lean_van_den_bergh
Ons praat met

5 min met Regardt van den Bergh

Noem die naam Regardt van den Bergh en jy weet hier’s ‘n man wat oor dekades baie diep spore getrap het in die SA TV- en filmbedryf. Dink maar aan Faith like potatoes, wat mense oral aangegryp het, en die suksesvolle TV-reeks Known Gods. Dan praat ons nie eers van die vorige leeftyd se rolprente waarin hy nog akteur was nie. Sy nuutste rolprent, Tornado and the Kalahari Horse Whisperer, is die ware verhaal van Barry Burger, ‘n regte horse whisperer. Die fliek word van 10 April af hier in teaters vertoon.


Gaan die fliek geld maak?

Ja, die mense gaan dit geniet!

Faith like potatoes het mos baie goed gedoen?
Dit het. En dit het geld ook gemaak, baie daarvan uit DVD-verkope.

Sal Tornado ‘n Oscar kan wen?
Hy kan. As Tsotsi kon, kan ons ook. Dis ‘n deeglike film met ‘n baie sterk menslike boodskap.

As jy moet kies, watter een van Faith, Hansie en Tornado is jou persoonlike gunsteling?
Hierdie een (hy wys na ‘n plakkaat van lg.)

Wat het skeefgeloop met die Hansie-fliek?
Daar is baie goed wat nie gewerk het nie. Verskeie faktore speel ‘n rol as ‘n fliek net nie wil regkom nie – jy probeer, maar dis moeilik.

Ek neem aan dis ‘n baie natuurlike proses en normaal in enige kreatiewe omgewing om soms ‘n produk te lewer wat nie noodwendig so goed is soos sy voorganger nie.
Baie waar. Dit is hoe dit werk. Ons het baie foute gemaak.

Tussen my en jou, een van die grootste foute wat jy gemaak het was om nie vir Elma Postma die rol van Bertha Cronjé te gee nie.
Ek stem saam. Ek het self baie van Elma gehou vir dié rol, maar omdat die Amerikaners so baie geld in die vervaardiging belê het, is daar besluit om die rol vir ’n Amerikaanse aktrise te gee.

Hoekom het jy jou dogter Leán ‘n rol gegee bo Lika, jou ander meer gevestigde aktrise-dogter?
Lika sou ook kon werk in die rol. Ook Vicky Davis is oorweeg. Maar Leán was rof, byna ongekunsteld. Sy laat reg geskied aan die karakter.

Sy is pragtig!
Sy is, ja.

En Quentin?
Hy is perfek vir die rol. Hy het ‘n tape vir my gestuur wat hy self van sy oudisie geneem het. Daar was iets aan hom wat my gedwing het om hom te gebruik. Hy is baie goed.

Is daar nog flieks op pad?
Ja, nog baie!