sr1206_hjg_3_
Ons praat met

Oud 7de Laner weer terug agter die kamera

“Ek en Riaan is vriende sedert ons vyf jaar gelede aan die werklikheidsprogram Strictly Come Dancing deelgeneem het. Van toe af wou ons ’n projek saam aanpak. Ons het dit oorweeg om sy nutsman-program saam aan te bied, maar toe besluit ek ek wil verder studeer en ons het die idee op ys gesit.

“Nadat ek verlede jaar my kursus in sakebestuur voltooi het, het ek vir ’n tyd lank bemarkingswerk gedoen. Maar ek was nog altyd passievol oor TV en wou graag weer in die bedryf werk. Die tyd was uiteindelik reg om die program saam met Riaan aan te bied. Dit was die ideale geleentheid.

“Dit is ’n uitdaging om deel van DIY met Riaan te wees, want van die werk wat ons doen, is nogal moeilik, al laat Riaan dit so maklik lyk. Gelukkig het my pa my van kleins af geleer om opknapwerk in en om die huis te doen. Maar daar is natuurlik ’n klomp goed wat ek nie kan doen nie, soos loodgieterswerk.

“Ai-jai-jai! En ek sukkel nogal met die werk wat spierkrag verg; ek is mos nie die mees gespierde outjie nie!

Riaan leer my baie. Dit help dat hy weet wat hy doen. En ons het soveel pret. Ek het so half vergeet hoe lekker dit is om in die TV-bedryf te werk. Ek het dit so gemis. Ek is ook deel van die span wat verantwoordelik is vir die sake-ontwikkeling van DIY met Riaan. Dis wonderlik, want ek het juis die kursus gedoen om my sake-kennis uit te brei sodat ek ook agter die kameras kan werk.

Ek pak volgende jaar my MBA aan, deeltyds sodat ek steeds op my toneelspel kan fokus.”

*DIY met Riaan word Saterdagoggende om 08:30 op SABC2 uitgesaai.