Ons praat met

Ryk (en lekker) – “Ek’s g’n glamour boy”

Ryk Neethling luister na sy ma en ek vryf hom verkeerd op. Ná herhaalde pogings om ’n datum vas te knoop vir ons onderhoud, waartoe hy reeds ingestem het, los ek ’n boodskap op sy ma se selfoon.

“Help! Ryk gaan oor twee dae oorsee en ons móét nou gesels.” Skaars ’n halfuur later bel Ryk, goed beduiweld. “Jy bel my ma’le! Ek sóú jou nog gebel het!”

Ons kry mekaar die volgende dag by Tuks se High Performance Centre, waar Ryk die grootste deel van sy dag deurbring. Ingeval jy visioene van Ryk in ’n Speedo kry: Hy het al sy klere aan. ’n Kortbroek wat jou ’n goeie blik van dáái kuite gee. ’n Hemp wat gemaklik om dáái skouers span. Bruingebrand en kaalvoet. Omdie prentjie af te rond: Rafa, sy swart Labrador. ’n Klein, goue selfoontjie wat amper permanent in sy hande is. En ’n sonbril nes Brad Pitt s’n.

Ten spyte van sy informele voorkoms is hy die ene saaklikheid. Ons sit skaars by ’n tafeltjie reg langs die swembad, of hy laat hoor: “Laat ons begin. Eerste vraag?” Hy kyk op so ’n halwe skewe manier met sy geelgroen oë na jou. (Het ek gesê dis omraam deur pikswart wimpers?)

Ryk is soos ’n ronde, gladde klippie. Sonder enige groefies waar jy ordentlik vatplek kan kry. Daar is sy perfekte voorkoms. Van sy songestreepte kroontjie (tydens die onderhoud amper poenskop geskeer), tot by sy nommer 13½-trappers. (Kom ons los die klipharde biseps, triseps en sixpack, dit sal net jou aandag laat dwaal).

Maar Ryk waak ook sku oor wat in sy binneste aangaan. San-Marié, sy ma, verklap iets in dié verband as sy sê: “Ryk is baie terughoudend. Hy sal eerder luister as praat. Die afgelope twee of wat jaar voel dit vir hom of hy aanmekaar net oor homself moet praat. Hy kan nie meer net gewoonweg aan ’n geselskap deelneem nie. En dis heeltyd dieselfde vrae – dit voel al of hy afgesaagde rympies opsê.” Klink of die man ’n bietjie vuisvoos van al die aandag is.

Hoekom beantwoord jy nooit jou selfoon nie, Ryk? “Mense besef nie: Ek is ses uur van die dag in die swembad. Hulle bel net nie op die regte tyd nie. En ek luister nie gereeld na my boodskappe nie, ek kry so baie. Dis anders met ’n SMS, ek beantwoord dit dadelik.”

Hoe ook al, hier sit ons uiteindelik met die reuk van swembadchloor in ons neuse. Dis asof Ryk hom nie eens vir dié kort rukkie van die water kan losskeur nie.

 

Droom groot. As jy eerlik met jouself is en dit regtig wil bereik, sal niks in jou pad staan nie.

 

Al die ure in die water. Is dit nie vreeslik vervelig nie?
“Mm . . . mmm. Ek konsentreer net op die volgende beweging . . . en die volgende beweging . . . Jy dink net aan perfeksie en druk jouself, die hele tyd.”

Hy het nog altyd dié ding met water gehad. Kleintyd al vreesloos die see of swembad ingeduik. Hy kon nog nie swem nie, toe wou hy net water toe. Op ses het dit tot ’n amperse tragedie gelei toe hy byna verdrink het. En hy het swemlesse begin neem. Die eerste treetjies na Olimpiese roem.

Maar die amper-verdrink-ervaring het ook die grondslag gelê vir nog ’n doelwit: Die Ryk Neethling-swemskool. Die eerste een open vanjaar in Johannesburg. Ryk wil hom nie tot ’n datum verbind nie – sy volle fokus is nou op die Wêreldswemkampioenskap in Maart in Melbourne, Australië (17 Maart tot 1 April). Daar is ook planne vir swemskole in Durban, Bloemfontein, Kaapstad en Pretoria. Dis allermins op Olimpiese swemmers-in-wording gemik, maar juis vir mense wat nie kan swem nie.

“Jy hoor gedurig van mense wat verdrink. Dis sad. Swem is ’n lewensvaardigheid. Dit het my baie geleer: Deursettingsvermoë, motivering, om nooit tou op te gooi nie . . . ”

Al dié dinge is nodig om op wêreldvlak te presteer. Ook fokus, dissipline, roetine . . . Dis ligjare verwyder van Ryk die Cosmopolitan-Adam, die gesig vir ’n velsorgreeks vir mans en in 2005 die tydskrif Heat se glanspersoon van die jaar. Tog is hy klaarblyklik tuis in albei wêrelde.

“Dis nice en ek het hard gewerk om daar te kom. Maar ek oefen ure elke dag en dan verwag mense boonop dat ek ’n glamour boy moet wees. Wat ek nie regtig is nie. (Stilte). Dit voel ook nie soos glamour nie, dis maar net iets wat ek doen.”

Is dit lekker om deel te wees van die jong, mooi, hip groep?
“Nee, nee, daai deel . . . die mooi, hip groep, dit beteken vir my niks.”

Komaan, Ryk!
“Ek is ’n bietjie ontnugter met daai soort scene. Dis vir my belangriker om mense te ontmoet wat talent het en dit gebruik. Wat ’n passie het vir wat hulle doen en ’n verskil wil maak. Mense wat net lewe om uit te gaan en mooi te lyk, beteken vir my niks. Ek wil meer doen as mooi op Jenna Clifford-advertensies lyk.

Jy lyk besonder goed in die advertensies, ja. Jy was haar inspirasie vir ’n nuwe reeks juwele . . .
Sy het my eendag gebel. Ek was bietjie naïef en het nie juis geweet wie sy is nie. Maar sy het aanhou praat en gesê sy het ook geswem- tot op provinsiale vlak uitgeblink – en dat baie van haar deursettingsvermoë daarvandaan kom.”

Julle het gekliek ?
“Jaaa . . . dis nie net ’n borgskap nie, maar ’n gesamentlike onderneming. Die reeks is hopelik só suksesvol dat ons oorsee kan uitbrei.” Hy het ’n ring en armband uit die reeks wat hy dra wanneer hy uitgaan. Voorheen was juwele nie belangrik nie.

 

Ryk is baie terughoudend. Hy sal eerder luister as praat – Ryk se ma, San-Marié

Terwyl hy in Amerika gestudeer en gewerk (en geswem!) het, het hy wel ’n goue ring met die Olimpiese embleem gedra. ’n Geskenk van sy ouers voor hy oorsee gegaan het. Goud op die Olimpiese Spele was sy droom vandat hy tien jaar oud was. Hy het toe reeds Suid-Afrikaanse rekords laat spat. En sy ouers het hom heelpad aangemoedig. Mense het gesê hulle druk hom te hard, dat hy gaan uitbrand. Maar niemand kon Ryk harder druk as hyself nie, sê San-Marié.

“Hy en water was nog altyd één. As hy siek was en nie kon swem nie, het hy skoon onttrekkingsimptome gekry. Hy was rusteloos en half ongemaklik in sy eie lyf.”

By die Olimpiese Spele in 2004 was hy lid van die vryslagaflospan wat ’n goue medalje losgeswem het. En by die Olimpiese Spele aanstaande jaar in Beijing wil hy op sy eentjie een wen. Nie sleg vir ’n outjie van Bloemfontein, ’n stad wat ’n mens nou nie juis voorheen met swemmers van wêreldformaat verbind het nie.

Vir sy gesin is hy nog maar dieselfde Rykie, soos hulle hom noem. San-Marié sê al het hy nou roem en geld, lewe hy steeds soos toe hy ’n sukkelende student in Amerika was. Hy gee steeds nie eintlik geld uit nie. “Daar is net ’n bank en TV in sy huis in Pretoria! Sulke goed pla hom nie.”

Ryk, wat is jou raad aan ’n kind met ’n droom – of dit nou Olimpiese roem is of om maan toe te gaan?
“Droom groot. As jy eerlik met jouself is en dit regtig wil bereik, sal niks in jou pad staan nie. Maar as jy ander mense se droom probeer uitlewe, gaan jy dit nie maak nie. My droom was om te swem. En ek het in my hart geweet ek sál bo uitkom. Uiteindelik.”

Wat van talent?
“Met ’n bietjie talent en baie harde werk, kan jy steeds jou droom bewaarheid. In Amerika is ’n sê-ding: Hard work beats talent when talent doesn’t work hard.”

Hy is uitgesproke Trots Suid-Afrikaans en ambassadeur vir die Homecoming Revolution, ’n organisasie wat uitgewekenes wil teruglok. Tog het hy al self onder misdaad deurgeloop, daar is twee keer by sy huis ingebreek. Wonder hy soms of ons die wa deur die drif gaan trek, hier aan die suidpunt van Afrika?

“Ek het al meermale onder misdaad deurgeloop, dit was net nie in die koerante nie. Ja, ek wonder baie. Ek wonder baie en, jy weet, hoop en bid maar. Ek dink almal in die land wens daar is iets wat hy of sy kan doen. ’n Ou kyk so half smekend na pres. Thabo Mbeki: ‘Help ons.’ Maar daar kom klaarblyklik geen hulp van hom en sy kabinet af nie. Daar is egter ook ongelooflike potensiaal in ons land. En ek het nog baie hoop, dis hoekom ek nog hier is.”

Ryk wil in 2009 uittree. En die toekoms se arms is verwelkomend uitgestrek. Wie weet wat met die Jenna Clifford-juwelereeks gaan gebeur? Daar is ook die swemskole. Dan wil hy in 2010 op die een of ander manier by die Wêreldsokkerbeker betrokke raak – en help.

“My fokus is egter nou op die Olimpiese Spele in Beijing. En dan . . . daar is nie ’n tekort aan geleenthede nie. Kommersiële eiendomme is my passie. Ek het ’n hele paar sulke beleggings.” Oor twee dae vertrek hy na Amerika, waar hy hom weg van die kollig vir die Wêreldswemkampioenskap gaan voorberei. Dan is dit net hy en sy getroue bondgenoot – die water.