sr1110moelike_kinders_1_
Ons praat met

Robbie Wessels se ma: My wonderlike anderste kind

Wat maak jou broer so anders, vra ons vir Robbie Wessels se suster Annerie. “Ek weet nie, hy was maar nog altyd so. Hoe beskryf ’n mens dit?”

Robbie se ma, Angeline Wessels van Pretoria, is lief vir hom soos hy is, al verskil hulle baie. “Ek is nie so kunstig of kreatief soos Robbie nie. Hy is impulsief, doen eers en dink dan. Ek hou meer van orde en roetine. Maar my kind is fantasties nes hy is.”

Sy glo al die aandag en stimulasie soos stories lees en liedjies sing, het sy verbeelding meer geprikkel as haar ander vier kinders s’n. “Dis net asof hy van kleins af meer verbeelding gehad het. Hy is my enigste regterbreinkind.”

Sy is bly hy is gelukkig in die beroepskeuse wat hy gemaak het. “Hy verryk my lewe en sorg vir hope pret. 
Ek geniet al die soms vreemde fasette van sy lewe.”

Robbie was van kleins af vol grappe en poetse en baie in die moeilikheid op skool, vertel sy. “Maar hy kon altyd goeie opstelle skryf, vol spel- en taalfoute, maar met wonderlike, kreatiewe idees.”

Sy glo ons moet ons kinders se keuses ondersteun en hulle liefdevolle raad gee. “Jy moet hulle hul eie lewe gun en as ouer die vangnet wees.”

Haar drome was om eendag ’n kreatiewe loopbaan te volg en dit is toevallig wat Robbie nou doen. Sy het darem nooit enige drome op hom afgedwing nie. “My drome vir al my kinders is net dat hulle goed aangepaste, gelukkige mense moet wees.”

‘Ek geniet al die soms 
 vreemde fasette 
 van sy lewe’  – Angeline Wessels, Robbie Wessels se ma

Angeline Wessels, Robbie se ma