Ons praat met

Theuns Jordaan: Plaasseun sonder fieterjasies

“Die eerste keer toe ek my kry, stap jy woordeloos deur my verby.” Dis ’n sin uit Theuns Jordaan se liedjie “Jou asem”. Hy skryf nie net goeie lirieke nie; hy verkoop selfs meer eksemplare per CD as Steve Hofmeyr!

Dit sê Theuns nie sélf nie, “want dit klink na spog”. Daarby het hy onlangs by die jaarlikse Vonk-musiektoekennings die prys as gewildste kunstenaar gewen. Die publiek het gestem. En in Februarie verskyn sy nuwe CD, Kouevuur, waarop hy Koos du Plessis-liedjies sing.

Ons gesels by die Jordaan-huis in Paradyskloof, Stellenbosch. Theuns bly hier wanneer hy in die Kaap optree, en dit is ook waar sy enigste suster, Linda, en haar seun, David (15), woon. Sy was voorheen ’n onderwyseres en is nou Theuns Jordaan Productions se bemarker. Vir teetyd is daar outydse koekies, “want dit herinner my en Theuns aan ons ouma,” vertel Linda. Net toe verskyn hy in die kombuisdeur. Steve is só reg wanneer hy sê: “Theuns stap nie ’n vertrek binne nie, hy vaar hom binne.”

Hy is veel langer as wat ’n mens verwag. Sy hare is netjies en sy oë tanzaniet-blou. Hy lyk pas gestort en sy hemp is kraakvars. Hy poseer geduldig met sy Taylor-kitaar vir foto’s. Die skrywer Deon Meyer sê juis Theuns is ’n absolute gentleman: “Hy het my met groot geduld en grasie gehelp met my navorsing oor die musiekbedryf,” vertel Deon – dit was vir sy jongste boek, 13 Uur.

Van Theuns se eerste vier CD’s, Vreemde stad, Tjailatyd, Seisoen en Grootste treffers, het reeds meer as 500 000 eksemplare verkoop, vertel Ilza Roggeband, musiekkenner en Theuns se media-agent. Hy’s die eerste Afrikaanse kunstenaar wat dít met musiek van net drie albums – Grootste treffers is ’n versameling uit die drie – kon regkry. Die DVD Bring jou hart, wat Theuns saam met Juanita du Plessis gemaak het, is ook die suksesvolste Afrikaanse musiek-DVD nóg.

“Dis oor ons stemme so mooi versny,” sê hy. Juanita sê Theuns se diep stem en musiek kalmeer haar. “Dis heerlik om saam met hom te werk, hy’s al soos ’n broer. Hy’s ’n uitmuntende musikant en een van ons beste liedjieskrywers. Ek dink sy puntenerigheid word verkeerdelik as arrogansie gesien. Hy’s net passievol oor sy beroep, dis ook ’n sakeonderneming. Hy’s ’n reg-of-weg-mens.”

Lankal verby is die jare tussen 1992 en 2000 toe Theuns elke aand in kuierplekke op Stellenbosch en in Pretoria gesing het. “Maar dit was wonderlik. Ek het geen drome gehad om CD’s te maak nie, ek was reeds in die hemel,” vertel hy. Saans het hy Engelse leenliedjies (covers) van onder andere die Beatles en Leonard Cohen gesing, en eers nadat sy amptelike optreetyd verby was, Afrikaans. “In 1999 was dít ongehoord in pubs,” vertel Theuns. Maar toe kom ál meer mense laataand na die Afrikaans luister.

10 dinge wat jy nie van Theuns Jordaan geweet het nie

Hy’t al vir Richard Branson van Virgin ontmoet. “Branson is charismaties en behandel almal dieselfde.”

Sy album Tjailatyd is aan David, sy susterskind, opgedra.

Hy hou van honde én katte. “’n Hond word deur sy baas gekies, maar ’n kat kies jou. Hulle is so onafhanklik.”

Hy koop sy klere op lughawens of op tydskrif-shoots. “Etikette is nie belangrik nie, ek’s maar ’n plaaskind.”

Hy loop meestal kaalvoet.

Hy was ’n kaptein in die Weermag.

Op skool het hy deelgeneem aan rugby, swem, tennis, spiesgooi en skyfskiet. Hy het later vir die Weermagspan en die WP geskiet.

Hy mis nie sommer ’n rugbywedstryd op TV nie en skree vir WP. Hy kyk ook altyd Carte Blanche, al moet hy dit opneem. “Dan mis ek niks belangriks wat in dié land gebeur nie.”

Hy’s mal oor teken.

In matriek aan die Hoër Volkskool, Graaff-Reinet, het hy onderskeidings behaal in Afrikaans en wiskunde.

Johan Bakkes, ouditeur, hoogleraar aan die Universiteit van Wes-Kaapland en skrywer, was een van hulle. Al is Johan nie in die musiekbedryf nie, het hy ’n ster herken en geld ingesamel vir Theuns se eerste CD. Die res was harde werk.

’n Mens sou Theuns Botha Jordaan as ’n eenkantmens kon opsom. Daarom kan jy jou goed voorstel dat hy soms hier op sy groot stoep kom sit om kreatief te dink terwyl hy na die berge en die wingerde tuur. Weg van die glans van ster-wees . . .

Jy woon in Pretoria. Sal jy ooit permanent Stellenbosch toe trek?
Ja, dalk, as misdaad in Gauteng onhoudbaar raak. Ons lewe in vrees. Hier hou ek van die oopte, die kleindorpie-gevoel, en dat die berg en see net ’n halfuur se ry ver is.

Wanneer het jy begin musiek maak?
My pa het in matriek my eerste kitaar vir my gegee. Ek het myself geleer.

Hoekom dink jy is jou musiek so suksesvol?
Dis nie té enigiets nie. Dis middle-of-the-road. ’n Mens kan dit seker pop-rock noem. Dis kommersieel-vriendelik en liriekgedrewe.

Waar kom die inspirasie vandaan?
Ek skryf dikwels uit persoonlike ervaring. My gewildste liedjie, “Soos bloed”, het begin met ’n SMS aan ’n meisie. Soms lewer ek sosiale kommentaar, soos in “Praat is te laat”. Maar meestal skryf ek love songs.

Is daar iemand spesiaal in jou lewe?
Nee, glad nie.

Hoe lyk jou ideale vrou?
Ek moet haar kan laat lag. En sy moet die ware Theuns kan raaksien en tevrede wees met dit wat oorbly nadat die applous stil geraak het en die tydskrifvoorblaaie in die onderste laai lê.

Sal jy tevrede wees as sy nie opdaag nie?
Ek wil graag trou en kinders hê, maar as dit nie gebeur nie . . . Ek’s nou orraait.

Hoe weet jy iemand wil nie net met jou uitgaan oor wie jy is nie?
Ek’s nie so arrogant om almal te wantrou nie, maar as sy eerder in die openbaar saam met my wil wees as tuis, flikker die rooi ligte.

Jy het nou jou eie maatskappy, Theuns Jordaan Productions. Bobby van Jaarsveld is jul eerste kunstenaar. Hoekom juis hy?
Hy sing soos ’n engel en het die regte voorkoms, persoonlikheid en skryftalent. Ander platemaatskappye word deur sakemanne bestuur. Hulle weet nie wat Bobby alles moet doen as hy vanaand op Potgietersrus moet sing nie. Daarom bied ek hom meer.

Ná julle die musiekvideo van Bobby se liedjie “Boemelaar” geskiet het, het julle ’n boemelaarsfonds gestig . . .
Daar is regte boemelaars op die video. Hulle het so wanhopig en verwese gelyk. Dit was aangrypend en daarom het ons besluit om die fonds te stig. Die geld word gelykop tussen die Heilsleër en Solidariteit se Helpende Hand-fonds verdeel.

Is jy steeds betrokke by ál die fasette van jou loopbaan?
My maatskappy hanteer van plakkaatontwerp en bemarking tot die konsertbesprekings. Ek glo niemand kan jou verkoop soos jyself nie. Coleske Artists versprei steeds my CD’s. Ek het baie van onafhanklik wees van Arnold Coleske geleer.

Is dit waar dat jy net voor groepe van meer as ’n 1 000 wil optree?
Ek tree gereeld in plekke soos die Barnyard-teaters op en dit vat gemiddeld sowat 500 mense. Dit gaan oor die somme. ’n Musikant moet baie mense betaal. Boonop beskerm jy jou stem deur eerder minder gereeld vir groter groepe te sing.

Voel jy steeds jou konsertkaartjies moet bekostigbaar wees?
Absoluut, nie sommer meer as R100 nie. Ek sing vir die gewone man wat my maak wie ek is, nie vir ’n uitgesoekte, ryk groep nie.

Jy word op 10 Januarie 38. Wat het jy al geleer?
Alles heelbo is nie so blink soos wat dit lyk nie. In die musiekbedryf gaan dit baie oor ek-was-jou-hand-net-as-jy-myne-was. Ek het geleer om by my beginsels te staan. Ek kan nie toelaat dat ander vir my sê watter hemp ek moet dra en watter liedjie ek moet sing nie. Want dalk is dit nie ék nie.

Jy is al humeurig en arrogant genoem . . .

Ek soek nie ’n fight nie, maar ek’s nie ’n ja-broer nie. Ek glo ook nie aan bek-lek-en-stertswaai nie. Ek steek my nek uit vir iets waarin ek glo of oor onregverdigheid. Ek het al hard met klankmanne gepraat as nie elke tannie in die saal perfekte klank sou kon hoor nie, en ek het al ’n show by Aardklop gekanselleer omdat ek nie die beloofde venue gekry het nie. Ek doen ook nie die celeb-partytjieding nie.

Maar laat jy ooit jou hare hang?
Wanneer ek tuis tussen my ware vriende is, hou ek lekker partytjie.

Wie is jou rolmodel?
Steve Hofmeyr, wat werk-gehalte en vlak van sukses betref. Koos du Plessis vir sy skryfwerk. Hy verwoord wat ander dink, maar nie kan uitdruk nie.

Was dit weird om destyds met Koos se dogter Karla, die sangeres, uit te gaan?
Die raakpunt was ons albei se liefde vir haar pa se musiek. Ons kon ook lekker diep gesels.

Is jy ’n perfeksionis?
Ja. Ek het ’n militaristiese bestuurstyl, wat vir ander moeilik is. Ek kan nie Gods water maar oor Gods akker laat loop nie. Met ’n gemiddelde benadering blink niemand uit nie.

Is geld vir jou belangrik?
Enige onderneming moet ’n wins maak . . . Maar as ek só erg was oor geld sou ek Krismis-albums met doefdoef-musiek gemaak het!

Behalwe vir jou huise, wat is die duurste ding wat jy al gekoop het?
Ek koop nie vreeslik baie nie. Ek ry ’n ou BMW. My Pathfinder is geborg. My enigste luukse is ’n platskerm-TV.

Jy het ’n paar interessante goed ná jou B.Econ. op Stellenbosch gedoen?
Ek het drie maande by die Malutiweermagbasis in die Transkei gebly en gehelp om die weermagte van SA en Transkei te integreer. Ek was al wit mens en dit was ’n voorreg om “die ander kant van die draad” te leer ken. Ek was maar altyd ’n bietjie links vóór dit mode geword het. Later het ek Tukkies se sekerheidstelsel help bestuur. Vrek harde werk!

Hoe sal jy ’n aanhanger hanteer wat op jou afstorm terwyl jy steak in jou mond het?
Al ding wat erger is, is as dit nie meer sou gebeur nie . . . Ek sal die steak sluk en doen wat sy van my verwag.

Wat is die ergste goed wat vroulike aanhangers al gedoen het?
Als! (Hy lag.) Ek is al aan die boud geknyp. Maar ek sien dit in konteks, soos dat hulle dalk ’n paar Savannas geniet het . . . Wanneer een my vra om op haar bors te teken, teken ek maar veel hoër. Netnou kry ek moeilikheid van haar man! 

Wat doen jy in jou vrye tyd?
Ek restoureer my huise. Ek ontwerp self en bestuur die proses. Ek kies elke teël, elke meubelstuk. My styl is minimalisties. Ek hou van aardse kleure soos bruin en room. As ek die dag “gebou” het, voel dit vir my ek was met vakansie, want dis weg van die musiekbedryf.

Wat doen jy as jy kuier op jou ouers se plaas, Mooifontein, in die Karoo?
Ek help met al die gewone boerderytake. Ek skiet ook vir die pot of sit ure op die stoep en ervaar die stilte.

Watter eienskappe kry jy van jou ma, Maryna, en jou pa, Willie?
Noukeurigheid en perfeksionisme van my ma en rustigheid van my pa.

Wat is die belangrikste lewenslesse wat hulle jou geleer het?
Dat ek moet onthou ek kom maar net van Venterstad af en dat ek nooit my neus moet optrek vir R10 nie. Elke druppel maak die emmer vol.

Wat maak jou ontsettend kwaad?
Wanneer verkeerde inligting as feite verkoop word.

Wat laat jou hart vermurwe?
Die opregtheid waarmee kinders my bewonder. Hulle staan maklik ’n uur in ’n ry net sodat ek ’n servetjie kan teken. Wat hulle waarskynlik verloor voor hulle by die huis is!

Waaroor is jy spyt?
Dat ek nie klavierlesse op skool geneem het nie. Dan sou ek note kon lees en my liedjies sou dalk beter gewees het. Maar tóé was dit nie ’n man-vriendelike ding om te doen nie.

Toekomsdrome?
Dat my maatskappy geslaagd sal wees en ons kunstenaars suksesvolle loopbane sal hê.

Wat wil jy hê moet mense van jou sê wanneer jy nie meer hier is nie?
Hy sou selfs vir Goliat aangedurf het as dit moes.

GUNSTELINGE

SA MUSIKANTE
Valiant Swart, hy’t digtersbloed en jy kan sy songs oor en oor luister sonder om versadigingspunt te bereik. Johnny Clegg is my groot Suid-Afrikaanse hero oor die Afrika-ondertone in sy musiek. Hy’s ook ’n briljante liedjieskrywer.

OORSESE MUSIKANTE
U2, Tracy Chapman, Coldplay, David Gray, Dire Straits en Jack Johnson.

EIE LIEDJIES
“Namibsroos”, wat ek vir iemand spesiaals geskryf het. Dit sing so lekker. En “Jou asem”, ’n meer algemene liefdesliedjie.

KOS
Ek kan elke dag braaivleis met aartappelslaai en braaibroodjies eet.

VERSNAPERING
Biltong en droëwors.

SOETGOED
Enige soort roomys, enige tyd.

DRANKIE
KWV-brandewyn met Coke. Maar dis nie so goed vir die middellyf nie, daarom drink ek eerder Jack Daniel’s met water.

LEESSTOF
Ek mis nie ’n boek van Deon Meyer nie. Ons is wedersydse fans. Ek lees ook graag biografieë.

FLIEK
Ek het As Good As It Gets met Jack Nicholson seker 5 keer gesien.

Vir besonderhede oor Theuns se huidige toer, besoek www.theunsjordaan.co.za.