sr2013_pedro_kruger10
Ons praat met

Pedro Kruger: Waarvoor ek hoop, bang is

Ek hoop . . .

die vlerke van Normality/Lyf, my eenmanvertoning, kan nog wyer span. Ek voer dit al 12 jaar op en was verskeie kere in die buiteland daarmee, onder meer in Broadway in November. Dis ’n mooi liefdesverhaal waarin die een karakter liggaamlik gestrem is. Daar is soveel soorte gestremdheid: fisiek, in jou kop, jou gewig . . . Heling vind plaas as jy daai bruggie oorsteek en jouself aanvaar net soos jy is. Maar dis nie donker nie, dis baie vermaaklik en snaaks.

Ek is bang . . .

vir mense wat etikette aan ander hang. Jy is net ’n vrou, gestrem, gay . . . Nee, jy is soveel méér as dit. Maar mense sit jou in ’n boksie.

dat ek myself as kluisenaar sal onttrek van mense se negatiwiteit, pleks dat ek hulle probeer oorreed om positief en harmonieus te lewe. Dis ’n trek van my om van konflik weg te stap. Ek sukkel met mense wat vinger wys, oordeel, lelik praat van ander.

Wat ek geleer het . . .

Ek is al 25 jaar ’n verhoogakteur. Die Boland Moorde is my eerste rol as TV-akteur. Natuurlik was ek maar skrikkerig, en het gewonder of ek dit kan doen. Totdat ek besluit het, dóén dit net. Spring in en swem, moenie alles met ’n vraagteken aandurf nie. En as jy sink, doen dit wéér. Ek het nou al my tweede rol agter die blad: In Liefste Kayla, die Afrikaanse Hannah Montana. Ek is klaar minder bang, ek is nie meer ’n TV-virgin nie!

Die sterre is bo in die lug, jy staan op die aarde, onthou altyd wie jy is. My pa, Pietie, se woorde ná ’n opening van die verhoogproduksie Fiela se kind. Ek was 14 en het die rol van die jong Benjamin vertolk. Om so baie aandag op daardie ouderdom te kry . . . jy kan maklik kop verloor. Ek voel dit sal ’n klap in my pa se gesig wees as ek nie sy raad volg nie. Dit hou my voete op die grond.

Dit het my aanvanklik gepla dat mense my herken en na my kyk, in winkelsentrums, in die supermark se tou . . . Ek was bewus van hul oë op my en dit het my angstig gemaak. Ek het dit omgeswaai en besluit, wees net wie en wat jý is, hoe jý graag wíl wees, wat jóú gelukkig maak. Laat hulle daaroor sê wat hulle wil. Dit werk, ek voel nie meer asof ek in die supermark agter die rak sousbone wil wegkruip nie!

**Liefste Kayla begin 15 Januarie en Die Boland Moorde in April op kykNET