Ons praat met

SA aktrise vertel van die besige leefstyl in LA

Ons het haar leer ken op ons televisieskerms as Doreen, die Weskus-girl in Egoli, maar vinnig het Marguerite Wheatley se loopbaan gegroei. Nou woon sy in glansryke Los Angeles.

Marguerite Wheatley is ’n sepiester, televisie-aanbieder én aktrise in films soos Bakgat en Poena is Koning. En in 2009 het sy haar eerste rol in ’n internasionale rolprent gekry. Marguerite het Francois Pienaar (Matt Damon) se vrou gespeel in Invictus, ’n biografiese film oor die Rugby Wêreldbeker van 1995.

Sy was vir twee jaar in Frankryk voordat sy in Augustus verlede jaar Amerika toe getrek het – en hier sit sy ook nie stil nie! Sy was op die paneel van die Screen Actors Guild Awards wat gestem het vir die wenners van dié gesogte toekennings. Sy het ook al ’n aanbod gekry om in ’n werklikheidsreeks te speel.

Waar woon jy in Los Angeles?
Ek bly baie naby die see in ‘n area net langsaan Santa Monica. Ek bly naby Frank Rautenbach (Faith Like Potatoes, Hansie en Bang Bang Club) en sy vrou Leigh. Ons kuier elke dag saam. Hulle is my familie daar!

Het jy nog kontak met die medespelers en span van Invictus?
Ja, gereeld! Ons reël etes om in kontak te bly, want almal in LA se leefstyl is bitter besig en vinnig.

Verlede jaar het Clint Eastwood (hy was die regisseur van Invictus) my genooi om op die stel van sy nuutste film, Trouble with the Curve, te kuier wat hulle in Atlanta geskiet het. Dit was lekker om net weer te touch base met hom. Hy het my al baie gehelp in LA.

Wil jy weer terugkom Suid-Afrika toe?
Ek sal verseker terugkom Suid-Afrika toe! Ek het ‘n ongelooflike pad Amerika toe gekry met die hulp van Liewe Jesus. Dit was al die pad up and down, maar dit was ’n duidelike pad en reis waarop Hy wou gehad het ek moes gaan.

Jy dink jy gaan vir een rede Amerika toe: my loopbaan, maar toe ek in LA aankom, het Frank en Leigh my voorgestel aan Vintage Church West LA. Dit het my lewe onherroeplik verander. Ons is ’n groep ongelooflike kreatiewe en suksesvolle mense … ware hipsters! My eerste en grootste vreugde is om in dié gemeenskap te dien.

Marguerite WheatleyMarguerite Wheatley

Aan watter projekte het jy al gewerk of gaan jy werk?
LA is rof. Rowwer as wat enige iemand kan dink – daar is ongeveer 190 000 akteurs en net 21 000 werke. Dit beteken 169 000 akteurs is werkloos. Dit is ’n dog eat dog-stad … wat eintlik snaaks is, want al wat ek nog tot dusver ervaar het is liefde, gemeenskap en dankbaarheid, want ek het my wortels in die regte plek geplant.

Jy moet sterker wees as wat jy gedink het en jy moet aan jou kuns werk, soos ’n atleet wat fiks moet bly. Projekte kom en gaan, soms val dit deur die mat. Jy word keer op keer op keer in die steek gelaat en teleurgestel. Dit kan jou knak …

Ek het sopas klaar gefilm aan a pilot vir ’n nuwe komediereeks, The Awesome And Chris Show. Ek weet nie wat my toekoms gaan inhou nie, maar ek weet dit gaan ‘n ongelooflike ervaring wees!

Waarna verlang jy die meeste? En hoe oorkom jy dié verlange?
Ek verlang meestal na Yzerfontein se strand, die wind en my broer-hulle se honde … En my ouers natuurlik! Ek is bang ek mis uit op goed, soos my broer se dogtertjie se kinderjare. Mens kan ongelukkig nie jou verlange oorkom nie. Soms as die verlange te erg raak, herinner ek myself waarom ek daar is. My “kerk-familie” in LA help ook baie.

Wat is die eerste ding wat jy gedoen het toe jy in SA aangekom het?
Ek het op my bed gaan lê en geslaap dat dit bars! Die laaste paar maande in LA was net go go go. Ek het net een dag ’n maand af gehad en die res van die tyd gewerk dat ek hop. Dit het vir maande so gegaan… En neem aan dit is maar hoe dit gaan wees.

Verder gaan draf ek op die strand, lê saam met my ma op haar bed, drink tee en lag oor skooldae se ditjies en daaitjies. En verder lees ek baie boeke, omdat ek nou die tyd het.

Marguerite WheatleyMarguerite Wheatley

Hoe verskil jou Amerikaanse leefstyl van jou Suid-Afrikaanse een?
Niks kon my ooit voorberei op hóé besig dit daar is nie. In Frankryk beteken “werk” iets anders as hier! Dit beteken eintlik meer vakansie hou. Plus ek is ‘n Kapenaar, ons rus graag en ry nie sommer in verkeer nie. Amerikaners kry twee weke vakansie per jaar – dis niks! En die meeste van hulle werk op publieke vakansiedae.

In Amerika moet jy die beste van die beste wees – en nie bang wees om dit te sê nie. Dít maak my baie ongemaklik, want ons word nie so groot gemaak nie.

En alles werk op krediet – jy kan nie ’n woonstel huur, kar koop of selfoonkontrak kry as jy nie krediet het nie. So toe ek daar kom was ek weer soos ’n tiener wat net met skool klaargemaak het, omdat ek geen krediet gehad het nie. En dit vat lank om goeie kredietwaardigheid op te bou. Aan die begin moes ek mense se huise skoonmaak, Pilates- en aërobiese klasse gee, ek werk steeds as ’n assistent vir ’n film vervaardiger. Al hierdie werke het ek soms op een dag gedoen.

Ek studeer op die oomblik om ’n diere verpleegster en ’n gedragskenner van honde te word. Ek hoop om teen Junie vanjaar dié kursus te voltooi. Ek het reeds so twee maande gelede vir ’n veearts in LA begin werk wat diere by mense se huise versorg. Ek is die verpleër en tegnikus saam met hom. Baie van die kliënte is baie bekend, soos Will Smith. Ander is mense wat sukkel om hul diere na die veearts te bring, soos ouer mense.

Ek is mal daaroor! My baas gee my ook genoeg vryheid om steeds aan my akteursloopbaan te werk. Ek is baie geseënd. Ons is ook al baie gevra om ’n werklikheidsreeds te maak omdat ons ook saam met Cesar Millan (aanbieder van die televisiereeks, Dog Whisperer with Cesar Millan) werk. Maar elke Tom, Dick en Harry het ’n werklikheidsreeks in Hollywood, so ons wag vir iets nuut en kreatief.

Wat dink jy van die Suid-Afrikaanse film-bedryf op die oomblik?
Omdat ek so lank in Frankryk gewoon het, was ek vir ’n hele ruk afgesny van die Suid-Afrikaanse of Amerikaanse bedryf. Frankryk is nie internasionaal so gretig nie – dis of Frans of niks.

Maar ek hoor wonderlike goed van die Afrikaanse filmbedryf en is baie opgewonde om eendag weer in SA te kom werk. Ons flieks is nou beter as ooit tevore en dit gaan net aanhou groei! Ek is baie trots daarop! Die talent in Suid-Afrika kook oor van entoesiasme en passie.