Ons praat met

Paul Boekkooi se resensie van Op die vrou af 2

Nou’s hulle op pad Volksbladfees toe (14 Julie)! Hier’s Paul Boekkooi se resensie van dié trefferstuk in die Innibos-feeskoerant:

“Musiekteater” sê die opskrif en dís presies wat dit is. Ook so ietwat kabaret-agtig – sou jy die Europese en Latynse invloede byreken. Beste van alles is dat dit op Afrikaans niks van sy aardsheid verloor nie. Hennie van Greunen, Pedro Kruger en Jolette Odendaal sorg voluit dáárvoor.

Met André le Roux se rubrieke in SARIE as inspirasie, vertel Op die vrou af 2 die verhaal van twee getroudes wat sommer so ’n bietjie van mekaar af weggedryf het. Geensins kwaadwillig nie. Hulle leef net so ietwat te veel in hul eie wêreldjies. Veral hy. Sy weet nog presies hoe om passie op die spoor te kry. Hy nie, en hy reageer nie te wakker op hare nie, of interpreteer dit verkeerd.

Die show is ook musikaal eweneens ’n polsende duospel waarin Odendaal en Kruger weet hoe om die stembande te laat vibreer vir effekte wat die omvang van die voorstedelike stadsprokie op ’n besondere manier laat tintel met opwinding.

Dié twee is só natuurlik op mekaar ingestem, dat hulle aanvoeling vir mekaar totaal intuïtief aandoen. Dit is dan ook dié bestanddele wat die aanbieding by tye so bo sy alledaagse gegewe laat uitstyg.

Kort na die opening word daar gespot met The Pink Panther en wanneer Pedro Kruger voor sy klavier plek inneem, speel hy die tema in steeds verder ontwikkelende variasies en dissonansies wat perfek die stemming van die lirieke weerspieël. Hy’s nogal enig in sy soort om hierdie musikale subteks as deel van die geheel te vestig.

Die Le Roux/Van Greunen-teks ontgin die verskillende maniere waarop mans en vroue op dieselfde basiese gegewens reageer en dít is vanselfsprekend die teelaarde vir die slagveld tussen die geslagte.

Hulle gaan terug na hul matriekafskeid en dié sekwens wat bestaan uit loslittige gebaljaardery waarin mimiek en ander vorms van fisieke teater tot hul uiteinde gevoer word, styg dan bepaald uit as een van die komiese hoogtepunte van Op die vrou af 2.

Ook die slot-tango – hoewel dit eggo’s van die pas genoemde onderdeel  in hom dra – toon presies wat gebeur wanneer een van die twee dansers nie die ander een se intensies aanvoel of deel nie . . .

Maar humor in al sy fasette is presies dit wat hiervan ’n treffer in eie reg maak. Mag die professionele driehoeksverhouding tussen Kruger, Odendaal en Van Greunen lank bly floreer!

  • SRyTDk ldarmzoyzevp, [url=http://oorfegfdyiwu.com/]oorfegfdyiwu[/url], [link=http://prxqyothhuek.com/]prxqyothhuek[/link], http://ylhlteuyszbt.com/