Ons praat met

Rock-koning Arno hip en hardekwas

Met die omdraaislag sien ek hom: Kenmerkende slingellyf, inkopiesak in die hand, en hy loop afgemete op my af. Arno Carstens. Spieëllens-donkerbril en klere wat getuig van trendy, gestileerde deurmekaargeit. Swart denim en ’n granietkleurige T-hemp. Ligte hare en ’n donker frons. Grimmige lyne langs die mond . . . Kwaad, goed kwaad. “OK,” sê hy. “Jy het ’n halfuur.”

Buite die mooie nuwe Nando’s in Kampsbaai kry die see skielik so ’n kil kleurtjie. Ek het spesiaal van Johannesburg gevlieg om met die grootbaas van Suid-Afrikaanse rock te kom gesels. Toe loop hy. Ek is laat. ’n Volle 35 minute … En die kwaai SMS op my foon sê: Kon nie meer wag nie. Ek bel vervaard. Sy foon is af. Los ’n verleë, stamelende boodskap vol byvoeglike naamwoorde wat moet verduidelik die pad van Durbanville af hierdie kant toe was langer as wat ons gedink het. Nou sê hy: “Jy het ’n halfuur.”

Ons gaan sit by ’n buite-tafeltjie. Die wind om die hoeke kan nie kouer wees as die atmosfeer nie. Ek het gehoor dié man kan nogal taai wees, en hier het ons dit nou. En dis my eie skuld.
’n Groot stilte verorber maklik 5 minute van die halfuur – 5 minute sonder woorde kan nogal lank voel. Ek sluk. En probeer moedig. “Wat’s in die inkopiesak?” Is dit nou ’n vraag om te vra! Ek loer so opperig en sien net my eie gesig in die lense van sy sonbril weerkaats. Nie ’n gemaklike ou prentjie nie.

Debra Roets, die fotograaf, red onwetend die situasie. Sy kom windverwaai aangehardloop en verduidelik uitasem dat sy van die een kant van die stad moes jaag na die ander (nes ek), vanaf ons tweede onderhoud vir die dag na dié een, die derde. Hy glimlag effens. Nando’s se mense bring vir ons komplimentêre aarbeidrankies. Die baas kom skud persoonlik hand. Dankie, Debra, dankie, baas. Die see is weer blou. “Nou maar regtig, wat ís in die sak?” “’n T-shirt en iets vir die huis.”

Hy deel die huis met Melanie Machattie, sy verloofde en besprekingsagent, en ’n hond. Hulle het onlangs Johannesburg toe getrek, maar kom kuier gereeld in die Kaap, bly dan oor – nie te ver vanwaar ons sit nie. En dis al wat hy oor hulle twee te sê het, dankie.

Arno Carstens het sowat 11 jaar gelede bekend geword met sy baanbreker-rockgroep die Springbok Nude Girls. Die “Nudies”, soos hulle bekend geword het, het ’n imposante geskiedenis. (Die naam verwys na die Varga-tipe meisies in eina-bikini’s wat in die jare sewentig voorop MFP se Springbok Hits-plate verskyn het.)

GUNSTELINGE

KOS: Afval, melkkos, skaapbrein, murgbene, Nando’s
DRANK: Jägermeister, goeie rooiwyn, enkelmout-whiskey
KLEUR: Blou en swart
LIED/MUSIEK: Interessante rockmusiek

KUNSTENAAR: Nick Cave
MENS: Nelson Mandela
PLEK: Zanzibar
GESEGDE/WOORD: Proudly South African

 

In die sowat 7 jaar van hul bestaan het hulle omtrent alle plaaslike rekords herskryf. Hulle word tot vandag gereken as die suksesvolste rock-groep van die negentigs. Vier Sama-toekennings, meer as 150 000 eenhede verkoop, 9 nommer 1-treffers . . . Arno was al agt keer op oorsese toere en het al onder andere saam met groot name soos R.E.M., INXS, Smashing Pumpkins en Lenny Kravitz opgetree. Sedert hy in 2001 ’n solo-paadjie ingeslaan het, het hy ook nog nie weer teruggekyk nie. Sy eerste solo-album in 2003, Another Universe, was ’n reuse-sukses. So nou en dan span hy en van die oorspronklike Nudies, Theo Crous, Arno Blumer en Francious Kruger, saam vir enkele optredes, en elke keer is die vertonings uitverkoop. Sy nuwe projek, New Porn, saam met onder andere die opwindende kitaarspeler Albert Frost, is voortdurend die hoofaanbieding by musiekfeeste soos Oppikoppi en Woodstock.

En vroeg vanjaar tref hy Londen, met die hulp van Sony/BMG, wat vas glo dat hy het wat dit vat om deur daardie onsigbare internasionale klankgrens te breek. “Arno het ster-kwaliteit. Hy ooze dit,” sê Lance McCormack, die bestuurder van dié platemaatskappy se plaaslike kunstenaars. “En dit help dat hy baie talent ook het!” Francious vertel hoeka dat hy en Arno altyd op toer ’n kamer deel, en dat die man se oggend-rituele nogal iets is om te aanskou. “Hy is baie deeglik!” glimlag Francious. “Toe ons jare gelede ontmoet het, was Arno baie stiller en jonger.

Maar oor die afgelope jare het ons hom sien groei. Hy is geweldig kreatief, ek het totale respek vir sy artistieke integriteit. Alles om hom kan dien as inspirasie, enigiets van die see tot ’n mooi vrou.” Die Nudies neem later vanjaar vir die eerste keer in ’n lang tyd weer ’n album saam op.

Karen Zoid het ’n paar maande gelede vertel sy het besef Arno is inderdaad besig om dit ‘te maak’ toe hulle hom in Duitsland op televisie gesien het, die spreekwoordelike rooi tapyt uitgerol en ’n ateljee-gehoor wat entoesiasties hande klap op elke vraag wat hy beantwoord.

Ek maak keel skoon. Nou gaan ons begin praat, broer, halfuur of nie. Ek het ’n storie om uit jou te kry . . . “Ek het al so baie onderhoude gedoen, ek het niks meer te sê nie,” waarsku hy. “Dis moeilik om excited te bly. My musiek is my lewe. Dis soos om kantoor toe te gaan . . .”

Waar kom jy vandaan?
Ek is op Worcester gebore, nes David Kramer en Frank Opperman. Dit was baie interessant om daar groot te word. Die hele dorp is gerig daarop om blinde en dowe mense tegemoet te kom. So, by die verkeersligte piep verskillende geluide vir rooi en groen ligte, en orals is paadjies vir mense met gidshonde en gidsstokke. Dis ’n humbling ervaring, en dit leer ’n mens baie vinnig om nie net aan jou eie behoeftes te dink nie. Tom Waits sou ’n goeie song oor Worcester kon skryf. In die somer is dit Texas, in die winter Switserland. ’n Dorp vol teenstrydighede.

Is Tom Waits een van jou musikale invloede? Ander?
Ja, beslis. Nick Cave ook. Donker, diep musiek. En Bob Marley, Jim Morrison, en ag, ’n miljoen ander bands ook. Goeie musiek met goeie lirieke sal altyd inspireer . . . Watse soort musiek dit ook al is.

Vertel meer van jou familie?
Ons is professionele braaiers, as daar so iets is. Ons is vier seuns: Die muso, die bosbouer, die Vodacom-man en die prokureur. Ek is die laatlam. Die bedorwe brokkie. (Hy glimlag steeds nie vreeslik geredelik nie.)

Nou waar kom die musiek vandaan?
Sjoe. Ek het ’n lekker lang pad geloop. Ek was onder meer al ’n lito-masjienbedienaar op Wellington. Moes die goed skoonmaak. Jy haal eers die swart ink, dan die rooi ink, dan die res af. Ek kon daardie tyd my hande dae aaneen nie skoon kry nie. Die ink sit lank onder jou vingernaels. Maar ek het darem in die Bolandse Jeugkoor gesing. Op Stellenbosch het ek vir Theo Crous, medestigterslid van die Nude Girls, ontmoet. Ons girlfriends was beste vriende. Dit was instant, ons het saam gejam en die res, soos hulle sê, is geskiedenis. Ek moet sê, die nineties was een lang partytjie . . .

Skryf jy al jou eie songs?
Natuurlik. (Hy frons. Oeps!)

En waar kry jy jou inspirasie vandaan?

Ek dink holisties. Inspirasie vir lirieke kan van DStv se National Geographic-kanaal kom. Jy weet, as sir Richard Attenborough so stadig en bedaard oor die vlaktes van Kenia praat: “. . . and the lion, that rugged prince of the plains, that bearded spirit of the wild, that loneliest of lonely kings … this king will (pouse), tonight (pouse), feast at a table of his own making . . .” dan gryp ek sommer ’n pen.

Of die Bybel, veral die ou St James-uitgawe. “Ye children of the earth; ye fearless, loathsome creatures of sin; God will smyte thee . . .” Ai. Dis mooi taal en dit inspire. Onderwerpe vir songs is hier en oral. Ek is verslaaf aan die high van skep. En ek is verskriklik gelukkig om te kan saamwerk met van die land se beste musikante. Albert is met een woord ongelooflik. ’n Jong musikant met ’n ou hand.

In die ou dae het ek baie na AC/DC geluister. En The Doors. En enige musiek van die tagtigerjare. ’n Groot deel van ons klank is gebore in daai tyd. Maar maak nie saak hoe goed die Nudies gedoen het en nou New Porn nie, Bles is steeds die beste verkoper!

Wat sê dit vir jou van Afrikaanse musiek? En hoekom is Steve Hofmeyr so gewild?
Ek dink Bles en Steve is by uitstek tipiese Afrikaanse ikone. Hulle bedien sowat 80% van die Afrikaanse mense – wat almal die enigste mense is wat die taal praat, in die wêreld! So, ek is glad nie verbaas dat hulle soveel CD’s verkoop nie. Persoonlik het ek grootgeword met Engelse musiek, en dis vir my die gemaklikste genre om in te skryf en te speel. So, Afrikaanse musiek is bo my vuurmaakplek. Maar ek is mál oor Afrikaanse bands soos Kobus! en Karen Zoid en Battery 9.

As jy nie met musiek besig is nie, wat doen jy graag?

Ek sal graag weer wil verf. En by die see bly. (Hy haal sy bril af, op versoek van die fotograaf-redder. Skielik sien jy mens-oge, blouerig en versigtig. Selfs onseker. Dankie tog, daar is ’n persoon daarbinne.) En ek wil die Lotto wen! ’n Jaar afvat. Ek sal graag een vakansie in ’n sterrewag wil deurbring, met iemand wat my dak toe vat en alles uitwys en ophelder. My ander passie is argeologie. Ek kan ure lank na Discovery of sulke dokumentêre kanale oor die mensdom se geskiedenis kyk.

Is jy ’n regterbrein-mens?
Ek weet nie. Ek het altyd regs geskryf maar links geskop. Ek het wel ’n sterk kreatiewe drang. En sal nie maklik volgens gewone kantoorroetine kan leef nie.

Huisgenoot sê jy’s ’n nuwe überman? Is jy über- of metro-man?
Ek is al ’n metroman genoem en nou noem hulle my ’n überman? Persoonlik gee ek nie om wat die mense my noem nie.

Ek sien jy drink net water. Leef jy gesond?

Mmm. Ek draf gereeld, maar ek kan maar lekker kuier as die kans daar is. Balans, dis seker waar die geheim lê. Ek is egter nie ’n fanatiese gym-ou nie. My verloofde het groter spiere as ek!

Jy’t al baie getoer. Waar was dit vir jou die lekkerste?
Ek hou baie van Londen. Dis maar soos ’n groot Johannesburg. Maar ek hou veral van Duitsland. Die Duitsers het, soos ons, ’n moeilike geskiedenis om te verwerk. En hulle gaan tot die uiterste om dit te doen. Ek hou nie van vakansie nie. Op ’n manier voel dit vir my ek is die heeltyd met vakansie. My doel is nie om big in another country te wees nie. (Met skalkse verwysing na sy treffer-album Another Universe.) Maar hoe meer plekke, en mense, jy bereik, hoe nader voel jy aan ’n doel, ’n punt wat jy bereik het.

              ***

Die halfuur het toe, genadiglik, tot meer as ’n uur gerek. Hy laat vir Melanie, wat iewers naby vir hom wag, weet dat hy op pad is. Hy en Zanne Stapelberg, die opera-sangeres wat ook vir ’n onderhoud daar is, maak vinnig planne om in die jaar wat kom iewers saam ’n rock-en-opera-aand te hou. Hy sit sy donkerbril terug op sy gesig en flits ’n vinnige, vergewensgesinde glimlag in ons rigting. Slingel gemaklik weg. Rock-ster, inderdaad.