diaan_rz
Ons praat met

Paula groet eers die Laan

Sy’s skaam, gek oor kos, raak vies wanneer iemand popcorn in die fliek kou en glo daar is spoke. En dís beslis nie Paula van der Lecq, daardie loskop, bedorwe blondine in 7de Laan nie, maar wel Diaan Lawrenson, die aktrise wat al ses jaar lank die rol van “mode-, skoonheids-, boeke- én sosiale redakteur” van die Hillside Times speel.

Berei jouself voor op ‘n nuwe kinkel in die 7de Laan-kabel: Paula, vir wie die lewe om hop, jol, pret en, bowenal, haarself draai, groet vir eers.Op 27 Mei sien ons haar vir die laaste keer in ses maande op die kassie. Haar karakter besluit om “‘n nuwe begin” te maak.

Intussen neem Diaan reeds ‘n blaaskans van die ure op stel en elke aand se woorde leer. Want, soos sy sê: “Die rol verg geweldig baie energie, ‘n mens moet herlaai.”

Ons gesels in ‘n vriendin se huis in Mowbray, Kaapstad, waar sy en haar vaste vriend, die sanger-akteur Jody Abrahams, tuisgaan tydens Diaan se sabbatsvakansie. “Ek neem maar min vakansie en daar is verskeie projekte waaraan ek nou wil aandag gee,” gesels Diaan terwyl sy in die kombuiskaste rondsoek na ‘n teepot.

HAAR GUNSTELINGE

Deftige klere ‘n Little black dress en ‘n paar beautiful skoene

Aktrise Cate Blanchett, Diane Lane, Kate Winslet

Akteur Philip Seymour Hoffman

Skrywers vir inspirasie Marian Keyes, Erica Jong, Camille Paglia, Harville Hendrix

Boeke op my bedkassie Eat, Pray, Love deur Elizabeth Gilbert en Stephen Simm se Miss Kwa Kwa en sy The Dark Side of the Braai, ‘n satiriese kykie na ons Suid-Afrikaners

Musiek Meestal old school, soos Kool & the Gang

Akteur om mee saam te werk Vuyelwa Booi (Alyce in 7de Laan)

Vakansieplek Witsand by Kaap Infanta

Lekkerny Lindt se donkersjokolade

Sy’s korter as wat ‘n mens dink. “Ek lyk maar net lank omdat die meeste ander aktrises saam met wie ek speel, soos Annelisa Weiland (Hilda), nóg kleiner is!” sê sy. Sy dra haar gunsteling-uitrusting: jeans,’n T-hemp en plat skoene. Haar hare is in ‘n poniestert en sy het skaars grimering aan. Dis eers wanneer sy oorkant jou kom sit dat jy sien hóé mooi sy is. Haar oë is groot en grysblou en verander saam met haar bui en uitrusting.

Diaan gee toe haar oë is haar “sterk punt”, maar trek dadelik haar skoene uit en wys haar “lelike”danser-tone. Van jare se Spaanse,moderne en jazz-danse, sê sy. “Ek hou ook niks van my neus nie.”

As sy maar net ‘n bietjie meer soos Paula kan wees, sê sy later.Nie in die selfbehepte sin nie,maar omdat Paula nie ‘n oomblik aan haarself twyfel nie.Diaan het selfs dae dat sy dink sy kan nie toneelspeel nie.Daarby is sy ‘n selferkende beheervraat “en dit maak die standaarde wat ek aan myself stel nóg hoër”. Sy en Jody besit saam ‘n maatskappy, Jester Productions, wat teaterproduksies op die planke bring en dokumentêre films maak.

Ook ‘n restaurant, Die Dagbreek, op Villiersdorp in die Overberg, wat hulle self bestuur. InMei tree hulle in die toneelstuk Under the FigTree in die Baxter-teater in Kaapstad op. Albei vertolk verskeie karakters, want die stuk handel oor twee liefdesverhale wat in verskillende tydperke afspeel.

Hulle werk ook saam aan ‘n dokumentêre fliek, There and Back, wat handel oor Jody se oom, Eddie Daniels. Hy was saam met oudpresident NelsonMandela en Walter Sisulu opRobbeneiland. “OomEddie was ‘n gewone man wat vir vryheid geveg het,” vertel Diaan. In die film loop Eddie en Jody se lewensverhale parallel.”Dis baie interessant . . . Ons hoop om die film aan die einde van die jaar te voltooi,” sê sy met ekstrablink oë.

In Julie gaan die twee in Europa toer en Jody gaan daar speel en sing in David Kramer se Die Ballade van Koos Sas, waarvan hy medeskrywer was. Maar so teen die einde van die jaar is Paula terug!

Daag die Paula-rol jou nog uit?
Absoluut. Ek moes eenkeer Paula én haar tweelingsussie speel. Een het gebry en een het gelispel. Op ‘n ander keer moes ek drie personas wat deur Paula aangeneem is, gelyk speel – die aktrise Greta Garbo,’n sakevrou en ‘n tomboy. Omdat ‘n mens min tyd het om daaroor te dink en voor te berei, is veral sulke episodes ‘n groot uitdaging.

Dra jy ook hoë hakke en besoek skoonheidsalonne soos Paula?
Hoë hakke na spesiale geleenthede, en hoewel ek nie heeltyd in skoonheidsalonne rondlê nie, probeer ek gereeld vir ‘n lyfmassering gaan. Dis ‘n uur waarin ek volledig ontspan. Ek probeer ook om elke dag vir ‘n tydjie stil te word en op my asemhaling te fokus. So nie oorrompel my besige kop my!

 ‘n Bewonderaar vanWelgemoed, Kaapstad, wil weet hoeveel van daardie hoë woorde en Frans wat Paula praat jou eie is?
Ons mag nie afwyk van die teks nie.Omdat ek ‘n joernalis speel, is ek een van die karakters wat suiwer Afrikaans praat. Die skrywers sal wel soms van my eie sêgoed by die teks inwerk.

(Oubaas) sê kos is vir jou baie belangrik?
Wanneer ons saam toer, beplan ek en Pierre ons dag rondom etes, want kos is vir hom net so belangrik! Ons sal byvoorbeeld sê ons gaan vandag op dié dorp vir ‘n Wimpy-hamburger stop.  As ek nie gereeld eet nie, word ek ‘n absolute monster.Daarby kan ek nie maaltye oorslaan nie – ek ly aan lae bloeddruk en dit raak dikwels swart voor my oë. Ek is mal oor kos. Ek gym elke oggend vyfuur net sodat ek kan eet. Gym help ook vir stres en om my kop skoon te kry.

Jy en Jody is die eienaars van Die Dagbreek, wat tradisionele boerekos en Kaaps-Maleise kos met ‘n twist voorsit. Is dit moeilik om ‘n restaurant te hê?
Danksy Jester Productions het ek sake-ervaring. Ek besef hoe belangrik beheer oor finansies is. Jy moet vooruitskattings kan maak, tot in die fynste besonderheid weet wat jy vir huur, wyn en kos betaal en sorg dat jou geldsake klop én jy ‘n wins maak. En diens is ontsettend belangrik.

(Altus de Bruyn in 7de Laan) wil weet wat jou pet hate is.
Oneerlike of valse mense.’n Mens behoort volgens jou waardes te leef. Ek hou ook nie van egoïste nie, soos diegene in ons bedryf wat hul eie beuels blaas. Jody sê altyd: Laat iemand anders vir jou vertel hoe goed jy is, jy hoef dit nie self te doen nie!

Terwyl jy en Jody die dokumentêre fliek gemaak het, het jy vir oudpresident Nelson Mandela ontmoet?
Hy het Jody by die naam onthou! Hulle het mekaar die eerste keer kort ná die 1994-verkiesing ontmoet toe Jody in Londen in die internasionaal bekroonde Kat and the Kings gespeel het.Madiba het destyds oorgevlieg om daarna te gaan kyk. Die hele cliché oor Madiba is waar: Hy is enigmaties en het ‘n sjarme wat ‘n mens oorrompel. 

Wat maak Jody so spesiaal?
Hy het ongelooflike talent as kunstenaar en hy lewe volgens sy waardes. Hy is snaaks en opreg.Die eienskap wat ek die meeste bewonder, is dat hy in enige situasie positief bly.
Ons inspireer mekaar wanneer een ‘n show wil doen en ons kan ure gesels oor ‘n goeie movie of show wat ons gesien het. Daarby is hy ‘n ekstrovert van wie almal hou. Vreemde mense sal hom sommer nooi vir ‘n braai. Dis lekker, want ek’s nie so nie.

Is interrassige verhoudings steeds ‘n issue in ons land?
Mense sê so, maar ek kom dit nie agter nie. Ek dink nie in terme van kleur nie. Oor die algemeen is almal amazing met ons.

Wil jy trou en kinders hê?
Dit lê in die toekoms, ons is nie haastig nie.Die tyd moet reg wees, ons lewens moet eers agtermekaar wees. Aan die ander kant,’n mens kan seker nie té lank wag met kinders nie. En ja, ek sal dan steeds wil toneel speel.

Jou ouers, Tertia en Phillip, is geskei toe jy 14 was. Watter invloed het dit op jou gehad?
Dis altyd moeilik wanneer ‘n familie-eenheid opbreek. Daar is veranderinge en die huis word kleiner.Tog dink ek kinders is gelukkiger wanneer hulle sien hul ouers is gelukkig.Myne het nie openlik gestry nie,maar ‘n mens voel tog iets aan. Ek dink ook die egskeiding het my meer onafhanklik gemaak.

Jou suster, vra wat was jou gunsteling-familievakansie toe julle klein was?
Ons het skoolvakansies Kaap toe gegaan om by my ouma-hulle te kuier. Daar was die see, die son, tuisgemaakte gemmerbier, speserykoekies en groot families. Dit was spesiale tye.

Hoe het die toneelgogga gebyt?
Niemand in die familie het in die kunste gewerk nie,maar kultuur was belangrik. Ek en Sam en ons broer, Richard, en niggies en nefies is altyd aangemoedig om ons verbeelding te gebruik. Ons moes shows vir ons oumas en oupas hou.My een ouma het ook van kleins af ons Kersfeesstories op band opgeneem. En my oupa het ons gereeld buitentoe geneem om feetjies in die tuin te soek.

(Jou huismaat, Alyce, in 7de Laan) wil weet of jy ooit heeltemal sal ophou toneelspeel en net toneelstukke skep en vervaardig?
Nee! My eerste liefde is toneelspel, om karakters se stories te vertel. Maar ek hou ook van vervaardiging en ek sou graag meer films wou maak, veral om ons plaaslike stories te vertel.

(7de Laan regisseur) wil weet hoe jy daaroor voel dat kunstenaars verplig word om hul beroep finansieel te dra? Want die regering en die private sektor gee nie juis geld vir die kunste nie.
Dis ‘n kwessie na aan my hart, wat twee kante het. Aan die een kant is daar beslis meer ondersteuning nodig,maar aan die ander kant is dit ‘n goeie ding dat ons almal gedwing
word om self werk te skep en produksies op die planke te sit.

(SARIE se sosiale en stylredakteur) doen dieselfde werk as Paula. Hy vra hoekom daar mense is wat dink jul werk is grappies en speletjies en dat partytjies nie ernstige sake is nie?!
Mense kyk vas in die voordele.En dit ís lekker om mooi goed verniet te kry, soos fabulous klere of grimering.Maar Paula woon met ‘n doel gesellighede by. Sy doen navorsing of bou kontakte op. In die werklike lewe is dit nie maklik nie.

Wat maak jou emosioneel?
Wanneer ‘n show se speelvak einde se kant toe staan, raak ek hartseer. En ook soms wanneer ek betrokke is by geldinsameling-geleenthede vir tehuise of siek kinders.

Wat maak jou kwaad?
Taxi’s wat voor my inry en mense wat tydens movies praat of popcorn kou.

En opgewonde?
‘n Inspirerende boek of movie, ‘n oomblik van briljante toneelspel of ‘n naweek saam met my ma. Ons het min tyd saam en beplan dan lank voor die tyd watter games ons gaan speel en watter kos ons gaan eet. 

Glo jy regtig in spoke?
Ek het voorheen in ‘n woonstel in Johannesburg gewoon waar rooi krytkrapmerke deur ‘n kind laag op die muur verskyn het.Wanneer ek dit afgewas het, het dit weer verskyn. Daar het ook gereeld kinderhanddrukmerke op my balkonnetjie verskyn. En nêrens was daar kinders nie . . .

Wat wil jy hê moet ander van jou sê wanneer jy nie meer hier is nie?
Sy het in liefde en lewe alles gegee.

Besoek ook www.jesterproductions.co.za

Diaan deur die jare

 

6 April 1978 My geboortedag.
Ek was glo ‘n soet,
slaperige baba.

 

1984 Die juffrou skors my byna uit
die kleuterskool op Bothaville in die
Vrystaat waar ons vir ‘n rukkie gewoon
het. Ek het haar werk probeer oorneem deurvir die ander kleuters opdragte te
gee!

 

1985 Ek gaan kaalvoet skool
aan die Laerskool Geldenhuys in
Linden. 1991 Ek word
‘n leerder aan die Nasionale
Kunsteskool in Johannesburg.

 

2003 Ek kry die rol van
Paula van der Lecq in 7de Laan.

 

2007 Ek en Jody Abrahams word ‘n paartjie.

Mei 2008 Ek pryk op SARIE se voorblad en speel ook vir julle model. Die foto’s is besonder mooi.

   
 

2009 Ek en Jody speel in Under the Fig Tree, werk aan ons dokumentêre fliek, There and Back, en beplan projekte soos ‘n stoepstoriefees by ons restaurant,
Die Dagbreek, op Villiersdorp.

   
  • Judy Van Der Walt

    Ek is mal oor Diaan!!!! Sy is great

  • Bianca van Staden

    Ek is versot oor Diaan se karakter in 7de Laan! Briljante aktrise!