Ons praat met

Robbie Wessels het ‘n lewe na Leeuloop

Hy hou sy regterarm soos ’n olifantslurp bo sy kop, sy linkerarm is ’n mini-slurp ’n bietjie laer af. Terwyl hy sy kop vorentoe en agtertoe beweeg, skud hy sy heupe rukkerig van links na regs.

Dis Robbie Wessels se Tarentaaldans. (Die Volstruisdans is dieselfde, jy moet net jou oë toemaak, verduidelik hy.)

“Ek het ’n paar danse opgemaak wat deel is van die stories wat ek vertel wanneer ek optree. Ek het in my kamer gestaan en oefen daaraan.”

Sy “belaglike moves”, sê Robbie ná hy ’n rukkie dink, is sy X-faktor. “Ek neem nie my danswerk ernstig op nie, so ek gooi die moves. Ek is soms van ritme af en  soms doen ek net rukbewegings.”

 

Ek neem nie my danswerk ernstig op nie, so ek gooi die moves.”

 

Van kleins af het Robbie sy lyf gewikkel. Hy’t altyd vir sy ma, Angeline, en pa,  Johan, soos Michael Jackson probeer dans. Toe hy later na Michael Jackson op TV gekyk het, het hy besef dít wat hy doen, is nie naastenby wat die koning van pop doen nie.

“Ek het skoolsokkies gelaaik. Daar was mos ouens op skool wat goed kon los dans en rave. Ek was nogal nie só nie. Ek was te skaam om los te dans. Ek kon goed langarm, vandag nog.

As hy maar op skool geweet het sy los dansbewegings sou hom jare later soveel roem bring terwyl hy “tennisballe, krieketballe, snoekerballe as jy wil” sing, het hy dit dalk meer dikwels gedoen.

Maar daardie bekende “Leeuloop”, met sy suggestiewe danspassies wat gereeld om braaivleisvure gespeel word en sommige mense in hul oggendkoffie laat stik het, het ’n “lelike ding laat kop uitsteek”: stereotipering.

Robbie was nog nooit spyt oor “Leeuloop” nie, maar dit was soms moeilik omdat mense hom in ’n boksie gesit het, vertel hy in sy suster, Annarie, se huis in Moreletapark, Pretoria.

Hy’s skaars tien dae terug van ’n oorsese reis van langer as vyf maande en probeer nog sy voete vind.

Hy gesels stadig met sy diep, hees stem. Elke nou en dan draai hy sy kop weg en gee ’n skaam laggie. Jy soek en soek na die lawwe vermaaklikheidskunstenaar wat sy heupe so lekker kan skud as hy op die verhoog is, maar vergeefs.

“Ek het op ’n tyd gevoel ‘Leeuloop’ is al wat ek is, maar ek was nog oor niks spyt wat ek gedoen het nie. Mense sal ‘Leeuloop’ nooit vergeet nie, maar ek kan nou ook dieper liedjies skryf. Ek voel my aanhangers aanvaar dit so.”

Op 29 wil hy nie meer dinge doen wat onder die belt is nie.

“Ek sal nie nou weer ’n ‘Leeuloop’ skryf nie. Ek is versigtiger om nie op mense se tone te trap nie.”

Maar hy bly altyd reg vir ’n grappie. Selfs al laat dit hom in die moeilikheid beland, soos die keer toe Kurt Darren hom gesmeek het om in ’n pikante broekie op die verhoog te verskyn …

Wat het jy vir langer as vyf maande oorsee gaan maak?

Ek wou nog altyd vir ’n ruk uit die musiekbedryf wegkom en ’n ordentlike breek vat om te kyk watter ander belangstellings ek het. Toe het ek besluit om saam met ’n groep vreemde mense van Amerika, Europa en Korea ’n verrykingskursus te gaan doen.Ons was vir drie maande in Hawaii vir opleiding. Vandaar is ons Los Angeles, New York enHaïti toe vir uitreike. Ek het nie een liedjie geskryf terwyl ek daar was nie. Ek wou ’n ander deel van myself ontdek. Ek voel nogal rustig.

 

Ek wou ’n ander deel van myself ontdek. Ek voel nogal rustig.”

 

Dit was dapper van jou om ná die groot aardbewing Haïti toe te gaan.

Haïti was ’n ervaring. Ons moes ’n tolk kry, want ek het nie die taal verstaan nie. Hulle praat Kreools. Ek het nog nooit so warm gekry nie. Dit was 40°C en  bedompig. Jy sweet van die oggend tot die aand. Ek was vier maande ná die aardbewing daar. Ons het in die hoofstad Port-au-Prince geland, waar die meeste skade aangerig is. Daar is dele waarvan niks oorgebly het nie. Ons het Saint-Marc, ’n dorp twee uur vanaf Portau-Prince, besoek. Die aardbewing het nie dié dorp getref nie.

Jy’s een van min kunstenaars wat nou en dan die Suid-Afrikaanse musiekbedryf vir maande verlaat. Hoekom doen jy dit?

Om te toer kan so alles word. Ek voel soms ek mis uit op die lewe. Daar was al tye dat ek gewens het ek kan iewers heen gaan waar niemand my ken nie. Ek wou net wegkruip en nie uitreik na mense nie omdat hulle my altyd herken. Dis ongesond. Ek wou gaan asem skep op ’n plek waar ek 100% myself kon wees, waar niemand my dophou nie, ’n plek waar ek voel ek leef en waar ek nie net ’n celebrity is nie. Om bekend te wees is aan die begin baie opwindend. Dan kom daar ’n tyd dat die snaaksigheid verby is. Om op te tree is nog steeds my lewe. Dis die grootste voorreg om dit te kan doen. Maar ek wil gaan leef ook.

Wou jy al ooit iets anders gedoen het as om akteur en sanger te wees?

Daar was ’n tyd dat ek wou ophou sing en gewonder het of hierdie regtig vir my is. Daai tyd is verby. Musiek is so deel van my. Ek sal altyd in die  vermaaklikheidsbedryf wees. Ek sal ook nooit nee sê vir ’n rol nie. Ek het drama studeer en ek is lief daarvoor. Ek wil net nie in ’n gemaksone wees en besluit om te sing is al wat ek vir die res van my lewe gaan doen nie. Jy moet verskillende dinge in die lewe ondersoek en probeer.

 

Jy begin weer met ’n landwye toer in September?

 

Ek wil net nie in ’n gemaksone wees en besluit om te sing is al wat ek vir die res van my lewe gaan doen nie.”

 

Ek gaan vir twee maande toer en voor kleiner gehore optree. Dit gaan net ek saam met ’n trom- en ’n kitaarspeler wees. Tussen die liedjies gaan ek stories vertel. Ek wil my acting ook inbring. En ons gaan ’n paar groot optredes by van die kunstefeeste hou.

Wanneer gaan ons jou weer in ’n fliek sien?

Wanneer iemand my vra om dit te doen!!
Ek was seker vier, vyf jaar gelede in ’n fliek (Poena is koning). Ek sien almal maak nou flieks. Ek wil graag weer in een speel.

Zanda Traut wat kitaar in jou band speel, sê jy moet bietjie vertel van die ritueel wat julle doen voordat julle optree.

Ons gooi altyd ’n gebedjie saam. Soms sing ons ook ’n liedjie: ‘Maak ’n kring,maak ’n kring,maak ’n kring,maak ’n kring om Prop (Jan-Adriaan van Rooyen, baskitaarspeler). Proppie is so lief vir doen, kom ons kyk wat Proppie doen. Toe maak Proppie …’
Dan dans Prop nou in die middel. Elkeen van ons kry ’n beurt om in die middel te dans. Ons doen sulke belaglike goed.

Dit klink of julle pret het.

Op die toer is dit groot pret! Dis net nonsens praat vandat ons in die bussie klim tot ons by ons bestemming uitkom. As die gehoor sien ons geniet onsself op die verhoog, maak dit nie saak as ons foute maak of note mis nie.

 

Dis net nonsens praat vandat ons in die bussie klim tot ons by ons bestemming uitkom.”

 

Jy’t “Leeuloop” vier jaar terug begin opvoer. Gebeur dit nog dat mense by ’n optrede daarvoor vra?

Ja, nog by elke optrede, sommer al vroeg in die show. Dan wil ek sê laat ek net eers ’n paar van my ander liedjies sing. As ek onmiddellik “Leeuloop”doen, moet ek die show klaar maak, want waarvoor anders wag jy dan tot die einde toe?

Wat is die storie met die blou broekie wat jy op Skouspel in 2006 gedra het?

Ek het die idee gekry om’n blou ski-pant saam met ’n T-hemp vir my optrede te dra en wou dit uittoets by die mense back stage. Almal was mal daaroor en het gesê ek móét so op die verhoog gaan. Veral Kurt Darren. Hy’t my eintlik gedwing, want hy’t so mooi gevra. Ek kon mos nie nee sê nie.
Toe gaan ek tydens die kleedrepetisie met die broekie op en sing. Esmaré [Weideman], redakteur van Huisgenoot, sê toe dis snaaks en so, maar ek moet asseblief ’n kortbroek oor my blou broekie aantrek. Ek het ’n rugbybroekie gaan koop om oor die ski-pant aan te trek sodat die ski-pant net so ’n bietjie uitsteek. Net voor ek op die verhoog gegaan het met die eerste Skouspel-konsert, het Kurt weer begin. Hy’t gevra ek moet asseblief die rugbybroek uittrek en net die ski-pant aanhou.
So vyf minute voor ek opgegaan het, het hy my oortuig en ek trek daai broek uit en stap op die verhoog. Ná my optrede het iemand van Huisgenoot my ingewag en kamma met my geraas. Toe trek ek maar die rugbybroek met die volgende konsert aan.

Aan die een kant is jy skaam en teruggetrokke en aan die ander kant is jy laf. Hoe bring jy die twee bymekaar?

Ek dink ek was maller voor ek bekend geword het. Ek gebruik die verhoog om myself net te laat gaan. Ek het definitief ’n skop iewers weg. Ek het uit ’n kombi geval toe ek klein was op pad terug van ’n restaurant in Pretoria. Ek wonder of ek nie daar ’n stamp teen die kop gekry het nie.

 

Ek het definitief ’n skop iewers weg.”

 

Jou suster, Annarie, sê jy’s mal oor diere. Hoe vreemder, hoe beter.

Diere verstom my. Dis ongelooflik hoe elke dier se persoonlikheid verskil. Ek het ’n behoefte om ’n ander troeteldier as ’n hond te hê, maar met my leefstyl en toerdery moet ek mooi dink voordat ek ’n dier aanskaf. Ek het al ’n vark gehad.
Net die idee van ’n vark wat mak is, was vir my fantasties. My vark was mak, mak, mak, maar sy was nogal hardegat. As ek haar aan die kant van haar lyf gevryf het, het sy geruk en wou my byt. Maar as ek haar onder haar maag gestreel het, het sy omgeval en gaan lê. Ons het haar sommer Varietjie of Five Bob genoem. Ek het ook ’n baard-akkedis (bearded dragon), Ollie, en ’n Jack Russell, Mally.

Wat het van Five Bob geword?

Ek het haar weggegee.My ma moes te veel na haar kyk omdat ek so baie van die huis af weg was. Kyk, my ma was heavy lief vir daai vark, maar die vark sou ’n beter lewe op ’n plot hê. Gelukkig was daar ook ’n ander vark, so sy het ’n pêl gehad. Sy’t al kinders gehad ook. Dit gaan goed met haar.

Jy’t gewig verloor. Ek het iewers gelees jy bly weg van brood af.

Ek is nou weer terug op die brood. Ek dink ek het die gewig in Haïti verloor. Ek het liters water gedrink, maar dit alles weer uitgesweet. My gewig was nog nooit vir my ’n kwessie nie.

Edwoudt Cloete van Johannesburg, een van jou aanhangers, wil weet wat is nou eintlik kommin?

Dis moeilik om te antwoord. Kommin is verskillend vir verskillende mense.

Is kommin die nuwe cool?

Nee, veral nie as dit kommin is met suf woorde nie. As iemand byvoorbeeld vloekwoorde in ’n liedjie gebruik om dit cooler te maak . . . dis nie vir my nie. Vyf jaar terug sou ek dalk anders gevoel het. Daar is baie maniere om iets te sê sodat dit nog steeds snaaks is sonder om vloekwoorde te gebruik.

 

As iemand byvoorbeeld vloekwoorde in ’n liedjie gebruik om dit cooler te maak . . . dis nie vir my nie.”

 

Hoe het jou ingesteldheid teenoor musiek oor die jare heen verander?

Ek is versigtiger om aanstoot te gee. Om musiek te maak is ’n  verantwoordelikheid.

Mense luister na jou liedjies se woorde.

Ek wil mense op ’n positiewe manier deur my musiek raak. Ek wil nie hê my musiek moet skade aanrig nie.

Jy wou op ’n tyd baie graag ’n meisie gehad het.

Ek was oop vir ’n verhouding toe ek in Amerika was, maar niks het gebeur nie.
Vroeër was ek nogal op soek. Ek weet nie hoekom ek nie ’n meisie kry nie.Almal probeer vir my dates organiseer. Ek is nou kalmer daaroor.

Het jy ’n nuwe CD op pad?

Nog nie. Ek wil nou eers begin liedjies skryf. Ek gaan skryf oor my ervarings in Amerika.

Robbie wys sy foto’s


Wat jy nie van Robbie geweet het nie

  • janhendrik

    hey robbie ds kierie hier eke dink ons het al ontmoet by sumer place ek hou bja vn jou misiek en wil een van j konserte gan sien en my pa werk ook da stoffel loots ek dink j ken hom