Ons praat met

Quinne trou onder ’n Afrika-son

Quinne Brown, wat ons harte gesteel het as Connie in 7de Laan, is só versot op haar Amerikaner, Ryan Huffman, dat sy vier keer aan hom trou gaan belowe.

Haar troue einde Februarie met die man wat haar voete onder haar uitgeslaan het toe sy in 2003 met ’n silwer Chevy in Amerika gaan rondtoer het, is só ’n groot projek dat sy en haar ma, Salomé, dit “Projek Sonneblom“ noem. Sy was reeds in November in Suid-Afrika om die reëlings vir die projek te finaliseer (en in haar vriendin en voormalige 7de Laan kollega Diaan Lawrenson se toneelstuk Homebound in die Kaap te speel). Sy is skraler en mooier as ooit. Die liefde doen haar werklik goed. Haar oë blink soos die verloofring aan haar vinger.

Haar troue gaan in ’n lang makietie ontaard as die groep van sowat dertig Amerikaners vandeesmaand die land “inneem”. Ryan is reeds ’n paar weke in die land, en hy en Quinne gaan eers in die landdroshof trou voor die hoofseremonie by die Cradle of Mankind in Muldersdrift. Die week voor die troue gaan die Browns vir die Amerikaners die land wys, van ons pragtige wildreservate tot ons unieke sjebien-naglewe. Om by die Amerikaanse tradisie aan te sluit beplan hulle ’n repetisie-ete, maar hou dit in ’n outentieke Afrika-stat naby die Hartebeespoortdam. Die Amerikaners gaan met tradisionele danse vermaak word en sal in Afrika-hutte slaap.

Quinne sal die aand soos ’n Xhosa-bruid geklee wees en Ryan soos ’n Indiaan. (Hy is ’n agtste geslag Cherokee.) Die troue self word in die Cradle of Mankind-wildreservaat gehou. Salomé sê Quinne wou altyd graag op ’n berg trou, en die reservaat met sy pragtige uitsig van 180° oor die Afrika-landskap is die naaste wat sy haar kind aan ’n berg kon kry. Die Amerikaners
wat die week ná die troue agterbly, gaan saam met die Browns Kaap toe om besienswaardighede te besoek.

Dan is die tweetjies nog lank nie klaar getrou nie! Quinne se naaste familie gaan in April Amerika toe vir die Amerikaanse plegtigheid. Dit gaan ’n regte strandpartytjie in Kalifornië wees en die DVD van die Suid-Afrikaanse troue sal op ’n groot skerm aan die gaste vertoon word. Quinne sal dan dieselfde trourok dra as wat sy vir die hoofseremonie in Suid-Afrika gedra het. In die aanloop tot die troue was die Fausts (Ryan se ma en stiefpa) ook in Oktober in Suid-Afrika om te kom jag en te kyk waar die groot makietie gehou gaan word.

Quinne het nooit kon droom haar troue sal so ’n uitgerekte, lekker kuier word nie, maar sy het besliste idees gehad oor die plegtigheid. Sy wou iets anders as ’n tradisionele wit troue gehad het en het die kleure van die sonsondergang as haar inspirasie gekies. Quinne se pa, Gerhard, is drie jaar gelede oorlede en Salomé sal haar dogter inbring en ’n toespraak lewer. Die onthaal gaan die ene sonneblomme wees, het Quinne al in November geweet, maar toe was sy nog nie seker hoe haar rok gaan lyk nie. Sy het gesê sy “sal weet” as sy die regte ontwerper en rok kry. “Ek wil soos ’n Afrika-feetjie lyk. Bietjie bosagtig,” het sy toe gesug.

 

Ek kon my eie woorde nie glo toe ek eendag aan hom voorstel ons moet trou nie

Salomé sug al maande lank ewe hard, maar om ’n heel ander rede. Dit gaan vir haar swaar wees as haar dogter so ver gaan woon. Sy “hoor” al haar kleinkinders bel: “Hey, Nênna, houda doin?” soos regte klein Amerikaners, spot sy. Sy het juis in Julie ’n voorsmaak gekry toe sy Quinne en Ryan se verlowingspartytjie op “the 4th of July” (VSA-onafhanklikheidsdag) gaan bywoon het. Die Browns het eers in Texas by Ryan se pa, Jim Huffman, en grandma Rose gaan kuier, en toe in San Diego by sy ma, Terrie Faust, en stiefpa, Gerry.

“Die 4th of July-partytjie is gekenmerk deur talle Amerikaanse vlae, met so hier en daar ’n Suid-Afrikaanse vlag. O ja, daar was ook ’n Afrika-tafel. Met ’n Afrika-tafeldoek en twee standbeelde van twee bobbejane . . . Mmmm . . . wonder wat hulle van ons in Afrika dink,” spot Salomé. Eintlik was sy daar om te gaan kyk waar haar kind in San José gaan bly. “Ek wil darem ’n plekkie in my verbeelding ‘sien’ as my kind my bel.” Terrie het intussen sommer al klaar ’n egte Amerikaanse kombuistee vir Quinne gereël.

Dit is eintlik sy en Elsa Krüger, haar vriendin en Quinne se peetma, wat lankal probeer konkel het om Quinne en Ryan bymekaar uit te bring. Toe Quinne in 2003 Amerika toe is, het Elsa gereël dat sy Kersfees by Terrie en Gerry in San Diego oorbly. Quinne se suster, Esther, wat voorheen uitruilstudent in Amerika was, het Ryan al ontmoet, en sy en Elsa het Quinne dus goed voorberei op die oulike “vangs” daar. Maar Quinne wou niks weet van Amerikaanse mans nie. Sy het ’n paar mislukte verhoudings gehad en liefde was die laaste ding in haar kop.

Klaarblyklik het sy haar nie hard genoeg teen die “vangs” gestaal nie. Toe sy Ryan die eerste keer sien, het sy geweet Elsa en Esther was reg, sy is “in die moeilikheid”. “Ek het hom die volgende paar dae probeer vermy. Maar die slag was geslaan. Ek was verlief.” Salomé kon dadelik oor die foon hoor iets groots het gebeur. “Sy was so giggelrig . . . en ek het geweet.”

Ryan het 18 maande voor die ontmoeting saam met Gerry in Montana gaan jag en hom gevra hoe weet ’n man wanneer hy die regte vrou ontmoet. Gerry het vir hom gesê: “As jy haar ontmoet, sal jy weet . . .” Hy was net so verlore toe hy Quinne die eerste keer gesien het. Dit was nie lank nie of hy het vir sy ma op ’n eg Amerikaanse manier laat verstaan: “Mom, stick a fork in me, I’m done . . . I’ve found my woman.”

 

Mom, stick a fork in me, I’m done . . . I’ve found my woman

 

“Ek het net geweet hy is die regte man vir my. Ons verhouding is wonderlik moeiteloos.Trou was nooit deel van my beplanning nie, ek kon my eie woorde nie glo toe ek eendag aan hom voorstel ons moet trou nie!” Sy het Ryan laat belowe hy sal haar elke dag bel as sy terug in Suid-Afrika is. Dit was al manier waarop sy gedink het die langafstand-verhouding kon werk.

“Hy is my sielsgenoot. Hy laat my lag en veilig voel.” Dít is wat Salomé laat besef het sy sal haar kind moet afstaan aan Amerika. Dis 40 uur en minstens R12 000 per kuier ver, maar sy weet geen ander man sal Quinne so goed verstaan en gelukkig maak nie. “Hy gee haar die vryheid om te wees wie sy wil wees. Haar geluk is vir my belangrik.”

Vandat Ryan die eerste keer in Suid-Afrika kom kuier het, het hy die hele familie, ouma Quinta inkluis, in sy sak. Hy het sy aanstaande skoonma met ’n besoek verlede jaar sommer in haar kombuis by ’n wasbak vuil skottelgoed om haar dogter se hand gevra. “Hy het my so styf vasgedruk dat ek maar ja moes sê.” Hy sou die groot vraag dieselfde middag aan Quinne vra.

Sy was besig om aan die rolprent Ouma se slim kind (’n kostuumdrama wat na verwagting vroeg vanjaar uitgereik sal word) te werk en hy het dié dag omtrent elke blom en kers in Melville gekoop om haar woonstel mee te versier. Die vonkelwyn het gereed gestaan toe hy haar by die werk gaan haal het. Hy was skoon ontsenu toe sy hom, onwetend van sy planne, eers aan al haar kollegas wou voorstel. Hy was benoud dat die brandende kerse die woonstel sal afbrand! “Hy het my op sy knieë gevra en daarna het ons baie vonkelwyn gedrink.”

Hulle het ewe veel wanderlust in hul are. Hulle gaan ná hul troue vir ses maande met rugsakke in Suidoos-Asië toer. “Dit gaan ’n groot avontuur wees. Ons gaan waarheen ons voete ons lei. Dis die perfekte begin vir ons huwelik. Ons gaan nog ver paaie saamstap,” sê sy. Ná haar lang wittebrood gaan sy probeer om in Hollywood naam te maak. “Ek sal eers my kontakte moet opbou en aan my aksent moet werk. Ek sal ook nie omgee om agter die kamera te werk nie. Ek sal kyk hoe dinge vir my ontwikkel.” Sy wil nie die volgende Charlize Theron wees nie. “Ek wil nie gróót naam maak nie. Ek sal tevrede wees om net ’n lewe uit my werk te maak.” Ryan steun haar besluit. Quinne leer hom Afrikaans praat, want sy wil beslis nie haar wortels verloor nie. Haar hart sal altyd deel van Suid-Afrika wees, sê sy.  “Die troue klink na ’n groot gedoente, maar ek wou hê Ryan en sy familie moet weet wat ek is en waar ek vandaan kom. My land is baie spesiaal vir my en ek wou dit met hulle deel.”