Ons praat met

SA model Katryn Kruger vir eers terug in SA

SA model Katryn Kruger is gróót in die modewêreld. Sy was al vir gewilde modehuise soos Givenchy en Valentino op die loopplank én het in advertensieveldtogte vir Dior, Prada en Louis Vuitton verskyn. Maar die een ding waarna sy in 2014 die meeste uitsien, is om haar skoolloopbaan klaar te maak! Sy gesels met SARIE.com oor haar toekomsplanne en kyk terug op die hoogtepunte van 2013. 

Katryn het 2013 ’n bietjie rustiger gevat om op haar skoolwerk te konsentreer, maar sy het tussendeur steeds modelwerk gedoen. Dit het ook beteken dat sy haar kêrel, Cilliers Kies, wat in 2013 as mediese dokter gekwalifiseer het, meer kon sien. Sy voltooi haar internasionale “matriek” deur korrespondensie en het tutors om haar touwys te maak.

Katryn is een van Afrika se top-15 modelle – lees meer hier

FOTO: Ulrich Knoblauch; HARE: Mary van Supernova; GRIMERING: Algria

FOTO: Ulrich Knoblauch; HARE: Mary van Supernova; GRIMERING: Algria

Katryn se modelloopbaan het harde werk geverg

Het jy die modebedryf baie gemis?

Ek het die jaar baie geniet, maar natuurlik het ek soms na die malligheid van modelwerk verlang. Ek is baie dankbaar dat my studies my hooffokus kon wees.

Ek voel ook meer in beheer noudat ek self kan kies om verder te studeer, eerder as wat agente vir my sê wat om te doen, waarheen om te vlieg, ens. Ek was ook so gelukkig om meer tyd saam met my naastes te spandeer – en dit sluit my twee worshonde in!

Wat was jou top-oomblikke in 2013?

  • Toe ek vir prins Harry ontmoet het (lees meer hier)
  • Die dag toe my kêrel, Cilliers, sy mediese graad gekry het. Ek is so trots op hom!
  • ’n Groot fotosessie vir ’n baie groot kliënt in Kaapstad (wie die kliënt is, wil sy nog nie verklap nie)

Wat wag op jou vir 2014?

Ek moet nog ’n paar vakke voltooi, maar ek doen intussen steeds plaaslike en internasionale modelwerk. Ná my finale eksamens sal ek eers nog modelwerk doen, maar ek sal vir seker universiteit toe gaan.

Mens bly mos nie vir altyd mooi en jonk nie, daarom moet ek ’n Plan B hê.

Ek weet nog nie wat ek gaan studeer nie, maar dit sal iets in tale of bemarking wees.

Jou liggaam moet altyd model-gereed wees. Wat is jou geheim?

Ek eet gesond, maar volg geen vaste dieet nie en ek oefen saam met ’n instrukteur by die gimnasium. Ek versorg my vel deur altyd sonskerm aan te sit en áltyd my grimering af te haal voordat ek gaan slaap.

Mis jy Suid-Afrika wanneer jy oorsee werk?

Natuurlik! Geen stad is so mooi soos Kaapstad nie, en geen kos so lekker soos my ma s’n nie! Ek mis my eie bed, eie mense en die gemaklikheid wat daarmee kom as jy by die huis woon. Maar dis natuurlik – almal verlang, maak nie saak hoe oud of hoe ver jy is nie.