Ons praat met

Rudi en Corlea oor Die Lieflinge se oornagsukses

In die Oktober 2010-uitgawe van SARIE gesels hierdie sterre soos Rudi & Corlea, die groep Overtone, Locnville en Justin Bieber oor hul oornagsukses.

Die name Rudi Claase en Corlea Botha is op almal se lippe. Albei hul CD’s, Ons lieflinge/Our darlings en Drome, het al platinumstatus bereik (verkope van 40 000). Hulle het pas by Skouspel opgetree en is vol bespreek tot einde April aanstaande jaar.

Hulle blaas nuwe lewe in gunstelinge soos “Seemeeu” van Anneli van Rooyen, maar sing ook oorspronklike liedjies wat Rudi geskryf het. Hoewel hulle as sangpaar oornag bekend geword het, het hulle hul “skoolgeld betaal”, vertel Rudi.

“Ons het hard gewerk om te kom waar ons vandag is. Ek en Corlea het aan die een talentkompetisie na die ander deelgeneem. Kyk, gesing het ons gesing!”

Rudi het geweet hul eerste musiekvideo, wat hulle verlede jaar Julie uitgereik het, moes een van hul eie liedjies wees omdat hulle vir aanhangers wou wys hulle sing ook oorspronklike liedjies.

Ná dié video, “As ek sing”, het Rudi en Corlea vlam gevat. Dié duet-paar ken mekaar al 13 jaar. Hulle het by tye kontak verloor, maar twee jaar gelede weer saamgekuier toe Corlea Rudi genader het om vir haar ‘n paar liedjies te skryf omdat sy ‘n solo-CD wou uitbring. (Kunstenaars soos Juanita du Plessis, Rina Hugo en Arno Jordaan sing van Rudi se liedjies en hy het die afgelope vyf jaar al meer as 400 geskryf.)

Dié aand, oor pizza, het hulle sommer vir die grap “Liefling” van Gé Korsten begin sing. “Ons stemme het saam goed gewerk en ons het besef ons deel ‘n liefde vir dieselfde soort musiek. Ek het toe die idee gekry dat ons saam moet sing. Ek het net ‘n gevoel gehad dit gaan werk,” vertel Rudi.

Wat toe gebeur het Dié twee sterre het klaar hul eerste toekennings op hul kerfstok: twee Huisgenoot Tempo-pryse vir die gewildste nuweling en die gewildste kontemporêre album. Rudi en Corlea het Ons lieflinge/Our darlings as die naam vir hul eerste CD gekies, omdat die kunstenaars wie se liedjies hulle sing húl lieflinge van musiek is. En deesdae is hulle dan ook danksy hul aanhangers bekend as “Die Lieflinge”.

“Dit was nie my bedoeling nie, maar dis endearing,” sê Rudi. Hy glo hulle is so gewild omdat hulle eg is.

“Ons is lief vir die soort musiek wat ons sing en passievol daaroor. Ons het regtig nie gedink dit gaan so ‘n groot sukses wees nie.”

Die toekoms Rudi en Corlea is aan’t toer – hulle is vol bespreek tot einde April aanstaande jaar. Hul eerste DVD, Ons Lieflinge / Our Darlings In Konsert, is pas uitgereik. Bestel joune by Kalahari.net

“Ek hou daarvan om ver vooruit te werk. Ek dink reeds aan ons volgende CD, al sal dit tien teen een eers volgende September uitgereik word. Intussen het ek en Corlea baie pret.”

  • M Kruger

    Dit is die beste afrikaanse musiek wat ek nog gehoor het. Dankie Rudi jy is ‘n engel

  • bxjmadjlah

    QYhdM3 yeoyvjmbtnyl, [url=http://jjqtyrxvukaz.com/]jjqtyrxvukaz[/url], [link=http://rtqhrwexqarw.com/]rtqhrwexqarw[/link], http://qlyuumoaqvez.com/