Ons praat met

Romanz in die begin dae – gesels met SARIE

Is julle so romanties soos jul naam sê – en soos julle lyk?
Jy kan nie iets uitstraal as jy dit nie self is nie. Ons is passievol, ons is romanties, ons hou van wat ons doen. ‘n Mens raak verlore in die musiek.

Het julle ooit verwag julle gaan so gou sukses behaal?
Niemand het nie, ons is nog in die wolke. Ons het in Julie begin en ons eerste optrede was by Aardklop verlede jaar. Maar ons is bewus daarvan, hoe vinniger jy bekend raak, hoe moeiliker is dit om dit vol te hou. Ons werk daaraan om te mik na nog hoër standaarde.

Die vraag is seker onnodig: Is daar regtig plek vir nog ‘n boyband in ons land?
Daar’s beslis behoefte aan ‘n stylvolle Afrikaanse produk van internasionale gehalte. Ons is nie ‘n tipiese boyband nie. Ons sing klassieke en popmusiek. Ons het al mense gekry wat sê ons “mimiek” die musiek, want dis onmoontlik om op die verhoog so goed te sing. Daarom het ons al sonder instrumente gesing sodat mense kan sien ons mimiek nie! Ons is verstom oor die verskillende mense en kulture wat na ons luister. Omdat ons meer romantiese musiek sing, is ons veral in die vrouemark gewild.

So julle het ook te make met swymelende, gillende aanhangers?
Ons is nie sekssimbole nie! ‘n Boyband is baie meer geskoei op die idee van spiere en ‘n six pack en hoe cool die ouens is. Ons hooftema is romanse, die liefde. Ons is stylvol, sielvol, on the edge. Ons het al ‘n paar vreemde versoeke van vroue gekry, maar hulle gooi nie hul onderklere op die verhoog nie. Hulle klap hande en gil, ja, maar ek glo hulle sien ons is stylvolle Afrikaanse ouens wat dinge met finesse doen. Ordentlike ouens! Ons wil nie verloor wie ons is nie.

Julle is basies met die hand uitgesoek?
Ons platemaatskappy, Select Musiek, beplan al drie jaar aan hierdie groep – verlede jaar het hulle sowat 500 sangers genader en oudisies gehou. Uiteindelik is ons vier gekies. Hulle het presies geweet wat hulle wil hê.

Vier ouens wat mekaar nie van ‘n kant ken nie. Wérk dit?
Net vier kunstenaars saam is klaar uiteenlopend genoeg, en dan het ons boonop almal kunstenaarstemperamente! Maar ons het van die begin af oop kaarte met mekaar gespeel – dat ons sal sê as daar verskille is. En dat ons geheel en al gaan fokus op Romanz. Dit werk. Alle ego’s word opsygeskuif – jy kan nie bekostig om ‘n ego te hê nie. Elkeen leef regtig sy passie uit. En ons het almal dieselfde waardes.

Wie’s wie in die groep?
André is reeds pa – hy kom uit die sakewêreld en het ‘n ongelooflike passie om dinge te laat gebeur. Hy hanteer die finansies. Adam hanteer die CD’s en hy’t ‘n baie mooi manier om met die publiek te werk. Hy ontken ook altyd ná die shows dat hy die stoute een is as mense hom vra, maar wraggies, dan jy kry weer ‘n rubberslang in jou bed! Burgerd is die jongste, en kan nogal goed verstrooid wees, maar ons kyk mooi na hom. Hy doen weer die webwerf. Omdat ek drama geswot het, is ek weer die een wat die produksie aanmekaar sit – hulle spot altyd my oë gaan in vervaardiger-mode in as ons by ‘n venue kom. Ons het almal so ‘n passie vir wat ons doen – ons is  voluit hierin.
 
Besoek ook www.romanz.co.za.