sterling_2
Ons praat met

Luister! Hulle wek elektrisiteit op

Suiwer silwer elektriese vonke net waar hulle gaan, Eskom kan hulle huur! Carina Bruwer op die elektriese fluit (sy’s ook marathonswemmer), Eriel Huang en Magdalene Minnaar op elektriese viool en Ariella Caira op elektriese tjello. En saam is hulle Sterling Electric Quartet – wat al die woestynsand in Doebai laat kook het saam met niemand minder nie as Boney M. Deur Marguerite van Wyk.

Sterling EQ gaan van krag tot krag. Onlangs het julle die Nuweland-krieketstadion geskud met die opening van die IPL Kriekettoernooi in Kaapstad. Julle het in Mei ‘n draai gemaak in Doebai tydens die Middle East World Travel Awards en saam met Boney M opgetree. Hoe was dit en waarheen verder?
Carina: Ons optrede saam met Boney M was ‘n hoogtepunt. Die energie op die verhoog was aansteeklik en ons het almal vreeslik baie pret gehad. Ná die optrede het ons ook lekker saam gedans en uitgehang. Op die oomblik tree ons maar soveel moontlik op in Suid-Afrika om ons nuwe album, Nova, te bemark. Daar is `n paar moontlikhede om in onder meer in Portugal, Indië en Bahrein op te tree.

Julle het almal `n stewige klassieke agtergrond en speel `n kombinasie van klassieke en kontemporêre musiek, baie in die styl van Vanessa Mae. Hoekom werk dié resep?

Ariella: Deur dié twee style te kombineer skep ons `n nuwe, lewendige klank, maar ons spreek ook `n wyer gehoor aan. Klassieke gehore geniet `nuutskeppings’ van tradisionele komposisies en mense kan ook die vars klank van crossover musiek só waardeer. Die klassieke musiek wat ons speel, is baie virtuoos en die skares is mál daaroor. Die kontemporêre klanke gee vir ons, as klassieke kunstenaars, die kans om nuwe vaardighede te ontgin. Só beweeg ons saam met die tye.

Hoekom werk die kombinasie van instrmente so goed saam?
`n Mens sal `n viola in plaas van `n fluit in `n tradisionele strykkwartet verwag. So die fluit dra by tot `n opwindende klank-element. En dis elektronies, so die silwer voorkoms van die fluit lyk mooi en die klank is ongelooflik uniek.

Wie is jul gunsteling-komponiste?
Carina: Ek is lief vir enigiets van Barokmusiek soos Vivaldi tot Chic Corea. Ek is nogal `n sucker vir melodie en ritme.
Eriel: Ek is mal oor Brahms, die tango-komponis Piazzolla en enigiets wat my aan die neurie kry en waarop ek my voete kan tik.
Magdalene: Ek luister na `n wye spektrum – van Barok tot elektronies tot eksperimenteel. My gunsteling-komponiste is Händel, Brahms, Debussy en Liszt, maar ek hou daarvan om Mozart en Donizetti te sing. Ek luister na house musiek as ek draf of wil dans en ek is mal oor kunstenaars soos Bjork, Radiohead en Imogen Heap.

Wie doen jul verwerkings?
Carina: Hoogs professionele vervaardigers: Gabi le Roux, wat ook bekend is vir die musiek wat hy vir Mandoza skryf en vervaardig, en Helmut Meijer, wat vir `n ruk vir Abbey Road Studios in Londen gewerk het en nou terug in Suid-Afrika is.

Die regte voorkoms is baie belangrik vir `n groep soos julle. Het julle `n voorkomskonsultant. En wat is die beeld wat julle op die verhoog wil hê?

Magdalene: Ons het al vantevore met stiliste gewerk op foto-sessies en vir TV-onderhoude, maar ons verkies om ons eie stilering te doen. Ons werk natuurlik om die tema van silwer – die kleur van ons instrumente. Ons bou nou al `n hele groot garderobe op. Ons look is sexy, maar ook smaakvol.

Hoekom verkies julle die klank van die elektriese instrumente bó tradisionele klassieke instrumente?
Magdalene: Dis baie makliker om in groot venues op te tree met versterking, en dit raak nogal ingewikkeld as jou instrument die hele tyd feedback gee en distort. En elektroniese instrumente is eenvoudig super-sexy!

Wat is die reaksie van klassieke musiek-puriste op die klank wat julle voortbring en hoe sou julle jul klank beskryf?

Eriel: Soos met alle musiek is sommige mense mal daaroor en sommige nie. Dis oukei. Ons gaan met als wat ons het uit om ons beste te lewer en om dit saam met die gehoor te geniet. Musici diskrimineer, musiek nie. Die klank wat ons voortbring, is cool, energiek, edgy, uniek. Daar’s geen manier wat `n mens ander mense gaan inspireer om te dans as jou musiek nie aansteeklik is nie!

Wat is jul grootste musiek-droom en hoe wil julle dit bereik?
Carina: `n Wêreldtoer. Ons al vier is mal oor reis en die feit dat ons musiek ons na eksotiese plekke neem, is fantasties. Omdat ons instrumentale musiek speel, kan enigiemand van enige nasionaliteit daarby aanklank vind en buitelanders reageer net so positief daarop as mense plaaslik. Dis dus `n realistiese droom. Ons sal net hard moet werk om die regte kontakte op te bou. Dit is egter belangrik dat ons soms musiekvideo’s uitbring aangesien dit nogal moeilik is om potensiële klënte daarsonder te beïndruk. Dís waaraan ons nou werk.

Hoe gereeld oefen julle en waaruit put julle inspirasie?
Eriel: Elke dag. Musiek is een van die moeilikste drome om te bereik. Ek word geïnspireer deur die natuur. En dit maak mens ook nederig. My mentor, Daisaku Ikeda, my onderwysers en ander musici en die klein dingetjies, laat mens glimlag. Musiek is `n inspirasie en dis `n voorreg. Dis `n gawe om `n musikant te wees.

Wie is jul teikenmark?
Carina: Dis moeilik om ons mark presies te definieer omdat dit oor so `n wye spektrum strek. Deurdat ons by so baie korporatiewe funksies optree, het ons regtig al vir mense van soveel verskillende agtergronde gespeel en ons vind werklik dat die meeste mense daarby aanklank vind, miskien juis omdat dit nie taalgebonde is nie. Ons aanhangers sluit van blue collar tot blue chip en als tussenin in. Ons vind dat die Afrikaanse mark ekstra positief is oor ons. Die Afrikaanse mark is ook pro-aktief met baie feeste en media-betrokkenheid by uitvoerende kunse en gevolglik spandeer ons ekstra aandag aan dié mark.

Vertel meer van jul debuut-CD, Nova
Ariella: Dit bevat 13 snitte met `n wye verskeidenheid genres. Van Barok tot klassiek, jazz en Afrika-musiek. Daar is goue gunstelinge soos melodieë uit Beethoven se 5de Simfonie en Bach se Toccata en Fuga.

Wat spoor julle telkens aan om nuwe hoogtes te bereik?
Eriel: Die terugvoer wat ons van luisteraars kry, is ongelooflik. En die energie van die musiek en die wil om deur te druk.

Daar is sekerlik baie opofferings wat julle moet maak in jul persoonlike lewens ter wille van Sterling EQ?
Ariella: Naas Sterling EQ het ons almal individuele lewens, gesinne, stokperdjies. Omdat ons musiekskedules dikwels so onvoorspelbaar is (dikwels vlieg ons vreemde tye van die nag rond en tree laataand op!). Maar as jy deel van die groep wil wees, moet jy gereed wees daarvoor en goed lyk. Ondanks `n seer elmboog, seer keel. Jy moet `n spanspeler wees, dikwels lang ure by die lughawe sit of dalk by venues optree waar geriewe nie na wense is nie. Maar dis tog lekker om te reis, die gehoor se erkentlikheid is wonderlik, en die ervaring van elke show herinnner ons waarom ons dié keuse vír Sterling EQ gemaak het. Ons het geleer hoe om dinge in ons lewe te prioretiseer en hoe om balans en humor in elke situasie te vind. Soms moet mens net terugsit en diep asemhaal.

Hoe maak julle met die senuwees voor optredes?

Carina: Ek sorg dat ek `n goeie paar kilometers geswem het voor `n optrede, dit neem die edge af.
Eriel: Ek kry nie verhoogangs nie, net `n rou energie. Ek chant. Dit fokus my energie voor ek op die verhoog gaan.

Besoek ook die Sterling Electric Quartet-webtuiste