná ’n egskeiding. Sandra was 21 toe ek vir haar ’n bos rooi rose met haar verjaarsdag gestuur het. Haar ma het dit so betrag en gesê: “Hier kom perde …” Maak werk van jou verhouding. Ek en Sandra staan tyd af aan mekaar, skep atmosfeer, maak lekker kos. Ons probeer minstens een aand van die week alleen saam wees, tuis.

Hoe het jy jou kinders so gelukkig grootgemaak?

Nee, nie net ek nie. Al vier ouers het baie ingesit. Ek hóóp ek het my kinders dit
geleer: Alle mense, maak nie saak wat hul posisie in die lewe is nie, het ’n shining immortal spirit. En dit moet jy altyd onthou en respekteer. Sandra is ’n lekker maat vir Peach (Pierre-Henri) en Zetske. Sy sê hulle het ’n ma, sy wil nie haar plek inneem nie. Peach speel vir my sy generasie se musiek, goed soos Incubus en Muse, en weet jy, dis nogal lekker! Hy’t my Ludwigtromme geërf. My dogter doen deeltyds modelwerk. Ja, sy’s pragtig. Hulle is lekker bekkig, die twee. Peach was so vier toe ek en hy eendag in die tuin gespeel het. Veraf het swaar weer begin opsteek, en toe dit blits, sê hy: “Kyk, Pappa, die Here het nou net ’n kiekie van my geneem!” My dogtertjie was omtrent sewe toe sy eendag instap, Elzette en my soooo kyk en sê: “Sies! Julle het seks gehad! Hoe anders is ek gebore.” Net toe stap haar boetie verby. Sy kyk na hom en met verontwaardiging draai sy na ons en sê: “Twee keer!” Toe Zetske nog ’n kleuter was, was ek eenmaal besig om te bad. Sy’t knaend aandag gesoek, toe maak ek haar sit in die oop deur met haar speelgoetertjies byderhand sodat ek ’n ogie oor haar kon hou terwyl ek klaar bad. Met dié dat ek, handdoek om die lyf, bo-oor haar uit die badkamer tree, kyk sy op en vra: “Hoekom lyk dit so oud, Pappa?”

Waaruit put jy krag vir die lewe?
Daar’s ’n paar faktore: die liefde en begrip van mense om jou, soos jou vrou, kinders, vriende en familie. Chris Vorster is my beste vriend. Ons deel ’n fyn humorsin. ’n Mens moenie ’n ding alleen probeer dra nie, maar oopmaak en kommunikeer. En lág. Sien die pret en snaakse in die lewe raak. Maar die bottom line bly jou geloof. Hieruit put jy dieper krag as wat mense jou kan gee. Ek is ’n Christen, onomwonde.

Jy bring lang ure op stel by 7de Laan deur. Verkies jy dit bo die teaterlewe?
Ek het onlangs die toneelstuk As die kat weg is geregisseer en dit gaan vir ‘n jaar landwyd opgevoer word. Dit kan uitmergelend raak om so rond te reis. En binnemuurse werk pas my piekfyn, ek’s uiters sensitief vir die son (skerts hy). In alle eerlikheid is die standvastigheid daarvan ideaal, nou. Ek is ook ’n regisseur van 7de Laan, so dit bly prikkelend. En ’n mens maak elke dag klaar met iets, gaan aan na die volgende toneel, nie soos in die teater waar jy telkemaal dieselfde stuk met dieselfde varsheid en entoesiasme moet probeer aanbied nie. 7de Laan is meer as ’n sepie: dis karakter- eerder as kwessiegedrewe, met humor. Nou’s dit natuurlik moeilik vir my om uit te gaan, om sommer net ’n fliek te gaan kyk op ’n Vrydagaand sonder dat mense my oorval. Daar’s werklik nie tyd om enigiets anders aan te pak nie, alhoewel ek by hierdie jaar se KKNK weer regie behartig van Chris Vorster se Haaks met Chris en Elma Postma (Dezi in 7de Laan ) as die getroude paartjie.

Het akteurs ’n groter spektrum van emosies tot hul beskikking as Jan en Alleman?

Geensins. Kyk na ’n skrywer soos Gabriel García Márquez, wat een van my gunstelingboeke, Hundred years of solitude, geskryf het. Ek het groot agting vir skrywers. Het ’n lys opgestel vir die 7de Laan-webwerf van my 23 gunstelinge. Daaronder val alles van Shakespeare, die Bybel, Marlene van Niekerk, Tolstoi, Jane Austen, tot by Charles Dickens. Groot geeste, elke een. Het nie juis uitermate bewondering vir sogenaamde groot regisseurs nie; almal het maar voete van klei. ’n Sterk werk-etiek sou ek my beste eienskap noem. Plus, ek weet hoe om met multicams in ’n TV-studio te werk. Hoe om akteurs te choreografeer sodat die beeld prikkelend bly.

Raad vir ander in jou beroep?
‘n Mens moet te alle tye jou beste lewer, en as jy die byprodukte van ons beroep najaag – roem en geld – sonder om gehalte voorop te stel gaan jy as ’n treurige wese eindig. Ek het ’n paar gunsteling-aanhalings waaraan ek myself herinner. Hier’s een, glo van ’n Amerikaanse Indiaan: “Inside of me are two dogs. One is mean and evil, the other good. The mean dog fights the good one all the time.” Toe hy gevra word watter hond wen, het hy geantwoord:“The one I feed the most.” Ek kom agter om Oubaas te speel het my meer bewus gemaak daarvan dat ek self ouer word. En ’n paar lastige skete en kwale het onlangs kop begin uitsteek, wat beteken ek kan myself nie meer met my gunsteling-kossies voer nie. Neute. Ai. Kaas.” Hy sug. Later SMS hy. “Ek gaan nou tee maak en ’n stuk kaas – duimgrootte, onthou – op rogbrood eet.” Reg so, Pierre. Onthou om altyd die goeie een sy kos te gee, sodat hy die oorhand behou … (Nog later stuur hy ’n e-pos oor ‘n “groot fout” in hierdie artikel: “In die begin praat jy van die ‘aantreklike man’ wat langs jou sit. Jy’t obviously verkeerd gekyk. Ek kan nie onthou wie regs van jou was nie, maar ek het links van jou gesit. Die ouerige ou met die bles?”

GUNSTELINGE
Flieks: Amélie, Ben Hur, Shawshank Redemption, Forrest Gump en Kolya.
Regisseurs: Niemand is deurlopend briljant nie. Maar Frank Darabond en M. Night Shyamalan mag maar.
Drankie: Wyn en water, sommer saam.
Eetgoed: Presies wat my nou nie meer beskore is nie. Ek het mos ’n maagaandoening, hmmf. Neute, o, neute. En ’n regte Engelse ontbyt.
Rolmodelle: Ek het nie helde as sodanig nie. My siening van die mensdom is bra dim. Maar mense wat ek graag sou wou ken: Buddy Holly, Anne Frank, Shakespeare natuurlik, Jeanne d’Arc, Charlie Chaplin, sir Isaac Newton, Bram Fischer (ja, hy!), Thomas Becket, Alexander die Grote, Malcolm X. (’n Verrassing, die laaste een?)
Gunsteling-plek op aarde: Ek en Sandra reis graag. Veral na die mooiste  plek op aarde, in die gebied van Salzkammergut in Oostenryk met die mooiste dorpie, Hallstatt. Ook Parys, New Orleans, Londen en New York.
Jou beste eienskap: Ek is, glo my vry,  baie lojaal en betroubaar.
Waaroor voel jy sleg? Dat ek soms my  humeur verloor het met my kinders  toe hulle klein was.
Wat maak jou briesend? Die evolusieleer. Dis plein snert. En onbeholpe mense wat nie hard genoeg probeer nie.