terence_bray
Ons praat met

Charlene Wittstock se SA ontwerper gesels met sarie.com

Was dit lekker om ’n gas op die troue te wees en wat was vir jou die hoogtepunt van die geleentheid?
Dit was die waardevolste geleentheid van my lewe tot dusver. Elke liewe sekonde was fenomenaal. Dit was so goed beplan, en dit sal vir my onmoontlik wees om een hoogtepunt te kies. Behalwe dalk die voorreg wat dit vir my was om die moeder van die bruid se uitrustings te kon maak. Die oorweldigende warmte en eerlikheid van die hele geleentheid was iets wat my altyd sal bybly.

Hoe het jy gevoel toe jy Lynette Wittstock op die rooi tapyt sien met jóú ontwerp aan?
Ek was ongelooflik trots! Sy is ’n baie elegante vrou. Ek hoop ons het die bruid baie trots gemaak . . .

Wat was jou inspirasie vir Lynette se uitrustings?
Lynette self het my baie geїnspireer. Sy is so vol vreugde en lewe, so ek wou iets doen wat juis dit wys. Die mense moes die lig in haar raaksien, asook haar sagte, elegante en klassieke sy.

Het Lynette ’n sê gehad in die ontwerp van die rokke?
Sy het ’n groot rol gespeel in die hele proses en ons het baie pret gehad. Tog het sy my baie vertrou en daarvoor het ek ongelooflike waardering.

Het julle vrye teuels gehad of was daar ’n soort protokol?
By so ’n geleentheid is protokol vanselfsprekend deel van die proses. Ons het riglyne gekry van wat aanvaarbaar en gepas is, of selfs verwag word vir die verskillende geleenthede, maar ons kon in terme van kleur en materiaal doen wat ons wou. Ons het ons instink vertrou.

Hoe het jy besluit op die kleur van die rokke?
My kleur-inspirasie het ek van Monaco en die omgewing gekry. Ek was bevoorreg genoeg om baie tyd daar te bestee en die geskiedenis en omgewing was beslis inspirasie vir die kleur van Lynette se uitrustings.

Hoe lank voor die troue het jy begin om die rokke te maak?
Ons het in Februarie vanjaar begin beplan en ontwerp, en ’n maand voor die tyd het ons begin om alles te maak.

 

Wat het Charlene se rok vir die Durban-onthaal geїnspireer?
Dit was baie spesiale samewerking. Ek en sy het baie nou saamgewerk aan wat die rok moes simboliseer en wat sy met die uitrusting wou sê. Die rok het ‘n sterk verbintenis met waar sy vandaan kom, en dit wat die grondslag van haar persoonlikheid vorm. Dan is daar ook haar liefde vir Afrika-kralewerk en haar waardigheid as prinses. Sy wou graag haar verantwoordelikheid uitbeeld. En sy wou hê die rok moet ’n storie vertel met die aspekte van ’n prinses se persoonlikheid en prioriteite.

Hoe het jy oorspronklik die Wittstock-familie ontmoet?
Ek en Charlene is al lank vriende. Ek’t haar ouers en familie deur haar ontmoet.

Klik vir ‘n foto van een van Lynette Wittstock se uitrustings.

Vir nog Monaco-troufoto’s, klik op Charlene Wittstock se facebook-blad.