Ons praat met

‘Rock-ster roem verbyster my’

Bewonderaars kyk hoe sy staan, hoe sy aantrek, hoe sy praat … Vir aktrise Diaan
Lawrenson van 7de Laan is dít ’n yslike verantwoordelikheid.

deur ELSA KRÜGER
foto’s NICK BOLTON

’n Blonde krulkoptweeling van vier kom plant hulle vierkantig voor Diaan by ’n openbare geleentheid op Rustenburg. Of liewer, voor Paula: “Kyk Paula, kyk hoe loop jy,” beduie
die tweetjies en maak Paula van 7de Laan se wikkelstappie tot by die fynste spykerskoen-klikke-klak na.
“Eers wou ek hulle opvreet, ek het ’n drukkie en soentjie gevra. En toe begin ek dink …”
Dit was toe dat sy besef het hoe ernstig ’n sepiester haar beeld moet opneem.
“Dis ’n yslike verantwoordelikheid.”
En so loskop en stuitig soos die boerekugel Paula in die sepie is, so perfeksionisties
en pligsgetrou is Diaan Lawrenson (27) in die werklike lewe. Niks los denke of
drade in haar lewe nie, dankie.
“Om die waarheid te sê, ek is obsessief gedissiplineerd en my fokus is 100% by alles wat ek doen. Miskien is dit my lewensles: Dat ek moet leer om te ontspan, nie so vreeslik beheer oor als te wil hê nie. Ek probeer, maar dis moeilik.”

Jou rol gaan nou ontwikkel tot ’n heel skaflike joernalis by The Hillside Times? Sou jy ’n joernalis kon wees?
Ek dink ek sal dit nogal geniet. Ek is geïnteresseerd in mense en wat aangaan. Ek sou dit geniet om iemand te wees wat byvoorbeeld met akteurs praat!

Is jy nuuskierig?
Dit hang af. Daar is party goed waarin ek glad nie belang stel nie. Soos om ander se lewe ure lank te bespreek – dit verveel my.

Jy hou nie van skinder nie?
O, nee, dit het ek glad nie gesê nie! Ek sal absoluut my ore spits as ek ’n sappige storie hoor.

Benewens aktrise is jy ook ’n sakevrou met belange in ’n produksiemaatskappy.
Ons het vier en ’n half jaar gelede daarmee begin, met bedryfsteaterwerk. Ons het dadelik werk vir groot maatskappye gekry. Ons doen nou meer teaterwerk waarmee ons toer.

Hoe behartig jy alles?
Ek geniet my werk, dis nie vir my uitputtend nie – dis nie asof ek ure moet insit in iets wat ek haat nie. Ek sit dikwels tussen repetisies hier op die stel van 7de Laan en werk aan ons produksies. Soms is dit moeilik – ek sal graag op vier verskillende plekke gelyk wil wees.

Jy wil ook nie iets prysgee nie?
Finansiële onafhanklikheid is vir my baie belangrik, ek is ’n onafhanklike mens, ek wil niemand gunste vra nie. Vryskutakteurs lei ’n onsekere lewe – ek sien hoe my vriende teen die einde van ’n produksie gespanne raak, want waar kom die volgende rol en inkomste vandaan?

Is geld vir jou belangrik?
Net in die sin dat dit my opsies gee en vryheid om dinge te doen. Ek is nie erg oor materiële goed nie. Ek het nou net vir my ’n woonstel in Illovo in Johannesburg gekoop, vir die stabiliteit, omdat ek verantwoordelik vir myself wil wees.

Jy is baie georganiseerd?
Ek is té georganiseerd! Ek probeer my beste gee en dan moet alles agtermekaar wees.

Is dit dalk hoekom jy so lekker in Paula se loskop-rol inklim?
Ja, dis vir my heerlik. Ek geniet Paula baie. Sy is op haar eie missie, ’n speelse karakter. Sy irriteer mense, maar hulle hou van haar. As die publiek vir Emma en Liesl raakloop, vra hulle eerste: ‘Hoe gaan dit met Paula?’ en wonder hoe is dit om saam met so ’n vreeslike skepsel te bly!

Kry Paula baie bewonderaarspos?
Die jong meisies is mal oor haar – die briewe kom meestal van hulle. Hulle kyk hoe jy staan, hoe jy aantrek, hoe jy praat.  Hulle skryf vir my hulle sien hulself in my.

Is jy ambisieus?
Ek is – nie vir roem en geld nie, maar ek wil graag eendag self ’n movie maak.

Roem het jou bietjie onkant gevang?
Ek is eintlik baie skaam en my persoonlike lewe is privaat. Ek sien myself nie as ’n celebrity nie, maar onlangs het ons by ’n skool in Port Elizabeth reklame vir ’n verhoogproduksie gemaak en daar was 2 000 kinders wat gegil het asof ek ’n rock-ster is. Ek was verbysterd.

Jy kom uit ’n hegte familie?
Ons het gereeld sulke groot familiebyeenkomste by my oupa Fannie en ouma Janie Marx op Warmbad (Bela-Bela). Toe ek ’n tiener was, was ek langtand daarvoor, maar hoe ouer ek word, hoe belangriker raak dit vir my. Ons familie is almal baie dieselfde – ons het vinnige humeure en ons is koppig. En almal het ’n heerlike humorsin.

Vinnige humeure … is jy temperamenteel?
Ek gooi nie tantrums of my gewig rond nie, en dit vat lank om my kwaad te kry, maar dan skroom ek nie om my sê te sê nie. Ek krop nie gevoelens op nie.

Hoe ontspan ’n werkesel soos jy?
Ek probeer dans- en jogaklasse inwerk, ek lees obsessief. En alleentyd elke dag moet ek kry – al is dit net om ’n kas reg te pak.

In jou bedryf is dwelmmisbruik taamlik algemeen. Hoe voel jy daaroor?
Ek háát dit. Ek was op kunsskool en die kinders eksperimenteer met allerhande goed. Van my vriende was met dwelms deurmekaar, maar ek het dit nooit gedoen nie. Ek is te bang om beheer te verloor. Ek het al baie mense sien ondergaan daardeur, wonderlike, talentvolle mense.

Hoe hanteer jy dit as slegte goed met jou gebeur?
Slegte goed gebeur met almal. As jy iemand verloor wat jy liefhet, as jou hart gebreek word … Ek probeer die les in my pyn sien. Huil eers my oë uit, dan probeer ek wys wees daaromtrent.

Het jy vyfjaarplanne?
Nee, want as dit dan nie so uitwerk nie, sal ek verpletter wees! Maar ek wil volgende jaar ’n musical op die planke sien en ek wil klein movies maak. En as ek die geleentheid kry om oorsee te werk, sal ek dit graag doen.

3 Dinge wat jy nie van Diaan weet nie
1. Ek huil lekker in movies.
2. My eerste hond was ’n spanjoel, Dolfie. Ek het op sy rug gery en sy ore getrek.
3. Ek is taamlik bang vir die donker. Ek sien spoke. Regtig!