pedro
Ons praat met

Skotland, maak reg vir Pedro!

Op die vrou af 2 se Pedro Kruger is op pad na ‘n verhoog op die Edinburgh International Fringe Festival waar hy in die verhoogstuk Normality te sien sal wees. Lou-Ann Stone het vinnig met hom gesels.

Vertel meer van Normality en hoe lank dit gaan speel.
Ek het jare terug in ‘n produksie van Hennie van Greunen genaamd Lyf gespeel. Hy het die verhoogstuk vertaal en die Engelse titel is Normality. Die fees hardloop vanaf 5 Augustus tot 2 September. Ons het 23 vertonings by die fees.

Hoe’t dit gebeur dat jy gekies is om deel te hê aan dié gesogte teaterfees?
Die produksiemaatskappy vir wie ons gaan speel, is Die Pleasance-teatergroep. Hoe dit werk: Jy doen aansoek by verskillende maatskappye en hoop een van hulle aanvaar jou produksie as deel van hul aanbiedinge by die fees. Ons is baie bevoorreg om gekeur te word deur die Pleasance-groep aangesien hulle gesien word as een van die top-teatergroepe by die fees.

Die aansoek het alles, van voorleggings, foto’s, resensie, DVD’s en CV’s , ingesluit. Ons is baie trots dat die produksie aanvaar is. Die fees word gesien as ‘n shopping mall van internasionale teater. So, daar is promotors van regoor die wêreld wat kom soek vir produksies om in hul teaters te speel. Sal dit nou nie wonderlik wees nie?

Waarna sien jy die meeste uit?
Om oorspronlike Afrikaanse teater (alhoewel dit nou vertaal is in Engels) op ‘n internasionale verhoog te gaan wys.

Is Normality die enigste SA-produksie by die fees?
Ek weet nie van nog produksies nie. Maar daar is altyd ‘n paar.

Wat lê vir jou voor wanneer jy terugkom?
Ek en Jolette speel voort met Op die vrou af 2 en ons begin voorberei aan volgende jaar se produksies. Daar is die Varingfees waar ek elke jaar die seremoniemeester is. En hopenlik ‘n bietjie vakansie…

Hou hulle dop!

Jy kan Normality se vordering by die fees op facebook dophou. Sluit nou aan by die Normality in Edinburgh facebook-groep