Ons praat met

Romanz se Burgerd verloof aan sangeres

“Sy het baie goeie smaak, ons pas so mooi bymekaar. Ons het saam na ringe gaan kyk,” vertel Burgerd Botha aan sarie.com ná hy en die sangeres Zita Pretorius verloof geraak het.

Die paartjie het glo verlede jaar ontmoet. Hulle het saam sangklasse geloop en mekaar so leer ken. Hulle het toe in Januarie begin kuier en in April amptelik begin uitgaan.

Dié verlowing is ook amptelik op hulle Twitterblaaie aangekondig:

@ZITApretorius
@Burgerdromanz Jy het my hart gesteel, nou dra ek jou ring en vat jou naam… #1Januarie2014

Sy het ‘n baie unieke, vintage styl, sy is baie sentimenteel oor haar juwele. Sy was mal oor haar ouma se handgemaakte trouring, dit was aanvanklik haar oumagrootjie s’n,” vertel Burgerd van die ringkeuse.

“Sy het vir my gesê sy haar ring moet soos dit lyk. Ek het hom geteken en ontwerp met dié ring in gedagte en dit laat maak by ‘n familie-juwelier, dus ook handgemaak. Mc Nellen en Smit-juweliers. So, sy’t soortvan geweet hoe dit gaan lyk,” vertel hy verder.

“Ek het ‘n verskoning gesoek om na haar familieplaas te gaan in die Waterberge. Haar pa het ‘n trekkerpart nodig gehad en ons moes dit gaan oplaai en daarheen neem. Almal het lekker saamgespeel terwyl hul Zita in die duister gehou het,” lag Burgerd.

Ons het toe Saterdag soontoe gery. Ek het ‘n piekniek gepak en op ‘n koppie wat uitkyk oor die berge stilgehou. Alles waarvan sy hou was daarin – soos hoenderhappies, vonkel-druiwesap (want sy drink nie) en sjampanje-glasies. Ek het my kamera saamgeneem. Dit was só spesiaal! Ons het met die trekker gery!” vertel Burgerd.

Burgerd en Zita

Met sonsondergang het ek gesê ek het vir haar ‘n geskenkie. Ek het gekniel en die ja-woord gevra. Sy’t gehuil en opgewonde geskree, ja! Toe skree sy: ‘Sit aan die ring, sit aan!’ Toe kerf ons ons name op die naaste boom en lê op die kombers en kyk na die sterre. Later het ons weer met die trekker by die koppie afgery in die sterlig,” vertel hy.

Foto: Albie Hanekom

“Ons trou 1 Januarie 2014. Dis ‘n sentimentele datum – haar ouers het ook op die datum getrou. Dit is ‘n gepaste dag vir ons, want dis ‘n vakansiedag en ons sal dus altyd bymekaar kan wees op ons huweliksherdenking,” sê Burgerd.

“Ons is gemaak vir mekaar. Sy is lief vir die Here, en dis my prioriteit. Sy is beeldskoon! Ons het dieselfde belangstelling, dieselfde agtergronde en kom uit dieselfde tipe gesin. Wat ‘n eer!”

F Wilson gaan Zita se trourok ontwerp, maar sy gaan dalk twee rokke dra, een vir seremonie en een vir die onthaal. Hulle gaan twee pakke vir Burgerd ook ontwerp en dit lyk of dit ‘n vintage-styl trou gaan wees.