rob_van_vuuren_sabc2
Ons praat met

Rob van Vuuren

Wat ‘n lange naam! Die OppiKoppi “Strictly Come Twakkie” Not-Quite-Easter-Festival (24 tot 26 April by Northam in Limpopo). Die plakkaatgesig: einste Twakkie. Oftewel Rob van Vuuren, wat eers bekend geraak het as Twakkie, van Corné en Twakkie-faam, in The Most Amazing Show (dit het deur die land getoer en was ‘n ruk lank op SABC2) en toe as wenner van Strictly Come Dancing 5 verlede jaar op SABC2. Henriëtte Loubser het by hom gehoor wat Twakkie sal doen as hy staatspresident word.

Wat gaan jy alles doen by die fees?
Die hele vibe is: ”Twakkie for president.” Corné (Louw Venter) en Twakkie gaan help seremoniemeester speel tussendeur die bands se optredes.

Het Strictly Come Dancing nuwe deure oopgemaak?
Vir een ding het dit baie van my vet weggevat. Ek het vier maande lank ses uur per dag, ses dae per week geoefen. En dit het my eie brand bevorder. Tevore was ek net Twakkie vir die publiek; nou ken hulle Rob ‘n bietjie beter. Ek en my dansmaat in Strictly, Mary Martin, werk aan ‘n show, Rob and Mary. Dis ‘n kombinasie van dans en komedie en vertel wat backstage gebeur. Ons gaan September na die Witness Hilton-kunstefees in KwaZulu-Natal en gaan dan landwyd toer.

By verlede jaar se Grahamstad-kunstefees was jy by 13 produksies betrokke. Waarvan hou jy die meeste?
Dis vir my baie mooi om alles te doen. Ek’s meer bekend vir komedie, maar drama, dans, regisseurswerk – noem maar op – is ook ‘n plesier. Ek’s ‘n showman through and through. Ek het op Grahamstad gestudeer, so dis soos ‘n tuiskoms elke keer.

Jou eenman-komediestuk Rob van Vuuren is Ron van Wuren is baie gewild. Dis moeilik om ‘n goeie skerpskertser te wees?
Ek het my lewe lank al ‘n rubbergesig. Reeds as kind was ek ‘n groot bewonderaar van Pieter-Dirk Uys en het ek P.W. Botha vir my ma nagemaak.

Wat sal Twakkie doen as hy president word?
Hy sal baie tyd buite die land deurbring. Dikwels in Switserland wees en ook gholf speel in Amerika. Hy gaan meer seks hê as tevore, so hy sal baie meer moet stort. En hy gaan hard werk daaraan om ‘n kriminele rekord te kry, want hy wil nie uit voel in die parlement nie!