overtone_hat
Ons praat met

Overtone: SA mansgroep deur Clint Eastwood ontdek

Suid-Afrika spog met ‘n nuwe a cappella-mansgroep, Overtone. In Maart vanjaar het nog net ‘n paar mense hul musiek aan die Oos-Rand gehoor. Maar nadat regisseur Clint Eastwood van die rugbyfliek Invictus, wat wys hoe Madiba en rugby ons reënboognasie herenig het, se vrou Dina hulle in Kaapstad gehoor het, is hulle wêreldbekend.

Hulle is trouens verantwoordelik vir die klankbaan van dié fliek. En wie weet, dalk wink ‘n Oscar vir dié groep. Hulle bestaan uit: Emile Welman (tenoor), Eduard Janse van Rensburg (kontra-tenoor), Ruan van Zyl (bariton), Shane Smit (bariton), Ernie Bates (tenoor), Valentino Ponsonby (ritme en perkussie) en Riaan Weyers.

Marguerite van Wyk het met Emile Welman en Riaan Weyers gesels.
 
Baie geluk met jul ongelooflike sukses. Hoe voel dit om oornag dié sukses te bereik?

RIAAN: Dis soos ‘n droom. Met ons Queen-huldekonsert in die Kaap het ons gegrap deur te sê: “Dink net daaraan as ons eendag vir Matt Damon of Clint Eastwood kan ontmoet!” Dit is regtig nie iets wat gebeur met alledaagse Suid-Afrikaanse outjies nie. Dit voel steeds party dae soos ‘n feëverhaal. Dit mag dalk lyk soos oornag-sukses, maar die waarheid is dat ons hard gewerk het om te kom waar ons is. Die geleentheid het op die regte tyd gekom.

EMILE: Ons het dit glad nie verwag nie. As jy ‘n jaar gelede vir enigeen van ons gesê het ons sou in dié posisie wees, sou ons vir jou gelag het.

Wat het julle vir Dina, Clint Eastwood se vrou, gesê toe julle haar ontmoet het? Dis mos eintlik indirek danksy háár wat julle op die Invictus-klankbaan is . . .

RIAAN: Met ons ontmoeting het ons nie eens gedink daaraan dat ons op ‘n Hollywood-klankbaan kan wees nie. Ons was só oorweldig met al die mense wat na ons kom luister het. Dina het ons CD gekoop en oor en oor daarna geluister in hul motor. Clint het “Shosholoza” gehoor en ons gevra om ‘n “demo” te doen, met geen beloftes om dit te gebruik nie.

EMILE: Ons het glad nie met Dina gepraat oor die rolprent nie. Ons was net geskok om haar te ontmoet en toe sy ons vra om ‘n private vertoning te doen vir die Invictus-span, het ons gedink dit sal seker die grootste vertoning van ons lewe wees. Clint het eers twee weke ná die vertoning vir ons genader en gevra om die “demo” op te neem vir die rolprent.

Wat dink julle maak jul klank so besonders?

RIAAN: Dis rou talent. Nie oorgeproduseer in ‘n ateljee nie. Ons kan sing sonder enige toerusting, wat dit eenvoudig maak.

EMILE: Ek dink ons het ‘n mengsel van goeie musikante met goeie idees en ons is almal grootgemaak met dieselfde waardes en norme. Almal het respek vir mense. Mense sien dit raak!

As julle gevra word om volgende jaar by die Golden Globes of die Oscars te sing, watter liedjies sal julle sing?

RIAAN: Waarskynlik “9000 days” – dis die temalied van Invictus. (Luister na die liedjie “9 000 days” hier)

EMILE: Toe ons ‘n vertoning gedoen het vir ‘n paar lede van die paneel van die Golden Globes moes ons musiek speel wat ons opgeneem het vir die rolprent.

Tydens jul onlangse besoek aan Amerika het julle op die Lopez Late Night Show verskyn en was julle op die gesogte Ellen (DeGeneres) Show – hoe was dié ervaring?

RIAAN:  Ellen het gevra: Waar is die instrumente? Dit was só snaaks. George (Lopez) is ‘n aangename ou. Hy wou weet hoe vinnig ons weer terug kan kom na Amerika en of ons daar sou wou woon.

EMILE: Amerikaners was geskok om te sien “die groep uit Suid-Afrika” is wit. In Amerika het hulle vooropgestelde idees dat daar slegs swart mense in Suid-Afrika is. Nietemin het hulle ons met ope arms ontvang en ná die optrede wou almal weet waar hulle ons volgende vertoning kon sien. Ellen en George is ongelooflik, absolute perfeksioniste en albei baie snaaks!

Wat sou julle wou aantrek na die Oscars?

RIAAN: Verkieslik ‘n Emporio Armani-pak. HA!

EMILE: Ons moet eers genomineer word voor ons daaraan kan begin dink.

Toe julle drie uur lank op een van die VSA se bekendste radioprogramme, KGO Talk Radio in San Francisco, gaste was, het julle “Die Oukraalliedjie” in Afrikaans gesing en 15 miljoen Yanks het na julle geluister. Hoe het die mense op julle gereageer?

EMILE:  Ek dink dit was vir hulle vreemd om dit te hoor. Amper soos wat dit vir ‘n Afrikaner is om iemand in Italiaans te hoor sing. Wat dié liedjie wel verkoop het aan die mense, is die ritme en melodie. Alhoewel dit ‘n ander taal is, is ritme en melodie universeel.

Beskryf jul klank?

EMILE: Overtone se klank is iets waarna baie strewe, maar net party regkry. Ons het ‘n mengsel van sewe invloede op elke liedjie wat ons aanpak omdat elke ou iets anders bied. Dit sorg vir ‘n klank wat almal kan waardeer – oud en jonk. Daar word soms aan die klank verander, maar die gehalte van die musikaliteit bly konstant. Overtone kan beskryf word as ‘n kombinasie van ‘n boyband en vocal band.

Wat is jul toekomsplanne?

RIAAN: Ons wil Amerika toe trek en ‘n ruk lank in die Amerikaanse mark in breek, ‘n paar “hits” maak.

EMILE:  Die toekoms is onvoorspelbaar. Ons beplan om vroeg in 2010 vir ses tot agt maande na Amerika te verhuis waar ons sal toer en ook ons nuwe album sal klaarmaak.

Hoe was dit om saam met Clint Eastwood en die Invictus-span te werk?

RIAAN: Hy weet wat hy wil hê en mors nie tyd of geld nie. Hy werk vinnig en hou jou op jou tone. Dit is besonders om saam met ‘n legende te werk.

EMILE:  Ongelooflik. Clint en sy span laat jou dadelik voel asof jy deel van die familie is.

In Amerika het Josh Groban julle ook gehoor en julle glo genooi om aanstaande jaar tydens sy Suid-Afrikaanse toer as openingsgroep saam met hom op te tree . . .

RIAAN: Ons kan nie nee sê vir só ‘n geleentheid nie! Hy is plat op die aarde en waardeer ‘n nuwe groep se talent, ek eer hom daarvoor. Dit is nog ‘n droom wat waar word.

EMILE: Hy is een van die mees ongelooflike mense wat ons nog ontmoet het en ons sal vir seker saam met hom wil optree – oral ter wêreld as ons die geleentheid kry.

Watter celebs het julle nog in Amerika ontmoet?

EMILE: Orlando Bloom! ‘n Verskriklike aangename persoon.

Vanwaar die naam Overtone?

RIAAN: Overtone is in Afrikaans “botoon”. Dit is ‘n ekstra noot wat gevorm word met perfekte harmonisering. Ons het drie jaar gelede op die naam besluit.

Wie is verantwoordelik vir jul musiek – die lirieke en musikale verwerkings?

RIAAN: Emile en Ernie doen die meeste van die verwerkings. Maar almal gee insette as dit kom by die tipe musiek en liedjie-styl.

EMILE:  Ons is sewe lede, so, as enige lid ‘n liedjie geskryf of verwerk het, dan bring hy dit na die groep toe en vandaar workshop ons dit.

Hoe gereeld oefen julle, en wat doen julle vir ontspanning?

RIAAN: Ons oefen drie tot vier keer per week en geniet gholf.

EMILE: So gereeld as moontlik, veral noudat ons besig is met nuwe materiaal vir die nuwe album. Ons is bevoorreg om te kan sê dis ons heeltydse beroep.

Wat maak a cappellaso uitdagend?

RIAAN: Jy kan nie vals note wegsteek nie.

EMILE:  Die truuk is om nie soos a cappellate klink nie!  

Die klankbaan van Invictus was ‘n paar dae ná die uitreiking reeds agtste op die iTunes-topverkoperlys  – dit moet ongelooflik lekker voel. Wat is jul gunsteling-liedjie daarop en hoekom?

RIAAN: “Colour Blind”. Dit is deur ‘n Suid-Afrikaner geskryf en gaan oor die Mandela wat nie kleur (wit/swart) kon sien toe hy uit die tronk uit gekom het nie. Die lirieke is hartroerend.

EMILE:  Sekerlik “9000 days” omdat dit verwys na die tydperk wat mnr. Mandela in die tronk was, en ek het dié liedjie saam met Clint Eastwood en sy vrou geskryf.

Dink julle Overtone sal vir ‘n Golden Globe of Oscar benoem word?

EMILE: Nee, nie vir ‘n Golden Globe nie, as gevolg van politieke redes in die movie-bedryf. Maar ons het ‘n sterk kans vir die Oscars in die kategorie “Best Original Song in a Motion Picture” vir “9000 days” en ook vir “Colorblind”.

* Overtone se nuwe CD, Frequency, met 18 snitte, is sonder enige elektroniese foefies of instrumente opgeneem.

  • http://wmjigfdkuguq.com/ gdoacq

    tctrKU ekirjwvbtfvh, [url=http://iwedsgcnaeue.com/]iwedsgcnaeue[/url], [link=http://zimkdihcywwm.com/]zimkdihcywwm[/link], http://twzwyjglyuws.com/