Pierre Spies en sy eersteling
FOTO: Phyllis Green

Pierre Spies en sy eersteling FOTO: Phyllis Green

Ons praat met

Pierre Spies oor sy huwelik, seuntjie en rugby-toekoms

Die lyf wat nou hier aangestap kom, kan net aan één man behoort. Die verstommende bultende bo-arms. Die asembenemende breë skouers. Die ongelooflike gespierde bobene. Als dóér bo, want hierdie man is láánk.

Ja, dis die volle 1,95 m, 108 kg, alles-net-spiere Pierre Spies (27). Agtsteman. Springbok. Blou Bul-kaptein. Hy praat op sy selfoon. “Hallo, Coach,” sê hy. Dis seker die Bulle se breier, Frans Ludeke. Want al speel Pierre nou al ’n paar maande lank nie rugby nie weens ’n geopereerde vinger, draf hy nog vir oefeninge op die veld uit. (Hy speel weer einde vandeesmaand in die wedstryd tussen die Blou Bulle en die Stormers.)

Pierre haal sy pet af, draai dit om, sit dit weer op. Voorop staan Pierre, agterop is die rooi Barbertonse madeliefie. Op sy hemp staan Bulls, op sy wit oefenbroekie Vodacom, op sy wit sokkies Puma. Hier buite voor sy gastehuis staan sy blinknuwe gitswart Toyota FJ Cruiser met USN (’n sportvoedingsproduk) in groot wit letters daarop geskryf. Onder die pet is sy donker hare deurmekaar. Hy het ’n snorretjie, want dis Movember en mans laat hul snor groei om geld vir manskwale soos prostaatkanker in te samel. Sy moestas is nie besonder welig nie en hy erken hy het nogal gesukkel om  dit te laat groei. “Maar ’n mens wil jou deel bydra,” sê hy beskeie.

Sy deel bydra, is iets wat Pierre nog altyd gedoen het. Op 19 was hy die jongste Blou Bul wat tot dusver sy Supertwaalf-debuut gemaak het. Vir die o.21-span het hy nege drieë in ses wedstryde gedruk. Hy hou die rekord vir die meeste drieë in die Springbokke se nr. 8-trui. Ná 50 Springbok-wedstryde het Pierre ook oorgenoeg rugbymemorabilia om ’n huis vol te maak. Agter hom teen die rooi muur van die gastehuis is twee geraamde rugbytruie.

Van die voordeur af is foto’s – eers van sy oorlede pa, Pierre, wat Springbokatleet was en vir Noord-Transvaal rugby gespeel het, en dan van hom.

“My huis in Erasmusrand is vol rugby-goed, hierdie is die oorloop,” vertel Pierre. “Ek sal nog ’n gastehuis as ’n uitstalplek moet oopmaak.” Pierre se gastehuis is net om die draai van Loftus af, en dit lyk na ’n lekker plek om rugby te kyk. Maar hy val net af en toe hier in. “My ma, Deirdre, bestuur my gastehuis. Ek kyk rugby en kuier by my huis.”

Dis nog ’n ding van Pierre: sy vrou, Juanné (25), en seuntjie, Pierre (hy het verlede maand sy eerste verjaardag gevier), is bo-aan sy lysie van prioriteite. “Eers kom my huwelik en gesin en die Here, en dan rugby,” sê hy.

“Ek werk daaraan om my huwelik gelukkig te hou, en sê elke dag vir Juanné ek is lief vir haar. Ek is ook ongelooflik lief vir my seuntjie en sien daarna uit om hom groot te maak.”

Pierre, Juanné en klein Pierre Spies

Was dit moeilik om so lank nie kompeterend te speel nie?
Dit het my tyd gegee saam met my gesin en was ’n goeie ruskans – fisiek en geestelik. Ek sal uitgerus en reg wees vir die wedstryd die einde van dié maand.

Het pa-wees jou lewe verander?
Verskriklik baie. Jy kan nie meer net doen wat jy wil nie, jy moet na jou vrou en kind omsien. Dis ’n aanpassing, soos die min slaap. Klein Pierre is baie, baie besig. Dis ongelooflik om ’n kind te kan liefhê. Ek en Juanné sê ons kan nie glo ons is ouers nie.

Soos wie lyk klein Pierre?
Hy lyk soos ek, maar het Juanné se blonde hare en blou oë. Hy het ná sy geboorte goed gegroei en is nogal fris. Hy is vriendelik, maar het ’n baie spesiale kyk wat hy by my gekry het. As hy nie wil glimlag nie, sal jy hom nie sover kry nie.

Toe jy klein was, het jou pa in ’n rympie geterg jy is nors. Ís jy?
Ek was baie ernstig toe ek klein was. Ek is ’n bietjie van ’n denker en ek het nie baie gelag nie. Hoewel ek vandag ’n bietjie gemakliker is, moet iets baie snaaks wees voordat ek lekker lag. Ek lag meestal vir die snaakse goed wat ons doen en sê en lag ook dikwels vir myself. Juanné lag makliker as ek. Gelukkig verstaan sy my en weet ek is nie so ernstig soos almal dink nie.

Sal jy Pierre aanmoedig om eendag beroepsrugby te speel?
Hy kan beslis speel as hy wil. Rugby of gholf sodat hy vir sy pa kan sorg. Ek dink nie rugby is gevaarlik vir kinders nie, hulle is te klein om mekaar seer te maak.

Wat sal jy hom leer van steroïede?
Steroïede hoort nie in sport nie en veral nie onder skoolseuns nie. Dis jammer dat daar soveel druk op kinders geplaas word en elke skooltjie gróót wil wees. Proteïen-aanvullings is gesond vanaf 16 of 17 jaar en ouer, maar moet aanbeveel word deur ’n gekwalifiseerde dieetkundige en biokinetikus. Dit kan net gebruik word as jy hard oefen. Die langtermyn-uitwerking van steroïede is sleg vir ’n mens, daarom moet enige skoolseun daarvan wegbly. Dit gaan jou in elk geval nie ’n beter rugbyspeler maak nie – dis wat jy doen op die veld wat tel, nie in die gimnasium nie. Ek sal beslis nooit steroïede gebruik nie, al dink baie mense ek het. Dis ’n kortpad vir harde werk en niks klop harde werk en dissipline nie.
Ongelukkig is min mense bereid om daardie prys te betaal om die lang pad te vat. Dis die pyn van dissipline teen die pyn van spyt. Jy moet maar self kies!

Hoe gaan jy hom motiveer?
Hy gaan weet hoe lief ek hom het, maak nie saak wat gebeur nie. Dis belangrik dat ’n kind die lewe geniet, maar hy moet ook hard werk om sukses te behaal, sy talente ontwikkel en dissipline toepas. Jy as ouer het die verantwoordelikheid om jou kind op die lewe voor te berei. Ek wil die beste vir klein Pierre hê, en ek wil hê hy moet goeie besluite neem. Ek wil ’n gesonde verhouding met hom hê, sy vriend en ouer wees.

Wat doen jy en Juanné om jul huwelik gelukkig te hou?
Ons gaan een keer per week op ’n date night, dis wanneer ons ons opdress en gaan uiteet, en die klein mannetjie by een van sy oumas aflaai. Ek voel ’n mens moet balans hê tussen jou tyd by die huis, en nie te veel weg wees nie. Ek gee vir Juanné blomme. Ek sê ’n paar keer elke dag vir haar sy is mooi en ek is lief vir haar, en ek maak seker sy hoor dit. Ons gaan gereeld vir ’n vinnige koffietjie en hou hande vas in die winkelsentrums. Kommunikasie is belangrik. Misverstande moet uit die weg geruim word, ’n mens moet daaroor praat en dit uitstryk. Met goeie kommunikasie leer julle elke dag van mekaar en word julle elke dag liewer vir mekaar. Ons praat baie oor klein goedjies wat vir ons spesiaal is.

Watter soort mens moet ’n rugbyspeler se vrou wees?
Sy moet selfversekerd wees. Ek kry nie baie aandag van vroue nie, hulle weet seker my vrou en huwelik is my prioriteit. Maar ek is altyd vriendelik met hulle en poseer saam met hulle vir foto’s. Juanné is seker van haarself en sy weet waar ons verhouding staan. Dis ook belangrik dat ek haar verseker dat sy die nommereen-vrou in my lewe is.

Was dit goed dat jy en Juanné nie seks voor die huwelik gehad het nie?
Ek en Juanné het geglo seks hoort net in die huwelik en het in die drie jaar wat ons voor ons troue uitgegaan het, nie seks gehad nie. Ek is trots op ons en bly en dankbaar daaroor. Die waarde daarvan vir ons huwelik is prysloos. Dis wonderlik om te weet dat ons onsself die eerste keer vir mekaar gegee het.

Wat het jy uit jou eie ouers se egskeiding geleer?
Dit het my gemotiveer om my huwelik te prioritiseer en die waarde daarvan te verstaan.

Watter lesse het hulle jou geleer?
My ma het my geleer om eerlik met jouself en met ander mense te leef en gedissiplineerd te wees. My pa het my geleer dis beter om die pyn van dissipline te ervaar as die pyn van spyt, en dat ons met die regte denke suksesvol kan wees. Hy het altyd gesê die beste lê nog voor.

Hoekom het jy die ambisie om die vinnigste, sterkste en beste nr. 8-speler in die wêreld te wees?
Dis hoe ek aanmekaargesit is. Ek glo ’n mens moet die beste maak van wat jy het. Jy het net een lewe en jy moet jou geleenthede gebruik. Ek wil nie eendag terugkyk en sê as ek tog net harder gewerk het nie …

Wat maak jou so suksesvol?
’n Bietjie van alles. Goeie gene, harde werk, dissipline en passie. As ek iets begin, wil ek dit deurvoer.

Wat is jou grootste vrees as rugbyspeler?
Dat ek nie my potensiaal bereik in die ses jaar wat ek nog wil rugby speel nie.

Is jy ’n perfeksionis?

Glad nie. Ek dink as jy té perfeksionisties is, sal jy pynlik wees. ’n Mens mag maar soms dinge laat gaan. Soms skeer ek nie omdat dit te veel moeite is. Ek het ook al my hare alles laat afskeer omdat ek dit nie wil kam nie. Dalk is ek ’n bietjie lui.

Eet jy gesond?
Ek is mal oor eet, en ek eet alles en baie. Ek is lief vir sjokolade. Toe ek onlangs by my sussie Steffani en haar man, die rugbyspeler PD Terblanche, in Frankryk was, het ek hope sjokoladecroissants, kaas en roomys geëet. Ek voel ’n mens moet ’n goeie balans handhaaf. As jy vyf dae per week baie gesond eet, kan jy maar twee dae kul. As ek oor naweke gesond eet, eet ek nagereg in die week. Elke mens werk dit maar vir homself uit. Juanné leef ook gesond, maar as ons lus is om koek te bestel doen ons dit soms twee keer per dag.

Hoe hou jy jou persentasie liggaamsvet laag?
My liggaamsvet is seker nou 7,5%. Ek hou dit laag met veral my dieet, oefening en ’n bietjie aanvullings. Ek eet goeie porsies, nie olierige of romerige kos nie, baie groente en vrugte, en ek drink baie water. Soggens eet ek Weet-Bix, nadat ek geoefen het ’n proteïen-aanvulling, in die middag slaai, hoenderborsies en dalk ’n bietjie pasta en in die aand weer hoender en groente. Ek het koolhidrate nodig, want ek oefen 12 tot 15 uur per week.

Het jy raad vir vroue wat wil begin oefen?

Maak oefening deel van jou lewe. Werk jou oefentye by jou daaglikse beplanning in en beplan wat en waar jy gaan eet. Bou jou oefenprogram stelselmatig op. Begin dalk om net rustig te stap en laat ’n professionele persoon dan vir jou ’n oefenprogram uitwerk. Begin eers vetverbranders gebruik as jy hard oefen.

Hoe sterk is jy?
Op my piek het ek 185 kg van ’n bankie opgestoot, 240 kg van die grond opgelig, 135 kg tot by my skouers opgetel, 1,4 m hoog van staande opgespring, en 40 m in 4,8 sekondes gehardloop.

Wat wil jy ná rugby doen?
Ek berei my nou al daarop voor, kry my finansiële en persoonlike lewe in orde en kry die regte advies. Ek sal sakeondernemings hê en nog ’n gastehuis open. Ek het ook ingeskryf vir ’n kursus as lewensafrigter en moet dit binne twee jaar klaarmaak. Dit kom vir my natuurlik en maklik om mense te motiveer om hul potensiaal te bereik en ek hou daarvan.

Watter boodskap lewer jy in jou motiveringspraatjies?
Kies goed en neem verantwoordelikheid vir jou keuses. Wees positief. Besluit waarin jy glo sodat dit vir jou ’n rigtingaanwyser kan wees, soos die Here vir my is.

Jy was ’n groot koorsanger . . . sing jy nog?
Net by die huis, vir my seun en die Here. Juanné kan ook mooi sing en musiek is deel van ons lewe. Sy het haar graad 8-musiekeksamen in klavier afgelê en klavierlesse gegee. Ons sal ons kinders met musiekinstrumente grootmaak. Ek kan klavier en kitaar speel en het vir ’n rukkie geleer tromme speel. Ek en Juanné hou ook albei van oefen. Ons draf soms saam. Juanné is ’n Pilates-instrukteur. Op skool het sy aan sport deelgeneem en is hoogs gekwalifiseer in ballet.

Hoe wil jy eendag onthou word?
As iemand wat ’n verskil gemaak het in mense se lewe. Iemand wat opgestaan en geglo het. Wat die beste gemaak het van wat hy gehad het.