sr1212_robbie_1_
Ons praat met

Robbie Wessels: Ek is laf én diep

Ons het skaars begin gesels toe Robbie Wessels ’n storietjie vertel (wat regtig gebeur het) en hom so laat lag dat jy net wit tande tussen baard en snor sien.

“My broer Hammie is my tromspeler en hy is een van die agtergrondsangers. Hy hoor sy stem oor die monitor en dink die gehoor kan hom ook hoor, maar sy stem speel nie oor die voorste luidsprekers nie. Niemand hoor hom sing nie.”

“Die arme Hammie . . .”

Om mekaar ’n streep te trek is ’n ou ding tussen Robbie (32) en Hammie (25), wat op ’n haar na mekaar lyk. “Ons bak mekaar die hele tyd poetse terwyl ons toer. Ons het mekaar in ’n stadium baie met ’n glas yskoue water in die stort gegooi. Dis verskriklik, veral in die winter, en ons het opgehou want ons het te kwaad geword,” vertel Robbie oor sy cappuccino hier waar ons by ’n restaurant in Pretoria sit. Robbie het by die onlangse Afrikaans is Groot-konserte in Pretoria gehore laat huil soos hulle lag met sy snaakse bewegings. (Hy reken juis hy wil sy “moves vir ’n paar mense leer sodat dit kan voortleef, veral daai pelvisbeweging!”)

’n Reeks Vodacom-advertensies, met Robbie se beroemde “Leeuloop”-rittel, het hom destyds gou volksbesit gemaak. Vandag het hy, benewens sy CD Kaalvoet (wat verlede jaar verskyn het), ook die CD’s Afrika sonsak, Halley se komeet, My vissermanvriend se pa en Grootste treffers agter sy naam. Hy het al in die flieks Gautêngalêng-alêng, Poena is koning en ’n Saak van geloof, asook die TV-reeks Hart van staal, gespeel, en hy is Adam in die laaste reeks van kykNET se Getroud met rugby.

Sy nuwe fliek, 100m Leeuloop, geskik “vir die hele gesin”, word in Maart 2013 bekend gestel.

Jacomien de Villiers, sy musiek-uitgewer, beskryf Robbie so: “Hy is werklik ’n komediant, akteur en liedjieskrywer/sanger in murg en been, tog is hy ’n diep mens wat passievol lewe vir waarin hy glo. In my opinie is dít wat hom briljant maak op die verhoog …die perfekte kombinasie van skreeusnaaks en diep-sinvol. Ek is nie net ’n fan van Robbie op die verhoog nie,maar van Robbie die ‘mens-mens’.”

In sy blommetjieshemp wat los hang oor sy langbroek, lyk die gewilde sanger baie maerder as die man wat ’n paar jaar gelede sy lyf in ’n kort blou fietsrybroekie geleeuloop-ritteltit het.

“Ek het gewig verloor, want ek het baie water gedrink en begin bootcamp,” erken hy. Maar Robbie lyk nie net anders nie, hy ís ook deesdae anders.

Jy is bekend daarvoor dat jy skaam is. Is jy nog so?
Ek is baie minder skaam as voorheen. Of eerder, ek skuil nie meer agter skaamheid as ek bang is ek sê die verkeerde ding en eerder wil stilbly nie. Mense wat my goed ken, weet ek is nie skaam nie, ek praat baie nonsens op ons toerbussie. Ek is net nie gemaklik daarmee om myself te wees voor mense wat ek nie goed ken nie. Ek is privaat.

Hoe hanteer jy dit as mense jou in die openbaar herken?
In die openbaar is ek altyd half wegkruiperig, partykeer sal ek ’n keppie dra en so half maak asof ek links kyk as mense aankom. Ek sal my nog ernstig in iemand vasloop.

Beskou jy jouself as ’n akteur of ’n sanger?
Ek sien myself hoofsaaklik as ’n storieverteller en ’n akteur. Ek speel stelselmatig meer toneel en geniet dit. Ek is baie opgewonde oor die nuwe fliek. Ek en Hammie het die 100 m Leeuloop saam geskryf terwyl ons baie gelag het, en ons het ook die liedjie “Leeuloop” oorgeskryf. Die fliek is die extreme van laf. Dit gaan oor ’n kompetisie tussen vyf ouens om tegelykertyd te sing, hardloop en dans.

Kry jy nog tyd vir sing?
Ek het my sangtoere afgeskaal en doen nou net 40 vertonings per jaar. As jy heeltyd op die pad is, loop jy soveel in die lewe mis, soos om saam met jou vriende te kuier.

Jy praat deesdae makliker oor jou geloof as tevore. Hoe het jou geestelike verdieping gebeur?
My verhouding met die Here is vir my alles. Die ommeswaai in my lewe het gekom toe ek twee jaar gelede twee en ’n half maande lank saam met die organisasie Youth with a Mission (YWAM) in Amerika gereis en aan uitreik-aksies deelgeneem het. Ek wou iets doen wat my ’n paar maande uit die musiekbedryf neem om perspektief te kry. Ek het na die Here gaan soek. Ek wou uitvind wat my doel op aarde is, wat sy plan vir my is. Ek was nie seker of ek in die musiekbedryf moes wees nie. Ek was deurmekaar en moeg. Saam met my by YWAM was ander kunstenaars van oral oor die wêreld. Ons het in die Bybel gedelf. Nadat daar in Haïti ’n aardbewing was, het ons daar gehelp en uitreiking gedoen. In New York het ons gaan help by busse wat sop en brood aan haweloses uitgedeel het. Ek het ’n ander mens teruggekom. En ek het geweet die Here wil my in die vermaakbedryf gebruik.

Wat is jou reaksie as mense jou as godsdienstig beskryf?
Ek wil nie so beskryf word nie. Dit gee my die idee van reëls en voorskrifte, asof jy iets moet doen om God te behaag. Wat regte Christenskap anders maak, is dat jou verhouding met Jesus jou juis vrymaak. Jou geloof is wat God plesier gee. Ek is vrygemaak, want ek weet nou dat ek in die bedryf moet wees. Alles wat ek gedoen het, soos “Leeuloop” en Poena, is deel van my storie. Ek smeer dit nie toe nie. Die verlede kan nie jou toekoms bepaal nie.Dis deel van wie ek is. Ek sing nou saam met my laww liedjies op my shows ook “Genade onbeskryflik groot”.

Gaan jy kerk toe?
Ek is lid van die 3Ci-kerk in Pretoria. Deur die kerk het ek mense buite die bedryf ontmoet. Ek weet nou jy vind diepte in jouself as jy jou oopmaak vir verhoudings – nie net liefdesverhoudings nie, maar ook dié tussen familie en vriende.

Hoe het jou geloof jou lewe verander?
My leefwyse het verander. Ek hou nie meer partytjie tot laatnag en drink brandewyn en shooters nie. Ek drink nou net rooiwyn as ek saam met vriende kuier. Maar ek is steeds myself. Dis nog fun om saam met my te wees.

Sal jy ooit ’n gospel-CD uitreik?
Ek skryf gospel-liedjies, maar sing dit net by vriende. Ek voel nie nou ek moet ’n gospel-CD uitgee nie,maar ’n mens weet nooit waarheen jou pad jou vat nie.

Hoe vereenselwig jy jou lawwe kant met jou diep kant?
Ek sien die comedy wat ek doen as ’n geskenk van die Here. Ek is laf én diep en dis ’n lekker balans. As ek net komedie gedoen het, sou ek onvervul gewees het. In ’n stadium was dit moeilik, want die mense het gedin ek is net snaaks. Op my CD Kaalvoet is daar di lawwe “Macarena Mambo”, maar ook diep songs wat van my eie lewe spreek. Die liedjie “Pinocchio se dam” gaan oor ’n Kersfees by my oupa Butch en ouma Sophie se huis in Pretoria.

Hoe het julle Kersfees gevier toe jy ’n kind was?
Kersfees is vir my ’n spesiale tyd van saamwees. Ek is een van vyf kinders en het op ’n plaas buite Kroonstad grootgeword. Die hele familie het op 24 Desember saamgekuier. Daar was ’n Kersboom en dan was een van die ooms Krismisvader – tot ons op ’n punt gekom het waar ons nie meer in Vader Krismis geglo het nie, en besef het dis mense wat jy ken. Toe het my pa die geskenke uitgedeel. Die lekkerste was die Krismisbokse. Ons het normale goedjies gekry, soos ’n krieketkolf. Op Nuwejaarsdag was fireworks ’n groot ding.

Wat doen jy vanjaar op Kersfees?
Vanjaar gaan die hele Wessels-familie weer saamtrek. Ons gaan na die Bronkhorstspruitdam waar my pa ’n houthuisie gebou het. Ek het ook al daar gebly as ek moeg was vir die stad. Ons gaan fireworks skiet en tekere gaan. Vroeër jare het ons tradisionele Krismiskos geëet, soos tong, maar vanjaar gaan ons braaivleis, pap en slaai eet.

Waar woon jy?
Ek woon alleen in ’n tuinwoonstel in Garsfontein, maar trek binnekort na my kleinhoewe buite Pretoria. Ek gaan self bou. My huis gaan ’n plaserige vibe hê, met ’n klipmuur rondom sodat die hoenders en varke vry kan rondloop. My Jack Russell, Mallie, kan nie wag nie, en Toffie die worshond gaan saamtrek. Ek sien daarna uit om in die stilte van die kleinhoewe te gaan skryf. Ek is lief vir skryf en wil vir seker ’n boek en kortverhale skryf. Fiksie. Dalk liefdesverhale as ek ’n liefde in my lewe vind.

Is daar dan nie ’n vrou in jou lewe nie?
Ek het lanklaas ’n meisie gehad, dis tyd dat ek weer op ’n date gaan. Ek weet net nie waar om ’n meisie te kry nie, dis ’n groot misterie.

Hoe voel jy oor Suid-Afrika?
Ek lees nie koerant nie, maar sien genoeg van die land om te weet wat om my gebeur. Ek is positief oor Suid-Afrika. Dis ’n kwessie van stil raak en dink wat jy het om voor dankbaar te wees. As ek na die wêreld of koerante kyk vir hoop, sal daar nie hoop wees nie.

Waaroor voel jy alles dankbaar?
Ek skryf baie oggende vyf, ses goed neer waarvoor ek dankbaar kan wees, soos vir my gesondheid, dat ek kan loop, sien, hoor en skryf. As jy dit gereeld doen, is dit asof iets verander, asof jy dan kan glimlag te midde van alles. Dis maklik om vinnig drie dinge oor Suid-Afrika te noem waaroor ek dankbaar is. Dat ons nege maande van die jaar somersonskyn het, dat die Drakensberg en Bosveld net ’n paar uur van hier af is, dat die Bokke goed doen en die paviljoen vol sit as hulle speel, al wen hulle nie altyd nie!

Leef jy van dag tot dag of het jy ’n lysie van dinge wat jy nog wil doen?
Ek leef van dag tot dag, en wonderlike dinge kom oor my pad. Verlede maand het ek en my orkes vir twee weke konsert gehou in Australië en Nieu-Seeland. Dalk neem ek ook weer aan ‘n uitreik-aksie deel, hierdie keer saam met my kerk. En as 100m Leeuloop goed doen, gaan daar ’n nommer twee wees. Ek het baie idees.

Wat is jou wense vir volgende jaar?
Om hopelik diep vriendskappe te smee en ’n positiewe verskil in mense se lewe te maak. Ek wil dankbaar bly oor elke oomblik.

Hoe is jy as jy heeltemal jouself is?
As ek honderd persent myself is, is ek laf. As ek ernstig is, rus ek net om weer te lag. Eintlik lag ek nog te min, ek moet meer lag.

En Robbie lag dat sy bruin oë skrefies trek en jy net tande sien.

  • bekkie

    moenie in die kring van die spotters sit nie…2 petrus 3 vers 3Dit moet julle veral weet,dat daar aan die eiende van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel.moenie aan die wereld gelykvormig word nie,wie n vriend van die wereld is is n vyand van GOD…

  • amanda

    Die meisie wat hierdie ou kry is voorwaar een van die gelukkigste girls op aarde!!!!!

  • amanda

    Sal graag hierdie ou vir myself wou kloon