sr1010coverbinne06
Ons praat met

Prag-foto-album: Diaan en kleine Olivia

Dis nogal moeilik om Diaan Lawrenson deesdae met haar karakter Paula in 7de Laan te vereenselwig. Sedert sy en haar verloofde, Jody Abrahams, op 8 Junie die ouers van klein Olivia Rose geword het, is daar ’n nuwe sagtheid aan dié gewilde aktrise.

En Jody is die stil, trotse pa op die agtergrond. Hy ruil doeke om, maak tee en praat saggies met Olivia. Dis sy prinses dié.

“Sy het my ’n doelwit in die lewe gegee,” spog hy.

Dis vir Diaan moeilik om in woorde te beskryf hoe dit voel om dié klein mensie se ma te wees. “Ek kan my nie meer ’n lewe sonder haar voorstel nie. Sy is my engelkind.”

Sy en Jody het hulle voor die tyd bekommer oor hoe hulle ’n baba by hul lewens gaan laat inpas. Maar van die oomblik dat Olivia gebore is, het dit skielik nie meer saak gemaak nie. Hul prioriteite het handomkeer verander.

Diaan is nooit vol eise by ’n fotosessie nie, vertel Fanie Cronjé, SARIE se styl- en sosiale redakteur. “Dié keer het sy net een versoek gehad: Ons moet asseblief seker maak die ateljee bly warm vir klein Olivia.

Olivia

“Olivia was die eintlike baas by die fotosessie. Sy’s ’n rustige baba en was die ideale model, maar sy bly ’n baba! As sy wil eet of slaap, wil sy dit nóú doen, einde van die argument.“
Terwyl Diaan besig gehou is met die grimering en ander voorbereidings was Jody heeltyd daar om met Olivia te help. “Nou en dan kon jy sien sy soek nou net haar ma, en dan het Diaan haar binne sekondes rustig gekry,” vertel Fanie.

Van die begin af was die hele ervaring van die swangerskap en geboorte vir hulle ongelooflik, sê Diaan. “My ginekoloog by die Sandton Medi-Clinic se goeie raad was dat ek my swangerskap voluit moet geniet. Elke sonar en besoek was iets om na uit te sien.“

Sy wou baie graag ’n natuurlike geboorte gehad het, maar die ginekoloog het ’n epidurale keiser aanbeveel.

“Dit was soos ’n partytjie in die teater. Jody en die dokter het grappies gemaak en daar was ’n feestelike atmosfeer. Die personeel praat nou nog daarvan. Net ek was ’n bietjie senuweeagtig. Ek is immers die een wat oopgesny is!” Jody het haar hand vasgehou, maar terselfdertyd alles afgeneem.

“Ek het probeer om in my kop so lank as moontlik vas te hou aan die mooi proses van ’n geboorte,” vertel Diaan. “Toe hulle haar uitlig en vir my wys, het ons oogkontak gemaak. Sy het daarna dadelik begin skree om vir almal te wys sy lewe. Dit klink soos ’n cliché en almal sê dit seker, maar dit was ’n onvergeetlike oomblik.”

Sy en Jody het baie aande saam lê en wonder hoe hul dogter gaan lyk.

“Oe, sy moenie jou neus of my tone hê nie en al sulke goed. ’n Mens kan deesdae op die sonars ’n goeie idee kry van hoe jou kind gaan lyk, maar niks berei jou voor daarop om die cute dingetjie in lewende lywe te sien nie.

“Vir nege maande vorm jy ’n band met hierdie klein wesentjie wat jou liggaam oorneem, en dan skielik is sy daar met haar ou wipneusie.” Diaan sê Olivia het dadelik vir haar net soos Jody gelyk. Sy het selfs agter haar voete dieselfde plooitjie as hy op die hak. “’n Mens kan ons albei se gene in haar raaksien. Dis ongelooflik hoe sy elke dag verander en nuwe klein wonderwerkies verrig. Soos toe sy vir die eerste keer haar koppie gedraai het. Wow!”

Diaan en Jody het elk hul eie fases van emosie oor Olivia se geboorte gehad.

“Jody was die aand voor haar geboorte baie emosioneel. Ek is om sy onthalwe bly dit is ’n dogtertjie, want ’n pa moet ’n dogtertjie hê.” Diaan was ná die geboorte twee weke lank baie emosioneel. Sy borsvoed en verwonder haar aan hoe die band met haar kind elke dag sterker raak.

“Ek was eers superbang om aan haar te raak.”

Op sy beurt is Jody ’n natuurlike pa, spog Diaan. Hy het van die begin soos ’n droom met hul baba gewerk. Hulle is baie bewus daarvan dat alles wat hulle voortaan gaan sê en doen, ’n invloed gaan hê op watter soort mensie Olivia gaan word.

“Ek het tot drie weke voor haar geboorte gewerk, en omdat ek ’n lekker werk het, het dit ’n rustige atmosfeer vir haar geskep. Dit is belangrik tydens swangerskap.”
Sy beken sy was absoluut versot daarop om swanger te wees.

“Die eerste drie maande was aaklig, want ek was die hele dag naar, maar daarna het ek dit geniet. Ek sal dit maklik weer doen, net nie dadelik nie!” Net die laaste paar weke was ongemaklik.

“Ek was huge! Aan die begin was ek baie gesteld daarop om nie te veel gewig aan te sit nie. Jy dink heeltyd dat jy ná die swangerskap weer moet begin werk en dan moet jy maer wees.”
Maar so halfpad deur die swangerskap het sy besluit basta daarmee.

“Hoeveel keer in ’n mens se lewe verwag jy? As jy lus is vir ’n stuk sjokoladekoek, eet hom! Die boeke sê dit is gesond om net so twaalf tot vyftien kilogram aan te sit. Hulle is seker reg, maar ek het net besluit ek wil my swangerskap geniet. En dis wat ek gedoen het.”

Diaan het haarself glad nie in dié tyd geweeg nie. Die oggend van die geboorte het ’n verpleegster haar op die skaal laat klim. “Ek het voor die tyd vir haar gesê ek raai ek het so
23 kilogram aangesit. En ek was reg. Intussen het ek darem al ’n hele klompie daarvan verloor, maar daar is nog ’n paar oor.”

Een aand het sy met Olivia op haar maag gelê. Toe besef sy hoekom sy die laaste ruk van die swangerskap so vreeslik ongemaklik was. “Dis nogal ’n gewiggie om met al die water saam met jou te dra.”

Diaan het tevore met endometriose gesukkel en is gewaarsku dat sy sou sukkel om swanger te raak. “Gelukkig het ek toe darem nie ’n probleem gehad nie. Kyk net hoe pragtig is sy!”

Sy gee toe hul lewens was voor Olivia se geboorte baie loopbaangerig. “Skielik is dinge anders. Ek besef nou daar is meer aan die lewe. Olivia het ons dalk gered van onsself, want ons was so gedrewe. Sy kom nou heel eerste.”

Diaan meen as jy eers ’n kind het, kan jou loopbaan nie meer jou dryfkrag wees nie. “Jy het nou ander prioriteite.” Sy spog sy en Jody werk soos ’n geoliede masjien met Olivia.

“Ek was die eerste twee weke ná haar geboorte nog seer. Jody het die huishouding oorgeneem en alles vlot laat verloop. Hy was so wonderlik tydens die swangerskap. Veral die laaste weke toe ek maar knorrig was. Hy het dit net met ’n glimlag aanvaar.”

Dit was vir Diaan ’n groot oomblik toe hulle by die hospitaal uitstap met Olivia.

“Die gedagte van nou is dit net ons drie en ons is op pad huis toe, was vir my oorweldigend. Jody het byna twintig kilometer per uur gery, want ek het ’n seer keiserwond gehad en ons kosbare bondeltjie was in die kar.”

Diaan raak nou al emosioneel as sy dink sy moet einde Oktober haar baba in iemand anders se sorg laat om weer te gaan werk.

“My storielyn in 7de Laan sal Desember of Januarie hervat. Ek en Jody oorweeg nog die beste opsies vir haar versorging, maar ek sal haar graag by ’n nanny wil los.” Dit maak nietemin haar hart bang, want sy voel niemand sal so goed na haar kind kan omsien as sy self nie. Die kleinding weet klaar haar ma en pa is daar vir haar.

“Ons het ons bes gedoen om ’n gelukkige, rustige baba in die wêreld te bring en ons wil dit graag so hou,” sê sy. Klein Olivia is reg van die begin af inderdaad baie rustig. Hulle moet soms aan haar raak om te sien of sy nog asemhaal.

“Sy het nou ’n stadium bereik waar sy bloot net wakker lê en vir my kyk. Sy huil nie, sy is net wakker. Dan is ek maar saam wakker.”

Sy en Jody masseer ook hul dogtertjie en doen baba-oefeninge. “Ons het baie opgelees oor hoe om ons klein mensie te stimuleer. Dis vir my so ongelooflik hoe so ’n klein dingetjie se lyfie werk.”

Soos meeste ouers het hulle groot drome vir hul baba. “Maar die belangrikste is dat sy net fisiek en geestelik gesond is en eendag ’n gelukkige, selfstandige vrou is.”

Diaan vertel voordat hulle op Olivia Rose besluit het, het sy en Jody verskeie name oorweeg. “En noudat ons haar leer ken, weet ons dit is die regte naam vir haar. Dis ’n sterk naam, maar het ook ’n sagtheid.

“Olivia.”

Diaan en Olivia

  • chavonne

    ek was nog nooit ‘n groot fan gewees nie, maar moederskap doen dit nogal vir haar!!

  • Caren Peres

    Dit is die mooiste foto’s wat ek nog in my lewe gesien het. Olivia Rose is so pragtig Diaan – geniet elke oomblik van jou kleinding se lewe.

  • Hilda Visser

    Olivia Rose is die mooiste, mooiste, mooiste poppie wat ek nog gesien het!

  • Natasha

    Sys pragtig…( die pics is absoluut stunning)..geniet haar, hulle raak so gou groot…!!