sr1112pryslose_geskenke_2_
Ons praat met

Wat maak ‘n geskenk prysloos?

Kersfees is geskenketyd, maar die grootste geskenke kos dikwels niks. Dis eerder iets wat jou lewe verryk of verander. “Ons het al byna verleer om die goeie dinge in die lewe – wat nie geld kos nie – met blydskap te aanvaar. Trouens, ons behoort dit eintlik behoorlik te vier te midde van so baie negatiwiteit waaroor ons in koerante lees,” sê Elise Beeby, sielkundige van Johannesburg en Kaapstad. “Want dis dié dinge wat werklik tel en Kersfees spesiale betekenis gee.”

Agt bekendes en minder bekendes het in 2011 sulke geskenke van die lewe self gekry . . .

Dine van Zyl – Kosskrywer van resepteboeke soos Agter die lekker aan

Dine van Zyl

Ek het twee Nuwejaarsvoornemens gehad: In 2011 wou ek baie geld maak en ek wou ’n mansvriend kry. Met al die geld wou ek ’n motorhuis aanbou by my huis op Rooi-Els, ek wou spaar vir ’n pensioen, ek wou my badkamer laat oordoen, veral die gebarste wasbak, die teëls in die stort,
die muur wat muf deurslaan, die krane wat drup – die hele badkamer.

Ek wou ook ’n nuwe kombuis hê. My potte en panne hang van die plafon af, nie om kunstig te lyk nie, maar omdat daar nie plek is nie. Ek het nuwe kombuiskaste nodig,’n nuwe wasbak en ’n nuwe oond. En daardie wonderlike nuwe yskaste wat ’n mens deesdae kry, een met ’n TV in die deur!

Ek wou ook nie meer alleen wees nie. Die man wat ek begeer het, moes ’n gentleman wees, intelligent en my beste vriend. Hy moes eerbaar wees en aangenaam – asseblief tog nie die knorrige soort nie. Hy moes met sy hande kon werk en goeters kon regmaak. Hy moes lief wees vir honde en veral vir my.

Hierdie jaar het ek toe nie genoeg geld gemaak vir al my wêreldse behoeftes nie, maar my krane drup nie meer nie, my skuifdeur is reggemaak, ek braai nie alleen nie en my hond se stert swaai. Almal sê ek lyk gloeiend – wat net bewys, dis nie geld wat geluk in die lewe bring nie …

Phylicia Oppelt – Redakteur van die Johannesburgse dagblad The Times

Phylicia Oppelt

Die Women in the Mediatoekenning was sekerlik ’n ongelooflike nie-materiële geskenk – op so baie vlakke. Ek was ’n finalis saam met ’n groep talentvolle vroue en dis op sigself ’n eer. Die toekenning bevestig dat ons as klein span by The Times op die regte pad is.

Op ’n persoonlike en intieme vlak het die verering bevestig wat ek nog altyd geweet het: Dat ek die
regte loopbaan gekies het. Want die joernalistiek, en meer spesifiek die koerantwese, bied steeds opwinding en uitdagings. Dit het my laat besef ek leef ’n baie bevoorregte lewe in hierdie land van ons.

Maar om te wen is ’n gedeelde ervaring. Die hoogtepunt was om vir my twee dogters, Hanan en Pia, die trofee te wys wat hul ma gewen het. Die opofferings wat ek vir my werk moes maak, het hulle meer as enigiemand anders geraak. In baie opsigte is my kinders my kompas, want ek wil altyd hê hulle moet trots wees op my. Hulle is my seëning en hul drukke en soene was die beste gelukwensing wat ek daardie dag ontvang het.

Ek wil hê dat my dogters, soos ek, die wêreld as hul skilderdoek moet sien en moet weet dat hul geslag hulle geensins behoort te beperk nie.

Marlice van Vuuren – Omgewingsbewaarder van Namibië


Jagluiperds, wat in gebiede gevang word waar daar ’n hoë konsentrasie van hulle is en hulle daarom onwelkom is, kom in vanghokke hier aan. Dan sorg ons vir hulle en sit vir elkeen ’n nekband van R35 000 om – sodat ons ná hul vrylating hul spoor per satelliet kan volg. Ons het altesame 63 al suksesvol hervestig.

Drie jaar gelede het ons weer drie jong jagluiperds uit die sentrale dele van Namibië, wat baie bome en bosse het, vrygelaat in die Namib-rand, wat harde wêreld is. Daar beland die diere nie in konfliksituasies nie, maar dis nie maklik om ná gevangenskap daar te oorleef nie.

En tog het twee van die drie onlangs tussen hulle drie welpies gehad. Dis ’n wonderlike Kersgeskenk! Dit wys dat hulle heeltemal gevestig is in hul nuwe omgewing. Hulle is selfs so gelukkig dat hulle geteel het. Dit beteken baie, want dit wys ons het ons doel bereik. En dat iets positiefs uit ’n negatiewe ding kan ontstaan.

Ons seun Zacheo (5) het terselfdertyd ’n boetie, Nicklai, ryker geword. Daarom gaan hierdie Kersfees baie spesiaal wees. Ook vir Lucky (4), die driebeen-jagluiperd, wat as gevolg van sy grootte ’n splinternuwe, groter kamp as Kersgeskenk kry.

Ronelda Kamfer-Trantraal – Digter van Kaapstad

Ronelda Kamfer-Trantraal

Seymour Gertrude het gedurende ’n verskriklike moeilike tyd opgedaag. Ek was 8½ maande swanger toe my ma skielik siek word en sterf. Maar klein Seymour het my deur hierdie tyd gedra en sy doen dit steeds. (Sy is genoem na een van die skrywer J.D. Salinger se boeke, Seymour: An Introduction, my man en my ma, Gertrude, se gunsteling).

Hierdie Kersfees sal ek vir die eerste keer my eie gesin hê en sal ek en my man, Nathan, ’n spotprenttekenaar, nuwe Kerstradisies rondom ons kind moet begin.

Sy is die beste ding wat met ons gebeur het. Ons wêreld draai om haar. Dis so ’n cliché om te sê as jy kinders het, verander jou prioriteite. Maar daar is seker ’n rede vir clichés. Want vieruur in die oggend as jy ’n doek aansit en jy kyk in daardie gesiggie wat niks verstaan van jou probleme nie en heeltemal van jou afhanklik is, verander jy.

Tydens Kersfees word te veel klem op materiële dinge geplaas. Dis ouers se verantwoordelikheid om vir kinders die belangrikheid van pryslose geskenke te leer. Dalk is ek nou effens skynheilig, want ek beplan wel om my kind hierdie Kersfees te bederf, maar gebalanseerd.

Ek en Nathan hoop om haar deur ons voorbeeld te leer. Hopelik sal Seymour Gertrude na ons kyk en sien wat belangrik in die lewe is – en dit in haar eie lewe toepas.

Susan Woolf – Kunstenaar van Johannesburg

Susan Woolf

Die foon het een aand om halfnege gelui. Dit was Kate Carmody, kurator van MoMA [Museum of Modern Art] in New York. Die oproep was so onverwags, ek het gewonder wat sy te sê sou hê. Kate het my meegedeel hulle stel belang om vanjaar my kunswerk Taxi Hand Signs: Shape Lingo for Blind People etlike maande lank uit te stal. Ek was so opgewonde!

Terwyl ek gereeld met die museum onderhandel het, kon ek steeds nie glo dit het werklik gebeur nie. Nadat die ooreenkoms geteken is en my 14 kunswerke na New York verskeep is, het die  werklikheid eers ingesink.

En daar daag die meeste van my familielede en goeie vriende van Suid-Afrika, Atlanta, Boston en Rhode Island boonop in Julie vanjaar vir die openingsaand in New York op! Dat hulle daar was vir my en op so ’n heuglike aand in my loopbaan, is ’n geskenk van liefde wat ek nie eens kan begin om te beskryf nie.

Die kersie op die koek was toe my dogter Sara aankondig dat ons binnekort geseën gaan word met
ons eerste kleinkind. So word ons lewens gereeld wonderliker gemaak deur daardie nie-materiële geskenke.

Mike van der Merwe – Oudjoernalis van Beeld en Huisgenoot en tans blogger op Rapport se webwerf wat verlede jaar met terminale kanker gediagnoseer is

Mike van der Merwe

Ek is lief daarvoor om pakkies oop te maak. Dus is dit elke oggend vir my ’n groot geskenk om ons huis hier op Hermanus se gordyne oop te trek en eers vir Groenberg en dan vir die see te kyk. Dan sê ek dankie, dankie dat ek nog ’n dag hier kan wees.

Elke oproep en boodskap met goeie wense gee my krag vir die dag. Baie keer kom dit van mense wat ek nog nooit eens ontmoet het nie. Ek dink nie hulle besef hoe baie so iets in my situasie beteken nie.

Dis wonderlik wanneer ander sê hulle geniet my blog en dat hulle bly is iemand vertel hulle prontuit die waarheid oor kanker en oor die invloed wat dit op jou lewe en jou geliefdes het. Ek wens iemand kon dié dinge vir my vertel het voordat ek siek geword het. Ek sou baie dinge anders gedoen het, soos om nie geld en ambisie na te jaag nie, en meer aandag aan my familie en vriende te gee.

Hoewel my onkoloog in November verlede jaar voorspel het ek het minder as ’n jaar oor om te leef, het my ma, Petro, ná die Kersete gesê: “Volgende Kersfees maak ons weer so. Weer hier by julle en jy sal hier wees.”

My lewensmaat, Ian, en sy ma het onlangs die strydbyl begrawe. Dus sal ons vir die eerste keer ’n
vreedsame Kersfees saam met albei se families kan hê.