mathys_staande_logo_400w.jpg
Ons praat met

Portret van ’n pa: Mathys Roets

Vir sy seuns, Liam (14) en Yuan (11), is hy die super-aktiewe pa. Mathys laat immers nie toe dat sy rolstoel hom terughou om die byna onmoontlike saam met hulle te doen nie. 

Wat doen jy graag saam met jou seuns? 

Ons swem, speel gholf, ry vierwielmotorfietse op die plaas, neem foto’s en geniet die wildtuin. Ek wys gereeld vir hulle ou flieks waarmee ek grootgeword het.

Wat maak jul verhouding besonders? 

Een van die wonderlikste dinge wat ek as pa ervaar, is wanneer hulle my kan help. Dis ’n besonderse gevoel om die verantwoordelikheid wat hulle ervaar, raak te sien en dan iets saam met hulle aan te pak wat nie normaalweg moontlik behoort te wees vir iemand in ’n rolstoel nie.

Wat is jou grootste uitdaging as pa? 

Om dinge te doen waarmee ek my seuns kan beïndruk. Nou is ek in hul oë die vinnigste en sterkste ou in ’n rolstoel. Hulle laat my dinge doen wat ek nie gedink het ooit weer moontlik sal wees nie. Soos om in winkelsentrums teen hulle resies te jaag.

FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

Wat doen hulle wat jou soms vies maak? 

Klein goedjies, soos met iets aankarring wanneer ek met iets hulp nodig het wat ek nie self kan doen nie. Ek moet altyd probeer strenger oorkom en verduidelik waarom ek nóú hulp benodig met ’n praktiese probleem.

Wat bewonder jy van hulle? 

Hul deursettingsvermoë en verantwoordelikheidsin. Hulle weier byvoorbeeld om motorfiets te ry sonder valhelms.