Ons praat met

Paul du Toit: ‘Eintlik is ek skaam’

[box:full:grey:both]

Ek hoop . . .

[/box]

  • ek oorleef die verfilming van Rof of spog. Ek het my al bewusteloos geval op die ys, drie steke in my arm gekry, leeus het om my bakkie geloop, ’n haai het om my branderplank bly sirkel . . . en ek het ons produksiekombi gerol. Maar ek is darem hier om die storie te vertel . . .
  • om nog terug te trek Kaap toe. Ons het ’n huis in Constantia (die arm deel!) gekoop, en Joshua (4) en Ollie (2) is klaar by die skool ingeskryf. (Joshua begin in 2014 daar.) Johannesburg was baie goed vir my en my vrou, Clair, se loopbane, maar ek wil woon op ’n plek waar my kinders nog kan fietsry in die straat. En ek wil surf!
  • ek kan Suider-Afrika eendag in ’n kano deurkruis. Ek sal begin by Johannesburg se Kliprivier, wat in die Vaalrivier invloei, dan die Oranje aandurf, stop op Port Nolloth . . . daar is nog ’n paar kinkels om in ag te neem. En dan van Johannesburg met die Krokodilrivier langs, in die Marico, in die Limpopo en in die see by Xai-Xai in Mosambiek. Dis my droom.
  • my en Terence (Bridgett) se vriendskap oorleef die opnames van ons program. Ons ken mekaar gelukkig so goed, al van studentedae af, ons weet wanneer om mekaar ruimte te gee. Ons is baie anders, maar ons het ook baie gemeen.
[box:full:grey:both]

Ek is bang . . .

[/box]

  • ek sal nie ’n goeie ouer wees nie. Ek is goed met hul krisisse soos bloed en fisieke seerkry, maar die emosionele . . . dáár is ek uit my gemaksone. Dis moeilik – daai ding om te weet hoe om jou kind emosioneel sterk groot te maak.
  • vir al die adrenalien-dinge waaroor ek so mal is. As jy eers daardie adrenalien en endorfiene geproe het, soek jy nóg. Dis soos ’n dwelm, daarsonder is ek knorrig en beduiweld. Die gevaarlike ding is wanneer jy ophou om bang te wees.
  • vir ’n middelmatige lewe. Om wakker te word en elke dag volg presies dieselfde patroon …
  • ’n Gehoor kan vrees ruik. As jy dit wys, verloor jy hulle.
[box:full:grey:both]

Wat ek geleer het

[/box]

  • Ek kry lag as mense hul eie PR [reklame] begin glo. Of as mense hulself so ernstig opneem.
  • Ek word nie sommer kwaad nie, maar ek is die een wat sy humeur verloor as iemand steenbras (of vis op die bedreigde lys) in ’n restaurant bestel. Ek raak baie opgewonde oor besoedelde riviere of die seelewe wat gestroop word. Ek irriteer mense met my groen houding.
  • Ek hanteer stres deur baie stil te word, ek raak eintlik sosiaal onbeholpe.
  • As ek vir my kinders een ding kon leer, sou dit wees: Doen wat jou siel laat sing. Maak nie saak wat dit is nie. Moenie tevrede wees met die naasbeste nie.
  • Ek is op die uitvoerende raad van die liefdadigheidsorganisasie Reik na ’n Droom. Dis so humbling as jy sien wat party van die kinders se drome is. Soos “’n ketel vir my ma”. Jy kom agter hoe geseënd jy is. Die wete dat jy regtig ’n verskil kan maak, is baie bevredigend.
  • Soos baie akteurs is ek eintlik skaam, wat niemand natuurlik glo nie. Ek is ook baie verantwoordelik (wat ook niemand glo nie), maar ek dink dit verg baie om ’n goeie lewe te skep vir jou gesin in hierdie wisselvallige bedryf.
  • My en Clair se verhouding werk goed omdat ons so uiteenlopend is. Sy hou van orde, ek geniet ’n chaos. Sy het ook ’n “regte” werk – sy hanteer die logistiek by ’n bemarkingsmaatskappy. Ons gee mekaar algehele ruimte.
  • Ek huil maklik oor emosionele goed, soos toe my eerste kind gebore is. Dit was die mooiste oomblik in my lewe.
  • Ek het twee weke lank regte op Stellenbosch geswot, toe slaan ek oor na drama. Ek hou nie van baklei nie en sou nooit ’n goeie prokureur gewees het nie.
  • My lewe lank is ek al in water, op water, onder water, naby water. Ek het onder meer al drie keer aan die Duzikanomarathon deelgeneem. Op die oewer van die rivier kry jy die hele samelewing: Die wintie ou met sy groot speedboat, die ryk boer, die maplotter wat my al gered het as my boot in twee stukke breek, die ouens wat in plakkerskampe langs die rivier bly . . . Dit het ’n vreemde verenigende element.
  • Kinders verander jou lewe. Joshua is gebore presies nege maande nadat ek en Clair getroud is. Hy was baie onverwags en onbeplan – ons het voor dit ses jaar lank saamgewoon. Maar met kinders stagneer jy nooit. Jy leer om jouself en jou eie begeertes te ignoreer of uit te stel, en dat jy boonop nou tweede kom in jou vrou se lewe!
  • Ek was as kind hiperaktief, met ’n baie kort aandagspan. Ek raak vandag nog gou verveeld. My werk pas my so goed, want in een jaar was dit Liefling, die fliek, die verhoogstuk Death of a Salesman, Binneland, die musiekblyspel Offbeat Broadway waarvoor ek die lirieke geskryf het en Rof of spog – my passies.
[box:full:grey:both]

Rof of spog se Engelse weergawe, Rough or smooth, is van Januarie op die kanaal Mzansi Magic (DStv-kanaal 107) te sien.

[/box]