sr1201_the_lamb_10_bw
Ons praat met

Regardt se Hollywood-droom word waar

Toe Hollywood-vervaardiger Frank Yablans hoor daar’s
 ’n Suid-Afrikaner wat nóg 
’n Jesus-fliek wil maak, was hy nie lus vir die storie nie.

“Daar was al te veel,” het dié groot naam in die rolprentwêreld gesê. Frank is veral bekend as vervaardiger van die 1972-mafia-treffer The Godfather.

Maar Frank het toe al gehoor van Regardt van den Bergh, “die talentvolle regisseur van Suid-Afrika”, en besluit om tog maar na die promosie-DVD te kyk wat Regardt-hulle gemaak het om voorbrand te maak vir die fliek.  

“Nadat ek dit die derde keer gekyk het, het ek besef dit sal nie net nog ’n Jesus-fliek wees nie. Dit is ’n fliek met ’n sekulêre, universele boodskap. Dit gaan oor vergifnis.”

En so het Regardt, bekend vir flieks soos Faith like Potatoes, Hansie en Hanna Hoekom, dié Hollywood-swaargewig aan boord gekry om sy groot droom waar te maak. Frank, voormalige president van die Hollywood-rolprentmaatskappy Paramount Pictures en deesdae ’n onafhanklike vervaardiger by Promenade Pictures in Kalifornië, is nou The Lamb se vervaardiger.

’n Skatryk Amerikaanse familie en verskeie Amerikaanse finansiële instellings het die geld gegee, en sodra die laaste papierwerk afgehandel is, kan die kameras vanjaar (2012) begin rol.

Die fliek het ’n yslike begroting van $20 miljoen. En om dit in perspektief te stel: Mel Gibson se The Passion of the Christ het $30 miljoen gekos.

The Lamb gaan dus ’n reuse-Hollywood-produksie wees. As alles volgens plan verloop, word dit in 2013 uitgereik en is die première moontlik in Jerusalem.

“Ek glo die projek moet majestueus aangepak word,” sê Frank op ’n video wat hulle oor die produksie gemaak het. “Soos Ben Hur van 1959. Ek 
sal geëerd voel om eendag ook vir
 The Lamb onthou te word.”

DIE STORIE

Regardt vertel die storie het tien jaar lank by hom gebroei. Dis fiktief en gaan oor ’n toegewyde tradisionele Joodse man en sy gesin wat in Jesus se tyd geleef het.

Op ’n dag vra die man sy oudste seuntjie om ’n lammetjie vir die tradisionele Paasfees-offer te gaan uitsoek. Dit was Joodse tradisie om tydens Paasfees ’n lam te offer vir die vergewing van sondes.

Net ná die offer van die lam sterf die seun in ’n fratsongeluk. Die hartseer pa onttrek hom emosioneel van sy gesin, veral van sy jongste seun, en verwerp God. In ’n stadium skree hy selfs vir God: “Jy is nie ’n God nie en jy weet nie hoe dit voel om ’n seun te verloor nie!”

Dan hoor die jonger seuntjie en sy ma van ’n man genaamd Jesus wat rondloop en preek. Kort voor lank ontmoet die seuntjie Jesus.

’n Jaar gaan verby en met die volgende Paasfees sê die pa sy jongste seun aan om sy geliefde hanslam te offer. Die kind is verpletter, maar gehoorsaam sy pa en gaan staan in
die ry by die tempel en wag om die lam te offer.

Terwyl hulle wag, stap ’n oproerige skare verby. Die pa gaan kyk wat aangaan en begin gesels met Maria Magdalena, een van Jesus se getrouste volgelinge. Sy vertel hom van Jesus wat gekruisig gaan word.

Die kruisigingstoneel laat die man besef God het sy eie seun soos ’n lam geoffer ter wille van die vergewing van die mensdom se sondes.

Ná die kruisiging stap die eens verbitterde pa na sy seuntjie wat steeds voor die tempel staan en wag.

Hy sê vir hom hy hoef nie meer sy lammetjie te offer nie, want Jesus het vir almal se sondes gesterf. Dan neem hy hom in sy arms en vra hom om vergifnis.

BOODSKAP

Dit is ’n gewone maar treffende
storie van vergifnis, sê Regardt.
“As elke pa sy kind om vergifnis kan vra, as elke mens en elke volk op aarde dit kan doen … Dit kan die hele wêreld verander.”

Vir hom was ’n storie van ’n gewone gesin die ideale manier om die boodskap oor te dra, want die kyker sien Jesus op ’n heel ander manier deur hul oë.

Regardt het baie navorsing oor Jesus en die kruisiging gedoen om seker te maak sy voorstelling is so ver moontlik in die kol. Hy meen baie Christus-flieks die laaste eeu het ’n wanvoorstelling van Jesus gegee en hom byna bomenslik uitgebeeld.

“Hy was ’n mens op aarde en het nie soos ’n prentjie in die Kinderbybel gelyk nie. Van die vorige uitbeeldings van Jesus was te versigtig. In The Lamb gaan Jesus soos ’n gewone Joodse man lyk. Hy was iemand wat drie jaar te voet geloop en gepreek het, en hy het dikwels in die veld geslaap.”

En soos met The Passion of the Christ gaan die kruisigingstoneel in The Lamb die wreedheid wys.

“Die Bybel sê hy was vermorsel. Hy het nié net enkele druppels bloed op sy voorkop gehad soos baie vorige Jesus-flieks dit uitgebeeld het nie.”

PRODUKSIE

Regardt het in 1999 al aan The Lamb begin skryf. Die teks is intussen verskeie kere herskryf en sogenaamde draaiboek-dokters in Los Angeles het ook daaraan geskaaf. Nou is die finale weergawe uiteindelik gereed.

Regardt het tien jaar lank aan die konsep gewerk voordat hy Amerika toe is met ’n sakeplan. Met sy rolprent-geskiedenis het hy ’n paar kontakte gehad en een van hulle het gesorg dat sy voorlegging-DVD by Frank Yablans beland.

Nou ken Regardt al elke toneel van The Lamb uit sy kop en hy het al selfs ’n DVD van die hele storie gemaak.

“Dit bestaan uit animasieprente van elke toneel en stemme van akteurs wat die storie vertel.”

DIE PLEK

Dele van die fliek gaan moontlik in Marokko verfilm word, waar Regardt se 1994-rolprent The Gospel According to Matthew gemaak is. Hy en ’n span is nou weer soontoe om te gaan kyk of dit ook vir The Lamb sal werk.

Die moontlikheid is ook ondersoek dat dele van die fliek in Namibië vervaardig gaan word.

“Ons was in Casablanca, Quarzazate, Marrakesj en verskeie fassinerende dorpies in Marokko,” vertel Regardt.

Hy dink dis die ideale plek om
’n fliek uit die eerste eeu te skiet omdat dit visueel die naaste is aan daardie era.

Naby Quarzazate is Marokko se eie Hollywood, sê hy. Daar is nog ’n stel van die rolprent Kingdom of Heaven (2005), regisseur Ridley Scott se epiese vertelling oor die kruistogte in die 12de eeu.

“Daar is ook ’n oorspronklike replika van ’n tempel wat my emosioneel aangegryp het toe ek binnestap.”

Op die video wat vir beleggers gemaak is, kan jy Regardt se emosie aanvoel. Hy gooi letterlik sy hande in die lug en gee ’n vreugdekreet – dis hier waar hy besef het dís waar hy die fliek wil skiet.

Regardt beplan om drie maande lank te verfilm en daarna drie maande lank te redigeer.

SPELERS

“Daar is nog geen uitsluitsel oor die rolverdeling nie, maar Jim Caviezel, wat Jesus in The Passion of the Christ gespeel het, het aangedui hy sou belang stel om Jesus weer te vertolk.”

Die span onderhandel ook met agente in New York, maar Regardt voel hy wil nie noodwendig met groot name werk nie. “Dit sou interessant wees om net SA akteurs te gebruik.”

Hy het al baie met God gestoei oor hoe hy Jesus dié keer moet uitbeeld.

“Ek dink hy was op aarde die mees natuurlike, innemende, liefdevolle, tegemoetkomende mens, en ek gaan hom só probeer uitbeeld,” sê hy.        

WAT SÊ DIE KENNERS?

“Die internasionale finansiële steun
en die betrokkenheid van Frank Yablans is ’n ongelooflike pluimpie
 vir Regardt.” – Leon van Nierop, rolprent-resensent

“Die oogpunt van die Joodse gesin
is ’n vars aanslag en daarom is ek
 deel hiervan.” – Frank Yablans, Hollywood-vervaardiger en voormalige president van Paramount Pictures

“Net nie nog ’n fliek oor Jesus nie. Ek’s skepties oor ’n begroting van 
$20 miljoen – dis baie knap vir ’n epiese fliek.” – Barry Ronge, rolprent-resensent

  • Elsabe Toua

    Hierdie is voorwaar groot goeie nuus om die Goeie Nuus boodskap uit te dra deur die wereld. Voorspoed-seen aan al die betrokkenes.

  • qlkihjj

    elG06J crhfvjnztpju, [url=http://vgdnyehjetha.com/]vgdnyehjetha[/url], [link=http://hitgcihypodb.com/]hitgcihypodb[/link], http://yoapjpkrrvgt.com/