sr1301_hjg_5_
Ons praat met

SA orrellis speel vir Prinses Charlene

Dit was ’n ongelooflike voorreg om tydens die oggendmis op 25 November 2012 jaar dié orrel te speel. Ek was bewoë en voel geseënd. Die kerk is pragtig en die akoestiek wonderlik. Ná die diens het ek prinses Charlene en prins Albert by ’n geselligheid ontmoet. Prinses Charlene is lieflik en aangenaam. Alles het my oorweldig.

Ek het al op sewe begin klavier speel en op twaalf orrel. Ná matriek het ek B.Com. aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer, want ek was nog altyd mal oor syfers. Daar was nie meer so baie tyd vir musiek nie en ek het dit gemis. Toe het ek geweet, dis al wat ek wil doen, 24 uur per dag. Ek het ook my doktorsgraad in orrelmusiek aan die Universiteit van Pretoria onder prof.Wim Viljoen gekry.

Volgens Mozart is die pyp-orrel die koning van instrumente. Dit kan vreeslik sag en vreeslik hard speel, en dis een van die veelsydigste instrumente. Elke orrel klink anders en dís opwindend. My gunsteling-komponis is Bach. En ek bewonder die Franse orrelis Marie-Claire Alain, reeds in haar tagtigs, vanweë haar uitsonderlike spel en omdat sy orrelspel núút en uitdagend aanpak.

Ek het reeds twee klassieke crossover-CD’s [klassieke musiek wat met moderne invloede vir meer mense toeganklik is], Highland Cathedral en Arena, uitgereik en werk aan ’n derde.

Van my groot drome? Om op die orrels in die Notre Dame-katedraal in Parys, die St.Thomas-kerk in Leipzig [waar Bach orrelis was] en die Mormoonse Tabernakel in Salt Lake City te speel. En om enige van die groot concerto’s wat vir orrel en orkes geskryf is, te speel.”