sr1203beyers01
Ons praat met

SA aktrise: Die lewe begin op 50

Ek hoop…

mense gaan lekker lag en hulself herken in Ou Blare. Almal, vroue en mans, sal aanklank vind daarby. Dis ’n slice of life. Drie jare lange vriendinne – gespeel deur myself, Elsabé Daneel en Joanie Combrink – kom bymekaar en herlaai. Dis snaaks, want dis so eg.

dat ek nog lank so kreatief sal kan werk en omring sal wees deur kreatiewe mense. Ek het glad nie vyfjaarplanne nie, die kere dat ek doelbewus beplan het, het dit glad nie uitgewerk nie…

Ek het geleer om net te chill, dan gebeur die dinge.

dat my kinders elkeen daardie kol in die wêreld sal vind wat vir hulle bedoel is en woeker met wat hulle het. Dis so belangrik om ’n passie te hê, daardie iets wat die lig in jou oë aanskakel. Yvonne is die redakteur van By (naweekbylae in die koerante Beeld, Die Burger en Volksblad), André werk by ’n advertensiemaatskappy in Engeland en Pietie het pas sy honneursgraad in drama gekry.

om nog in baie komiese rolle te speel. Ek was soveel jare in tragedies, ek geniet rolle soos Ansie nou in Erfsondes.

Ek is bang . . .

vir die gevoel van eensaamheid. Dis nie ’n lekker ding nie. Ek het dit ervaar met my egskeiding tien jaar gelede.

dat my ou hond, Emma, ’n golden retriever, te oud word en dalk sal moet gaan. Sy is tien jaar oud en het artritis. Ek is baie mal oor my twee honde. Die ander een is Teddy, ’n yorkie.

vir nuwe tegnologie. Ek vrees dit. Ek het dit alles, ja, ’n vriend moes my byna aan die hand lei, maar ek het dit nou en gebruik dit met groot wrewel.

Wat ek geleer het

Die lewe begin op 50. Dis vir my so ’n lekker tyd van my lewe. Dis swaar as jy besef jou rol as ma en vrou is op ’n einde, maar as die aanpassing eers verby is, is dit net lekker. Kinders kom terug as vriende en bring hul vriende. Ek besef ek is baie bevoorreg. Dis maar ’n kombinasie van geluk en gesondheid, goeie vriende en betrokkenheid by die lewe. Dis genade.

Ek is ’n spontane, emosionele, intuïtiewe ekstrovert. Dit het my jare geneem om myself te verstaan en te aanvaar. Ek het baie in myself getwyfel, want ander mense is dan so en so. Maar nou is ek doodgelukkig met wie ek is. As derde kind, met twee boeties wat altyd beter weet, twyfel jy ook in jouself. Daar’s altyd iemand wat sê: Jy moet . . . Maar nou voel ek: Ek moet niks. Dis vir my lekker om in die tweede fase van my lewe minder bang te wees en meer te speel, meer pret te hê.

Verhoogwerk is netjies, met ’n begin, middel en einde. Die lewe is nie só nie. As jy op die verhoog by die teks bly, kan daar nie te veel verkeerd gaan nie, maar die lewe loop sy eie draaie.

Ek is verslaaf aan lees, veral goed geskrewe biografieë, hoewel ek motiveringsboeke ’n bietjie vermy. Ek glo elkeen se pad is uniek. En “if the pupil is ready, the teacher appears”. Ek kan nie nou ’n boek optel met sewe maniere hoe om te leef nie, dit werk nie vir my nie.

Ek probeer konflik vermy. Ek is sleg daarmee.

Ek sê altyd ek wil nie na honderd verskillende mense se etes en partytjies toe gaan nie. Ek wil al my tyd saam met ’n paar mense bestee; my intieme kring wat ek altyd om my wil hê – my kinders en naby vriende. Ek het mense nodig, maar ek is nie die “hallo hoeganit”-soort nie; ek hou nie van daai oppervlakkige, vals geselsies nie, dan raak ek sommer haastig.

My kinders is na aan my hart. Karel Schoeman stel dit so mooi in sy Die Laaste Afrikaanse Boek. Dit kom daarop neer dat jy nie iets moet vasklem nie, maar dit ook nie uit jou hand moet laat val nie – jy hou jou hand liggies oop. Ek het dit gelees toe dit vir my verskriklik nodig was om dit te hoor.

My ma het altyd gesê ’n mens is soos ’n klip, die lewe slyp jou, net jammer dat jy later op is. Ek word geslyp, elke dag, ek het my oorgegee aan die proses, dis lekker om ouer te word.

Niks is vanselfsprekend nie. Alles kan verander.

My ma was ’n tonic, baie lewensbly en vol gesegdes. Sy is jonk dood, op 54. Albei my ouers is kort ná my troue oorlede. Dit was ’n groot gemis, ook vir my kinders, wat hulle nooit geken het nie. Maar hulle het grootgeword in ouma se idioom, almal aard ’n bietjie na haar. As ek so na my ouers se wittebroodfoto’s kyk, voel ek hulle verwag van my om voluit te leef.

Daar is niks wat jou so oud en moeg maak soos wanneer jy iemand anders se lewe lei nie. Jy skep jou werklikheid met die bestanddele wat jy het. Dis jóú koek, jy hoef nie alles reg te doen nie. Dis ’n baie bevrydende wete. In Ou Blare kom dit ook na vore: Al is jou resep nie perfek nie, dis jou resep en dis goed genoeg.